Tinus Esterhuizen: ‘Ek wou van kleins af uitsaai’

Tinus Esterhuizen (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Tinus Esterhuizen, ook bekend as Martin Lane, het amptelik in 1966 sy toetrede tot die radiobedryf gemaak, maar dié geliefde pianis het van kleins af geweet hy wou uitsaai en musiek maak.

Oor die jare heen het Esterhuizen onder sy verhoognaam drie langspeelplate, talle albums en verskeie ander kunstenaars se versamelalbums die lig laat sien. Hy het gedurende sy loopbaan, veral by Springbok Radio, saam met ikone soos Lance James, Esmé Euvrard, David Gresham, Min Shaw en Elwen Morris gewerk.

Esterhuizen se bydrae is die afgelope vyf dekades vir verskeie toekennings benoem. Dit sluit onder meer Ghoema- en Tempo-toekennings, asook eerbewyse deur die ATKV en die FAK in.

“Ek wou nog altyd ʼn uitsaaier wees”

‘n Babafoto van Tinus Esterhuizen (Foto verskaf)

Esterhuizen is op 5 Maart 1946 in Germiston gebore. Toe hy ongeveer vyf jaar oud was, het hulle Stilfontein toe verhuis en hy het sy skoolloopbaan by Laerskool President in Klerksdorp begin. ʼn Paar jaar later is sy pa verplaas waarna hulle gesin Lichtenburg toe verhuis het.

“Ek onthou dat ons in my standerd 8-jaar teruggetrek het Klerksdorp toe,” vertel Esterhuizen. “My pa het toe ʼn begrafnisondernemer in Carletonville geword.

“Ek het van kleins af geweet ek wil eendag in die radiobedryf werk,” erken Esterhuizen. Hy verduidelik dat sy musikaliteit van sy ma af kom en hy het in standerd 4 sy eerste musiekles geneem.

In 1965 het hy en sy boesemvriend, Jan Briel, na die Goudstad gereis in die hoop om hul radiodrome te verwesenlik. Albei was toe in matriek.

“Ons het die oggend in Carletonville op die trein geklim en na Johannesburg gereis om by die SAUK om werk aansoek te doen,” vertel Esterhuizen. “Ons is binne ʼn week as junior produksie-assistente aangestel en het toe op 3 Januarie vir R86 per maand daar begin werk.”

Esterhuizen het in die byklanke-afdeling gewerk en is deur Dennis Swart, Roelf van Jaarsveld en Hennie Maas opgelei.

“Deel van my plig was om wyle Fanus Rautenbach se “plategeneraal” vir Flink uit die vere te wees,” onthou Esterhuizen. “Ek moes snitte van die langspeelplate regstreeks op die lug speel.”

Tinus Esterhuizen werk as byklankoperateur by die SAUK (Foto verskaf)

Van Julie 1970 tot Junie 1971word hy verplig om sy diensplig op Youngsfield te doen. Kort ná sy terugkeer uit die weermag het Lance James hom genader om as musiekopsteller vir Springbok Radio te begin werk.

“Springbok Radio was ongetwyfeld die grootste dryfkrag om ʼn hit te maak in daardie dae,” onthou Esterhuizen. “Die platesmouse sal op ʼn Dinsdag met ʼn nuwe seven single aankom, en dan was dit in die volgende week op die Springbok Radio-treffersparade,” onthou hy.

“Ek het in 1977 die hoof van die SAUK se diskoteek geword,” vertel Esterhuizen. Hy het hier gewerk tot die einde van Springbok Radio se sluiting in Desember 1985.

Nadat Springbok Radio sy deure gesluit het, het Esterhuizen by Radio Allegro gewerk en hiér het sy opera- en klassiekemusiek-kennis uitgebrei.

Esterhuizen het einde Maart 2011 uitgetree en vertel dat hy nooit sy tyd by die SAUK sal vergeet nie. “Ek eindig my loopbaan op ʼn hoë noot. Musiek is my passie en ek sal die SAUK ewig dankbaar wees vir die geleenthede wat hulle my gebied het.”

Meer oor Martin Lane

‘n Foto van Tinus Esterhuizen se ouers (Foto verskaf)

Martin Lane, Esterhuizen se alter ego, is ʼn bekende pianis, orrelis en klawerbordkunstenaar.

“Ek het op 14 my eerste optrede as orrelis in Carletonville se NG kerk gelewer,” vertel Lane. Daarna het hy by hordes begrafnisse en troues, asook in sy hoërskool se orkes gespeel. Danksy die inkomste wat hy self gegenereer het, kon Lane musiek gaan studeer.

“Ek het vir R2,00 tot R2,50 by begrafnisse gespeel en vir R3,00 tot R3,50 by troues. Ek het só my geld verdien,” verduidelik hy. “Daar was nie destyds studiebeurse nie.”

Later jare het Lane ʼn klein orkes in die weermag gestig. In 1971 kry hy toe die geleentheid om by die Republiekfees te speel.

“Ek het ongeveer 1 200 troepe op die magtige orrel van die Groote Kerk in Kaapstad vir dié viering begelei,” onthou hy. Lane het in die Suid-Afrikaanse Weermag die rang van tweede luitenant bereik en hy was ʼn majoor in die Suid-Afrikaanse Burgermag. In die tyd van die Angolese oorlog het hy gereeld die troepe met sy klavierspel vermaak.

Lane het in sy loopbaan ʼn magdom kunstenaars begelei. Dit sluit onder andere Dana Winner, Kobus Muller, Helene Bester, Die Broers, Steve Hofmeyr en Lance James in.

“Ek het natuurlik duisende kerk-, begrafnis en trougangers ook begelei,” vertel hy. “Ek is geweldig lief vir die pyporrel en geniet dit altyd om daarop te speel.”

Lane se musiekkennis is alombekend en hy word vandag steeds vir sy kundigheid geraadpleeg.

Lane vertel dat hy opgehou het om te tel hoeveel versamelalbums hy al saamgestel het. “Ek vermoed dis ongeveer 200.”

Tydens sy roemryke loopbaan in die musiek- en uitsaaiwese het Lane ongeveer 69 goue en platinumtoekennings vir sy bydrae tot musiek ontvang. Hy was onder meer verantwoordelik vir die reëlings van 12 Sarie-toekenningsaande, onderskeie Artes-aande en die Samas, en het selfs ʼn paar skoonheidskompetisies beoordeel. Lane het sy verskyning in televisieprogramme soos DKNT, DKNT Gospel en Jukebox gemaak. Hy het ook in enkele Afrikaanse rolprente gespeel. “Ek het saam met Rina Hugo en die Drakensberg-seunskoor in Franz Marx se rolprent Susanna van Biljon verskyn.” Hy het ook ʼn kameeverskyning in Die spook van Uniondale gemaak.

Esterhuizen meen hy is eenvoudig van showbiz aanmekaargesit en hoewel hy afgetree het, is hy steeds ʼn bedrewe musikant wat nie sommer die tuig sal neerlê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Tinus is voorwaar ‘n talentvolle “showbiz” man en booonop ‘n plat op die aarde mens tipe mens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.