Verloof-, trouringe by dosyne vir bekendes in 2021

Bekendes het vanjaar tougestaan by juwelierswinkels en voor die kansel. Maroela Media het ʼn opsomming gemaak van al die bekendes wat vanjaar verloof geraak het of getroud is.

Boer kry ʼn vrou

Die liefde het opgevlam vir ʼn handjievol paartjies wat mekaar op die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou ontmoet het.

Willem en Sanel Pool op hulle troudag. (Foto: Instagram/Sanel Pool/Kilig Photo)

In Januarie vanjaar het Sanel Pool, wat intussen met die rooibosteeboer Willem Pool van Clanwilliam in die Wes-Kaap getroud is, aan Maroela Media gesê hulle trouplanne is “nog goed op dreef”.

Willem en Sanel, ʼn gr. R-onderwyseres op Leipoldtville, het in Mei vanjaar op Clanwilliam die jawoord gegee. Hulle is in die NG kerk op Clanwilliam getroud, waarna hulle ʼn onthaal op Willem se Ysterfontein-rooibosteeplaas gehou het.

Ilne en Wianco Blom op hulle troudag. (Foto: Instagram/Ilne Blom/Merlot Photography)

Ilne Prinsloo, een van die kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou se gewildste deelnemers, is in Januarie met Wianco Blom getroud.

Ilne het bekendheid verwerf toe sy boer Graham Lombard, ʼn melk-en-beesboer van Cradock in die Oos-Kaap, se hart op die werklikheidsprogram gewen het. Dié twee was een van die reeks se gewildste paartjies, maar het in Februarie verlede jaar bevestig hulle paadjies het geskei.

Cheréze en Niel van Boer soek ‘n vrou-faam op hulle verlowing. (Foto: Inecke Photography)

Niel Bruwer en Cheréze Maree het in Julie vanjaar aangekondig dat hy ʼn diamantring aan haar vinger gesteek het.

Niel, ʼn vrugteboer van Prins Alfred Hamlet in die Wes-Kaap, het die jawoord by die Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch gevra.

Niel en Cheréze het mekaar op dié landgoed ontmoet tydens die Boer soek ʼn vrou-blitsafsprake van die 13de seisoen waaraan hulle deelgeneem het.

Boer PF en Chantelle straal van geluk en liefde. (Foto: Werner Bentz Photography)

Boer PF en Chantelle Pretorius het in September verloof geraak. PF (30) van Laingsburg in die Wes-Kaap het dalk nie die top-5 van die 13de seisoen van dié reeks gehaal nie, maar Kupido se liefdespyl het hom behoorlik getref. Chantelle (28), ʼn voormalige Mej. Dowe SA en onderwyseres, het deur die program ʼn brief aan hom geskryf en die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

Boer Albert Smit en Chanté Kruger het op die rotse in Mosselbaai verloof geraak. (Foto: Sandre Barnard/Rooibos Photography)

Boer Albert Smit, ʼn rooibosteeboer van Clanwilliam, en Chanté Kruger (26), ʼn rekeningkundige van beroep, het in November op die rotse in Mosselbaai verloof geraak.

Dié twee het in Mei vanjaar hulle verhouding bekend gemaak met ʼn rits foto’s op Instagram. Chanté het Albert se topvyf gehaal van die vroue wat tydens die program die blitsafsprake bygewoon het, maar hy het haar nie gekies om plaas toe te gaan nie.

Dié twee het egter agterna weer kontak gemaak en begin kuier nadat Chanté van Pretoria na die Kaap verhuis het.

Troues

Pamela Anderson by die “Diner de la Mode” mode-ete ten bate van die Franse anti-vigs-organisasie Sidaction by die Pavillon d’Armenonville in Parys, Frankryk in 2019. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Pamela Anderson is in Desember vir die vyfde keer getroud. Dié nuus het eers in Januarie aan die lig gekom.

Volgens berigte is sy en haar lyfwag, Dan Hayhurst, op Oukersaand by haar huis op die Vancouver-eiland in Kanada in die eg verbind. Die egpaar het glo verlief geraak terwyl hulle saam in isolasie was weens die Covid-19-pandemie.

In Februarie verlede jaar het verskeie nuusbronne berig dat Anderson en die rolprentvervaardiger Jon Peters op 20 Januarie tydens ʼn privaat seremonie in Malibu, Kalifornië, in die VSA getroud is en dat hulle huweliksbootjie ná net 12 dae gesink het.

Shamodene en Juan Boucher. (Foto: Kreativ)

Juan en Shamodene Boucher het op 24 Maart vanjaar by die Kuthaba Bush Lodge op Modimolle (Nylstroom) trou aan mekaar beloof. Toe hulle gevra is wat hulle beloftes aan mekaar was op hulle spesiale dag, het Juan geantwoord: “Vandag trou ek met jou vir altyd, jy is my fondament en waarna my hart strewe.”

