Van tekkies tot tiaras, só betower prinses Kate se modekeuses

Prinses Kate se groen skepping het die kollig gesteel. (Foto Daniel Leal/AFP)

Kate Middleton, oftewel prinses Catherine, die prinses van Wallis, het nes die wyle prinses Diana die vermoë om die kollig met haar modekeuses te steel, óf sy dit nou in tekkies en ʼn poniestert óf in ʼn treffende aandrok met sprankelende kopstukke doen.

Die donkerkop prinses, wat haar oorlede skoonma se titel met die afsterwe van koningin Elizabeth II verlede jaar geërf het, het veral gedurende Junie vir verskeie stylvolle oomblikke gesorg.

Kate nie meer bang vir helder kleure nie

Alle mode-oë was op die prinses se smaraggroen uitrusting tydens vanjaar se kleurryke vaandelparade ook bekend as die Trooping of the Colour.

Dié jaarlikse seremoniële geleentheid word as die amptelike verjaardag van die Britse soewerein gevier. Dit was koning Charles III se eerste parade as heersende monarg en Kate se eerste as die prinses van Wallis.

Die prinses is bekend daarvoor dat sy haar uitrustings gebruik om hulde aan geleenthede of persone te bring, en modekenners het daarop gewys dat haar groen pak en bykomende hoed ʼn moontlike huldeblyk aan prinses Diana was, wat in 1982 ook groen vir haar eerste vaandelparade as die prinses van Wallis gedra het.

Die prins en prinses van Wallis saam met hul drie kinders, prinse George en Louis en prinses Charlotte. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Ander meen haar keuse sinspeel op haar nuwe rol as beskermheer van die Ierse-wagte, ʼn eretitel wat onlangs deur koning Charles III aan haar gegee is.

Prinses Kate se groen rokjas is deur Andrew Gn, ʼn Singapoerse ontwerper, gemaak terwyl haar bypassende hoed ʼn skepping deur Philip Treacy is. Haar uitrusting is voltooi met saffier- en diamantoorbelle wat voorheen aan prinses Diana behoort het.

Vir vanjaar se Royal Ascot-perdewedren het die prinses effens afgewyk van haar gewone Ascot-modekeuses – wat dikwels wit of babablou was – en uitgestaan in ʼn helderrooi monochromatiese skepping.

Prins William en prinses Catherine, die prins en prinses van Wallis tydens vanjaar se Ascot-perdewedren. (Henry Nicholls/AFP)

Dít het bestaan ​​uit ‘n vloeiende rooi rok van Alexander McQueen – dieselfde handelsmerk wat haar trourok in 2011 ontwerp het  – bonkige oorbelle van die Parys-gebaseerde handelsmerk Sézane, ‘n wyerandhoed van Philip Treacy en helderrooi hakskoene.

Stylvol op die sportveld

Die stylvolle prinses het as beskermheer van beide die All England Club (AEC), wat die Wimbledon-tennistoernooi aanbied, én Engeland se rugby-unie haar hakskoene in Junie vir tekkies verruil.

Sy het deelgeneem aan ‘n netbalrugby-wedstryd by die Maidenhead-rugbyklub in Windsor voordat sy by die manspelers aangesluit het om oor vroeëkinderjare-ervarings en vaderskap te gesels as deel van haar Shape Us-veldtog vir vroeëkinderontwikkeling.

Prinses Kate het ʼn jogabroek en wit tekkies van die Amerikaanse handelsmerk, Lululemon, vir haar rugby-uitstappie gekies en haar kenmerkende donker lokke in ʼn poniestert-haarstel vasgemaak.

Haar rol as beskermheer van die Engelse Rugbyklub is een wat sy in 2021 by prins Harry, die hertog van Sussex, oorgeneem het nadat hy en sy vrou, Meghan, die hertogin van Sussex, as werkende koninklikes uitgetree het.

Sy het ook in aanloop tot vanjaar se Wimbledon-toernooi ʼn pot gespeel teen die tennisheld Rodger Federer, wat verlede jaar sy raket opgehang het.

Prinses Kate het ʼn modekishou met haar Stella McCartney vir Adidas rompbroek en moulose hemp toegedien en het voldoen aan Wimbledon se streng sportdragreëls wat slegs wit uitrustings toelaat.

Beeldmateriaal van dié vriendskaplike wedstryd is Sondag op Wimbledon se amptelike Instagram-rekening gedeel en het in 24 uur meer as 2 miljoen trefslae gekry. Kykers is klaarblyklik beïndruk gelaat deur prinses Kate, wat self ʼn kranige tennisspeler is, se vernuf op die baan.

Prinses Kate loop in Meghan Markle se skoene

Hoewel die twee koninklike skoonsusters nou op verskillende vastelande woon, het die prinses van Wallis en hertogin van Sussex tog met tye oorvleuelende modekeuses.

Prinses Kate het tydens haar onlangse besoek aan die National Portrait Gallery in Londen ʼn paar swart fluweelhakskoene van die handelsmerk Aquazzura gedra. Haar wit tweedbaadjie en geplooide wit romp deur die Londense handelsmerk, Self Portrait, is afgerond met ʼn Chanel-handsak.

Die Aquazzura-skoene, wat ʼn klein strikkie aan die agterkant het, was ʼn gunsteling van Meghan Markle. Die hertogin van Sussex het hulle gereeld na glansgeleenthede gedra gedurende haar tyd as ʼn werkende koninklike.

Prinses Kate was vir die eerste keer in hierdie spesifieke skoene te sien tydens koning Charles III se kroningsnaweek in Mei.

Bronne: People, Town and Country, The Daily Mail, Hello!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

kommentaar ·

En net so met min moeite wys Kate vir meghan hoe n mens so n skoen dra

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.