Verloofring skitter aan Mej. SA-skoonheid se vinger

Thato Mosehle spog op Instagram met haar verloofring. (Foto: Thato Mosehle)

Thato Mosehle, die Suid-Afrikaanse skoonheid wat in Augustus vanjaar as tweede naaswenner van die Mej. Supranasionaal-kompetisie aangewys is, is verloof.

Mosehle, ʼn mediese dokter van die Vrystaat, het Maandag ʼn foto op Instagram gedeel om dié nuus aan te kondig.

“Ek het die een gevind wat my siel liefhet. Ek het ja gesê,” het sy by die foto van haar verloofring gekoer.

Volgens die Instagram-foto het sy by die Inanda-dam in KwaZulu-Natal die jawoord gegee. Sy het egter nie die identiteit van haar verloofde bekend gemaak nie.

Mosehle se mede-skoonheidskoninginne, onder wie Liesl Laurie, voormalige Mej. Suid-Afrika, en Lalela Mswane, wat pas as die nuwe Mej. SA aangekondig is, het haar gelukgewens op sosiale media.

Mosehle was die eerste skoonheid wat amptelik onder die vaandel van die Mej. SA-organisasie aan die Mej. Supranasionaal-kompetisie deelgeneem het.

Sy is in Oktober 2020 as eerste prinses in die Mej. SA-kompetisie aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.