Hulle het ook bekend gemaak hulle verwag ʼn babadogtertjie, Novah, in Februarie volgende jaar.

Ariana Grande en Dalton Gomez is in Los Angeles by haar huis getroud. (Foto: Instagram/@photokohli)

Die sanger van “7 Rings”, die Amerikaanse popster Ariana Grande, is in Mei in haar huis in Los Angeles met Dalton Gomez, ʼn eiendomsmagnaat, getroud. Minder as 20 mense het die geleentheid bygewoon.

Grande (27) het verlede Desember haar verlowing met Gomez (25) aangekondig in ʼn inskrywing op Instagram. Dit het foto’s van die paartjie en haar diamant-en-pêrelring gehad, met die onderskrif “vir ewig en nog ʼn paar jaar”.

Die eerste foto van Britse premier, Boris Johnson, en sy vrou, Carrie, op hul troudag. (Foto: Twitter)

Die Britse premier, Boris Johnson, en sy verloofde, Carrie Symonds, is in Mei tydens ʼn “geheime seremonie” getroud.

Die premier se kantoor het dié nuus bevestig. “Die premier en me. Symonds is tydens ʼn intieme seremonie in die Westminster-katedraal getroud,” het ʼn woordvoerder van Downing Street gesê.

Johnson is maar die tweede Britse premier ooit om tydens sy termyn te trou en die eerste in byna twee eeue. Die laaste was Robert Jenkinson in 1822.

Johnson en Symonds is die ouers van ʼn seun, Wilfred, wat in 2020 gebore is, en ʼn dogter, wat op 9 Desember vanjaar gebore is.

Michael Lewis en Kitty Spencer is in Italië getroud. (Foto: German Larkin/Facebook)

Prinses Diana se broerskind, lady Kitty Eleanor Spencer, is in Julie getroud met die Suid-Afrikaanse miljardêr, Michael Lewis.

Kitty (30) en Michael (62), voorsitter van die Foschini-groep, is by die Villa Aldobrandini in Frascati, Italië, getroud.

Liesl Laurie-Nthombeni en Musa Nthombeni op hulle troudag. (Foto: Instagram/Liesl Laurie)

Liesl Laurie, voormalige Mej. Suid-Afrika en radio-omroeper op JacarandaFM, het in Junie verloof geraak.

Laurie (30), wat haar liefdeslewe grootliks privaat hou, het die nuus van haar verlowing op sosiale media gedeel.

“Ja,” het sy geskryf onder ʼn foto waar haar verloofde, dr. Musa Nthombeni, die groot vraag vra. Laurie was duidelik uiters verras deur die swart ringboksie wat Nthombeni te voorskyn gebring het.

Die paartjie is in September getroud.

Vin Diesel begelei vir Meadow Walker na die kansel op haar troue. (Foto: Instagram/Meadow Walker)

Meadow Walker, dogter van die ontslape akteur Paul Walker, is in Oktober in die Dominikaanse Republiek met die akteur Louis Thornton-Allan getroud.

Vin Diesel (54), Paul se jare lange vriend en medester in die The Fast and the Furious-flieks, waarin hy voor sy dood verskyn het, het vir Meadow na die kansel begelei.

Vin is ook Meadow se peetpa.

Adè van Heerden en Alex Forsyth-Thompson op hulle troudag. (Foto: Megan & I Photography/Instagram/Adè van Heerden)

Adè van Heerden, die voormalige Mej. Suid-Afrika wat in 2017 dié gesogte kroon gedra het, is op Vrydag 8 Oktober met Alex Forsyth-Thompson, ʼn finansiële ontleder van Johannesburg, by die Mdluli Safari Lodge in die Krugerwildtuin, Mpumalanga, in die huwelik bevestig.

Dié voormalige skoonheidskoningin en mediese dokter heet nou amptelik dr. Adè Forsyth-Thompson op haar Instagram-profiel.

Van Heerden het in Januarie vanjaar haar verlowing aan Forsyth-Thompson aangekondig. Hulle was ʼn geruime tyd in ʼn verhouding voordat hy by die Emily Moon River Lodge ʼn ring aan die langbeenskoonheid se vinger gesteek het.

Paris Hilton en Carter Reum is getroud. (Foto: Instagram/Paris Hilton)

Paris Hilton, die bekende hotelerfgenaam, televisiepersoonlikheid en platejoggie, is in November met die waagkapitalis Carter Reum getroud.

Hilton het dit uiteindelik tot voor die kansel gemaak nadat sy drie keer tevore verloof was. Reum (40) het in Februarie tydens Hilton se 40ste verjaardagpartytjie die jawoord op ʼn private eiland gevra.

Die bruilofsfees het oor drie dae gestrek, en is Saterdag afgesluit met ʼn partytjie op die Bel-Air-landgoed van Hilton se oorlede oupa, Barron Hilton. Gaste het hulle by die pasgetroudes aangesluit vir ʼn elegante ete, waarna hulle tot sonsopkoms gedans en partytjie gehou het.

