[Video en foto’s] Bekendes in swart geklee teen plaasmoorde

Steve Hofmeyr (Foto: Facebook)

Talle bekendes soos Karlien van Jaarsveld, David Fourie en Kurt Darren het Maandag swart aangehad as deel van die #SwartMaandag-veldtog wat ten doel het om solidariteit te toon met die boere wat hul lewens in plaasmoorde verloor het.

Dié veldtog wat oor die naweek momentum begin kry het, het Maandagoggend talle paaie en snelweë tot stilstand gedwing. Optogte vir #SwartMaandag het Maandagoggend plaasgevind onder meer op die N1-Suid, die R21 en R24 asook die R57 en R59 en die N4. Optogte is ook in die Kaap en ander dele van die land gehou.

Die veldtog het verder ook ondersteuning uit die buiteland gekry in onder meer Tyrone, Oklahoma, in die VSA en Hamilton in Nieu-Seeland. Die Facebook-groep Ek love die Vrystaat het ook ʼn foto gedeel van ʼn banier in Arkansas in die VSA wat lui “Stop farm murders in South Africa”.

“Dit gaan nie oor swart of wit nie, dit gaan oor moord,” het Karlien van Jaarsveld op sosiale media geskryf. “Dit gaan oor geregtigheid. Dit gaan oor saad plant en groei. Wat sal groei uit die dood? Wat sal kom van ongeploegde lande? Wat sal word van die Suid-Afrikaner? Ons is te bang om iets te sê, nou verwag die hele land net Steve Hofmeyr moet iets sê. Maar wat van hom? Ja, hy gaan ʼn held sterf, maar wat van sy familie wat hy in gevaar stel deur te praat? En ons wat stil bly en net hard hande klap wanneer hy op die verhoog verskyn? Ons moet saam staan. Komaan, Suid-Afrika! Dis ons land, ons wil hier sterf.”

André Lötter (Foto: Instagram)

Die 7de Laan-akteur André Lötter het ook sy hart teen plaasmoorde uitgestort. Die akteur het gesê hy het ook al naby familie in só moord verloor.

“Ek dra swart nie net in solidariteit met die boere wat vermoor word nie, maar met die hoop dat geen Suid-Afrikaner, ongeag sy geloof, ras of kultuur, vermoor moet word nie. Niemand verdien dit nie – maak nie saak wat die redes is wat aangevoer word nie. Om iemand te moor is nie oukei nie. ʼn Paar jaar gelede het ek ʼn oom en ʼn tannie in ʼn plaasaanval verloor. Hulle is wreedaardig aangerand en gemartel vir bykans 12 uur voordat hulle vermoor is waarna die plaas afgebrand is. Geen Suid-Afrikaner behoort hierdeur te gaan nie. Hierdie is ʼn noodkreet na die regering en vir die mense wat ons moet veilig hou.”

“Elke stem, elke aksie, elke bydrae help. Stop die slagting en moorde van onskuldige mense in Suid-Afrika,” het die akteur en komediant Radio Raps, oftewel Rikus de Beer, gesê.

Steve Hofmeyr, al ʼn geruimte tyd ʼn kampvegter teen plaasmoorde, sê statistieke in plaasmoorde behoort as ʼn “moordsyfer” en nié ʼn “sterftesyfer” bekend te staan. “Dis een statistiek wat gouer verander as wat ons dit kan opstel. Baie soos die verkragtingsyfer. Maak nie saak wanneer jy dit publiseer nie, dis reeds oud. Teen 22 Oktober 2017 was daar 340 aanvalle en 64 plaasmoorde in Suid Afrika. Dis was reeds meer as die vorige jaar, maar met nog drie bloedige maande oor voor die einde van die jaar.

“Maar laat dit duidelik uitgespel word dat moordenaars nie die enigste skuldiges is nie. Dit het tyd geword om dié wat in ‘diplomatiese’ taal hieroor praat aandadig te hou. Geen minderheidstam in die wêreld word getoets soos myne nie. Ons moet glo kalm Christene bly terwyl ons families uitmekaargeskeur word. Ons moet ons woorde tel, ons reaksies beteuel, of ons sal disproporsionele strawwe opgedis word vir iets so belaglik soos die kisvoorval. Ons is simpatie kwyt oor die houding dat wit mense nie slagoffers kan of mag wees nie. Die boer moet lewe omdat hy ʼn reg het daartoe; en omdat enige familie soggens om die ontbyttafel moet handevat sonder om te huil in wanhoop.”

