Video: Bobby verras kankerlyer in Namibië

Bobby van Jaarsveld (Foto: Stephen Elliott)

Die gewilde Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld het Woensdag al die pad na Namibië gereis om ʼn 15-jarige kankerlyer te gaan verras.

Van Jaarsveld het ʼn hartroerende video op sosiale media gedeel waar hy die meisie, net bekend as Candice, by die N/a’an ku sê-wildreservaat verras.

“Het gister vir Candice, ʼn 15-jarige meisie met breinkanker van Namibië gaan verras,” het die sanger op sy sosialemediaprofiele geskryf. “Haar ouers probeer haar bucket list voltooi en ek was op die lys. Sy het my hart ongelooflik geraak. Dankie, Candice, dat jy my weereens kom wys het hoe afhanklik ons van die Vader is.”

In die video moedig Candice mense aan om N/a’an ku sê te besoek en die wildritte te geniet. Van Jaarsveld stap agter haar in en tik haar op die skouer, waarna sy oorweldig in trane uitbars. Van Jaarsveld raak self bewoë wanneer hy Candice se reaksie sien.

“Haar ouers het alles vir haar gereël,” het Ronel Brink, Van Jaarsveld se ma en agent, op Twitter geskryf. “Sy het niks vermoed nie.”

Van Jaarsveld is tans saam met sy suster, Karlien, te sien as aanbieders van die VIA-werklikheidsprogram Die Kontrak.

Het vir Candice ñ 15 Jarige meisie wat breinkanker het van Namibia gaan verras…. Haar ouers probeer haar Bucketlist voltooi en ek was op die lys. Sy het my hart ongelooflik aangeraak. Dankie Candice laat jy my weereens kom was het hoe afhangklik ons van Die Vader is. Jou getuienis verander alreeds baie mense se lewens. Dit verander myne. Seën jou BAIE IN OORVLOED ❤ N/a’an ku sê N/a’an ku sê (Naankuse) Wildlife Sanctuary, Namibia

Posted by Bobby Van Jaarsveld on Thursday, October 11, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Toffie ·

Ek ken vir Candice persoonlik en sy is ‘n pragtige kind.

Bobby love ·

Bobby en daar laat jy my ook grens. Jy is so n pragtige mens met n hart van goud

Bossie ·

Jy gebruik jou talent en woeker daarmee. Feit is jy deel jou goeie hart ook mildelik. Wel gedaan Bobby. Groot respek vir jou. Hierdie liefde uit jou hart is wat jou pad Hemel toe reguit maak…

Stier ·

Dit sou meer beteken het as daar nie ‘n video geplaas is om van Jaarsveld te bemark nie. Al was om hom te ontmoet op haar “bucket list”.

Vir die immer negatiewes ·

As daar nie ‘n video was nie, was niemand van ons aangeraak deur Candice se storie nie. Dankie Bobby dat jy aan Candice en baie ander mense ‘n oomblik van groot vreugde verskaf het.

Sjoe ·

Sjoe daar kan ook net bietjie na mooi gekyk word, ek verstaan wat jy bedoel, ek wil jou egter meedeel, ek ken Bobby persoonlik, al vir hom n paar konserte gereel, hy het n hart van goud. Hy kan nie lelik wees. Verder probeer sy Ma altyd goeie bemarking, maar hy het dit nie nodig nie, hy verkoop self uit, n poster is 3 dae op & alles is uitverkoop. Verder is dit baie onsensitief teenoor Candice

Stier ·

@immer negatiewes: as jy reg lees sal jy opmerk dis nie die feit dat hy haar besoek en verras het wat ek bevraagteken nie. Dis die bemarking van die ster se “ongelooflike groothartigheid ” wat die opregtheid van die besoek laat bevraagteken. Gaan die regtig oor haar ? Ek neem aan sy het ook gereel vir die video en berig? Ongelukkig laat dit die hele oefening bietjie oppervlakkig lyk. Maklik om massa propaganda te glo dink een maal vir jouself.

Goeie Dade ·

@Stier, Jy is nogal reg. ‘n Mens moet liewer nie self jou goeie dade aan die groot klok hang nie, want jou motiewe lyk eensklaps baie eersoekend, eerder as altruïsties, al was dit nie die bedoeling nie. Dan maar beter soos die Bybel leer, dat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie en jy dit aan ander oorlaat om jou te prys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.