Verlowings

Pietie Beyers en Anneke Weideman kondig hul verlowing op Instagram aan. (Foto: Instagram)

Pietie Beyers, die Afrikaanse akteur en TV-aanbieder, het in Februarie ʼn ring aan sy meisie, die aktrise Anneke Weidemann, se vinger gesteek.

Die nuus is op Instagram bevestig met ʼn rits foto’s waarin Weidemann spog met ʼn donkerkleurige ring ontwerp deur Mallorn Jewellery.

Maryke Steyn was duidelik verras toe Herman Kleinhans op een knie neersak om die jawoord te vra. (Foto: Skermgreep uit video)

Die sanger en liedjieskrywer Herman Kleinhans het in Maart op die verhoog op sy knie neergesak om Maryke Steyn die jawoord te vra.

Steyn was tydens die jaarlikse Gifbergspookfees in Vanrhynsdorp, waartydens sy die klavier gespeel het, uit die veld geslaan toe Kleinhans skielik in die middel van die liedjie “Vliegtuig” ʼn ringboksie uit sy broeksak gepluk en op sy knie neergesak het.

‘n Skermgreep uit die video waarin Majozi se Daniela met haar verloofring spog.

Die sanger en liedjieskrywer, Majozi, en sy meisie, Daniela, het in Julie verloof geraak.

Majozi, wat onder meer die enkelsnit “My lief” saam met Janie Bay uitgereik het, het ʼn romantiese video waarin hy die jawoord vra op sosiale media gedeel.

“Te amo #MarryingMajozi [sic],” het die sanger by die video geskryf.

Candy Benson en Dylan Emslie het verloof geraak tydens die skiet van haar musiekvideo vir ‘7 dae in die somer’. (Foto: Facebook/Candy Benson)

Die sangeres Candy Benson, wat vanjaar deur ʼn hewige gesondheidstryd is weens Covid-19, het in Julie verloof geraak aan die musikant Dylan Emslie.

Emslie is bekend as Mooi Jan van die sanggroep Jan Jan Jan, en het op die stel van Benson se musiekvideo vir “7 dae in die somer” die jawoord gevra.

Christel van den Bergh en David Louw is verloof. (Foto: Instagram/Christel van den Bergh)

Die akteurspaar Christel van den Bergh en David Louw, onderskeidelik bekend vir hulle rolle as die paartjie Simon en Renate Greeff in die kykNET-sepie Getroud met rugby, het in Augustus verloof geraak.

Louw het ʼn foto, waar hy op een knie neergesak het om die jawoord te vra, op Instagram gedeel. Dit is duidelik aan Van den Bergh se gesig op die foto dat sy onkant betrap is deur die groot vraag.

Die paartjie het einde Maart ʼn pienkvoet ryker geword. Die babaseuntjie heet Daniël David en is op 27 Maart gebore.

Eric Stonestreet en sy verloofde, Lindsay Schweitzer. (Foto: Instagram/Eric Stonestreet)

Eric Stonestreet, bekend vir sy rol as Cameron in Modern Family, het in Augustus verloof geraak aan Lindsay Schweitzer.

Nadat hy ʼn verlowingsfoto op sosiale media gedeel het, het talle gebruikers daarop gewys dat hy “veel ouer” as sy verloofde lyk.

“Blykbaar dink baie mense dat ek, as 49-jarige man, te oud is om verloof te wees aan my amper 42-jarige verloofde. Kyk, sy kan nie help dat sy fantasties lyk op 42 nie en ek kan ook nie help dat ek soos haar oupa lyk nie,” het hy geskerts.

Britney Spears spog met haar verloofring. (Foto: Sam Asghari/Instagram)

Die Amerikaanse popster Britney Spears het in September gespog met ʼn reuseknewel van ʼn diamant aan haar ringvinger. Dít nadat sy verloof geraak het aan haar kêrel, Sam Asghari.

Spears (39), wat die afgelope jaar gereeld die nuus gehaal het weens ʼn hofstryd met onder andere haar pa, het haar ring gewys in ʼn video op Instagram. Asghari het ook ʼn foto van die ring aan Spears se vinger op Instagram gedeel.

Thato Mosehle het haar verlowing op Instagram aangekondig. (Foto: Instagram/Thato Mosehle)

Thato Mosehle, die Suid-Afrikaanse skoonheid wat in Augustus vanjaar as tweede naaswenner van die Mej. Supranasionaal-kompetisie aangewys is, is verloof.

Mosehle, ʼn mediese dokter van die Vrystaat, het in November ʼn foto op Instagram gedeel om dié nuus aan te kondig.

“Ek het die een gevind wat my siel liefhet. Ek het ja gesê,” het sy by die foto van haar verloofring gekoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.