Suid Afrika is 'n slaghuis.Eerstens, dis nie 'n STERFTESYFER nie. Dis 'n MOORDSYFER. En dis een statistiek wat gouer verander as wat ons dit kan opstel. Baie soos die verkragtingsyfer. Maak nie saak wanneer jy dit publiseer nie, dis reeds oud. Teen 22 Oktober 2017 was daar 340 aanvalle en 64 plaasmoorde in Suid Afrika. Dis was reeds meer as die vorige jaar, maar met nog drie bloedige maande oor VOOR die einde van die jaar. Maar laat dit duidelik uitgespel word dat moordenaars nie die enigste skuldiges is nie. Dit het tyd geword om dié wat in 'diplomatiese' taal hieroor praat aandadig te hou. En as jy die boere of Steve Hofmeyr (Beeld, 29/10/2017) die skuld vir plaasmoorde kan gee, wil ek jou graag voorstel aan 'n paar ander skuldiges:1. Die wat kibbel oor statistiek is aandadig. Julle het ons tyd gemors en ons honderde moorde oor die hoof laat sien omdat ons julle geglo het. Jy kan die definisie van plaasmoorde verander soos jy wil om dit na minder te laat lyk, Max du Preez, Africa Check, Piet Croukamp en pelle, jou som sal altyd vir jou een gevolgtrekking oplewer: dis 'n barbaarse slagting en jy verf 'n teiken op boere se rug. 2. As jou politici of party grondhervorming as beleid bedryf, verf jy 'n teiken op iemand se rug. Die ANC, EFF en DA se hande is bebloed hiermee.3. As jou politici of party, bykans almal van hulle, rasgebasseerde wetgewing voorstaan, soos Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie, die mite van Gelykheid, Transformasie, Kwotas en Verteenwoordigendheid, verf jy 'n teiken op iemand se rug. Jy verskaf vanaand die gelaaide wapen.4. As jou presidente, Mandela, Mbeki, Zuma, liedjies mag sing soos "Kill The Boer" en "Bring Me My Machine Gun", verf jy en jou president 'n teiken op iemand se rug.5. As jy giggel in die parlement oor die geweld op boere, is jy aandadig en verf jy 'n teiken op iemand se rug.6. As jy toelaat dat Afrikaner instellings verwoes word, soos die laaste Afrikaanse universiteit in die laaste Afrikaanse provinsie, verf jy 'n teiken op iemand se rug. Jy Stellenbosch, jy meneer die rektor, die kanselier, studenteleiers en elke Afrikaanse student.7. As jy slegs een groep se taal inkort, sy monumente verwyder, sy dorp- en straatname verander, sy kultuur en geloof wegvee uit skole, verf jy 'n teiken op iemand se rug.8. As jy, Bouwer Bosch en Rian van Heerden, apologie aanteken namens ander wat nie aandadig aan slawerny, kolonialisme of Apartheid was nie, verf jy 'n teiken op iemand se rug.9. As jy as die minister van polisie nie eers die plaasmoordsyfer in jou misdaadverslag kan noem nie, verf jy 'n teiken op iemand se rug, Fikile. Het jy geen skaamte nie?10. As jy swyg wanneer jou groep, volk of ras disproporsioneel bydra tot hierdie moordsyfer, is jy aandadig. Ek het in my lewe nog net 3 swart burgers teëgekom wat mans genoeg was om dit te erken. Die res verf 'n teiken op boere se rug en kry selfs lekker. Daarom sal 'n skoot afgaan voor middagete môre.11. As jy die blaam verskuif vanaf die barbaar na die boer, die vorige regime, kolonialisme, wittes, Westerlinge, armoede of kapitalisme, het jy 'n boer laat sterf die jaar. Media24 het in verskeie artikels al plaasmoorde op my blameer. Hulle kon eenvoudig nie een enkele ander plaasmoordenaar opspoor nie. Hulle s'n is die polities-korrekte, neerhalende manier om rassisties te wees, want jy sê vir 'n sekere ras dat jy vir hulle 'n spesiale standaard voorhou. Daar is jou rede hoekom julle, nie ons nie, rassisties is en hoekom plaasmoordslagtings toeneem. Liberaliste en hoofstroommedia verf dekades al die teiken op enigiemand se rug, behalwe op die rug van die diermens wat vanaand oor jou mure klim om 'n stomp lem deur jou gade se nek te jaag. Dalk verstaan Spur, JacarandaFM, Heinz Winkler en Martin Bester iets hiervan vandag.Geen minderheidstam in die wêreld word getoets soos myne nie. Ons moet glo kalm Christene bly terwyl ons families uitmekaar geskeur word. Ons moet ons woorde tel, ons reaksies beteuel, of ons sal disproporsionele strawwe opgedis word vir iets so belaglik soos die kisvoorval. Ons is simpatie kwyt oor die houding dat blankes nie slagoffers kan of mag wees nie. Daar heers sensuur op kritiese retoriek omdat sekere groepe se gevoelens gespaar moet word en omdat niks hul selfbejammerings-terapiesessie mag onderbreek nie; nie eers 'n afmaaiery onder mede-Suid Afrikaners nie. Die kommersiële boer se misbaarheid het nie eerste iets te doen met voedselsekerheid nie. Dit is sekondêr. DIE BOER MOET LEWE OMDAT HY 'N REG HET DAARTOE; en omdat enige familie soggens om die ontbyttafel moet handevat sonder om te huil in wanhoop.'n STERFTESYFER is wanneer bevolkings omkom aan ouderdom en kwale. 'n MOORDSYFER gebeur wanneer almal wegkyk en sagkens omgaan met barbaarsheid. So, wanneer laas het jy 'n boer vermoor?*Kort video in Engels, vir die oë en ore van buitelandse kykers.

