[Video] ‘Kersfees’ draai vanjaar vroeër as gewoonlik

‘n Skermskoot uit die video

Die nuwe Afrikaanse komedie-drama Liewe Kersfeesvader draai van Vrydag (17 November) landwyd in fliekteaters.

Die amptelike musiekvideo vir die fliek, waarin die sangeres Laurika Rauch nuwe lewe in haar liedjie “Kyk hoe glinster die maan” blaas, is vroeër vandeesweek bekendgestel.

Dié fliek vertel die ongewone Kersverhaal van die Blignout-gesin in die hartjie van die Karoo. Die gesin se Kersvakansie neem so effe ʼn wending wanneer die ma (Milan Murray) se Kersgeskenk aan die gesin egskeidingsdokumente is en die “goeie nuus” boonop is dat sy die gesin gaan verlaat om haar by ’n reisende sirkus aan te sluit.

Die jong Nonnie, ʼn teësinnige skoonheidskoningin (Mila Guy), moet dan noodgedwonge oornag volwassenheid betree wanneer haar ma die gesin verlaat vir ’n lewe in die sirkus en haar pa (Morné Visser) ’n nuwe identiteit as Kersfeesvader aanneem.

Terwyl Nonnie haar lewe en haar liefdes moet balanseer, word sy ook gedwing om haar eie betekenis van gesin te herdefinieer. Dít met ʼn kranksinnige pa, ʼn vatbare boetie (Eloff Snyman) en ʼn romanse met haar beste vriend (Dean-John Smith).

Die draaiboekskrywer en rolprentregisseur Etienne Fourie wat bekendheid verwerf het vir prente soos Die windpomp en Dis koue kos, skat het ook dié draaiboek geskryf.

“Vir baie gesinne is Kersdag ’n spanningsvolle dag wat selde voldoen aan die hoë verwagtinge van die perfekte familie wat daarmee geassosieer word. Dít het vir my baie speelruimte gegee toe ek Liewe Kersfeesvader geskryf het,” vertel Fourie. “Ek kon my eie familie se ervarings ontgin en my verbeelding vrye teuels gee met ’n hele paar veronderstelde scenario’s. Dit was egter vir my belangrik om die karakters op ’n opregte wyse uit te beeld en met insig en deernis te benader.”

Liewe Kersfeesvader is op Prins Albert in die Wes-Kaap verfilm. Fourie is die regisseur en Stefan Enslin is die vervaardiger.

Ander akteurs wat in die prent te sien is, sluit in Terence Bridgett, June van Merch en Melt Sieberhagen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.