TV-aanbieder se debuut-radiodrama propvol bekendes

Foto: www.pixabay.com

Die joernalis en televisieaanbieder Sophia van Taak se bekroonde debuut-radiodrama word eerskomende Donderdag op RSG uitgesaai – en dié drama spog met ʼn hele rits bekende Afrikaanse akteurs.

Springgety – die titel van Van Taak se drama – vertel van Lena Dreyer; ʼn talentvolle haikoedigter en kopieskrywer wat ʼn moeilike pad met depressie en depressiewe gedagtes stap en dan eindelik besluit om haar lewenshoofstuk self tot ʼn einde te bring. Wat Lena egter verkeerd doen, is om nié haar nuwe buurman en sy sagte hart in berekening te bring wanneer sy haar planne vir die groot einde beraam nie.

Die radiodrama stel ondersoek in na depressie en vertel ook oor die soektog na heling deur middel van vriendskappe, kreatiwiteit en berading.

Springgety is vroeër geloof vir die “roerende gedigte” wat daarin verskyn en is bestempel as ʼn uitdagende teks wat aan die tragiese lewe van Ingrid Jonker herinner. Die radiodrama het verlede jaar die derde plek in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2017 behaal.

Akteurs soos Rolanda Marais, Roeline Daneel, Wessel Pretorius, Cintaine Schutte, Daneel van der Walt, Joanie Combrink en Susanne Beyers is in die stuk te hoor. Die regisseur is Ronél Geldenhuys.

Van Taak werk die afgelope vyf jaar as joernalis by die reistydskrif Weg!. Sy is ook mede-aanbieder van die VIA-televisieprogram Agterpaaie. Springgety word Donderdag (12 April) om 20:00 op RSG uitgesaai as deel van dié stasie se Radioteater-program.

Springgety word nie aanbeveel vir sensitiewe luisteraars nie en bevat taalgebruik wat kan aanstoot gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.