Posted by Steve Hofmeyr on Sunday, October 29, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Santie ·

Ek wil net by Karlien uitvind wie het haar of enige ander sanger ooit gekeer om iets te se? Jy is reg – dit gaan nie oor kleur nie maar oor blatante moord op enige kleur. Jy erken self jy is te bang om iets te se maar dan kerm jy omdat Steve die moed het om sy mond oop te maak. Jou woorde – ” nou verwag die hele wereld net Steve Hofmeyr moet iets se? Wat van hom? Ons moet net hard hande klap wanneer hy op die verhoog verskyn”? Bespeur ek ‘n tikkie jaloesie en nydigheid? Niemand het nog ooit een van julle gekeer om iets te se oor enige moorde in ons land nie maar soos jy tereg gese het – julle is te bang om vir die wereld te wys dat die moorde te erg raak want ja erken maar julle is te lafhartig en is maklik om agterna te hol en aanmerkings te maak oor iemand wat moed het om regtig vir sy land en mense op te kom.

Santie ·

Ek wil net vir Karlien die volgende vra: Jy is reg – dit gaan nie oor kleur nie – dit gaan oor moorde. Jy erken self jy is te bang om iets te se en jou aanmerking – “nou verwag die hele wereld net Steve Hofmeyr moet iets se? Wat van hom? Ons moet net hard hande klap wanneer hy op die verhoog verskyn”? Sjoe is dit nie bietjie nydig nie? Wie keer jou of enige ander persoon om julle stemme dik te maak oor enige moorde in SA? Nee jy erken self jy is te bang nou blameer jy vir Steve omdat hy die moed het om op te staan vir sy mense en sy land? Dalk moet jy by Heinz gaan leer om te dink voor jy praat!

Denise ·

Ek wil net weet waar was al die mense wat nou hulle ondersteuning gee hoekom is dit nog altyd net Steve Hofmeyr gewees en wat nog steeds veg vir sy mense en nou skielik verskyn die ander ????? En asseblief ek vra maar net en wonder maar net??????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.