Video: Koek-en-tee saam met Mila Guy

mila guy 2

Mila Guy. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Daar is baie lig maar ook ʼn klein bietjie donker aan Mila Guy. Soos ʼn seldsame, enig-in-sy-soort tipe sonneblom wat soms met sy gesig na die donker gedraai moet staan om te floreer – soveel anders as wat ʼn mens sou verwag.

Kyk jy na haar Instagram-profiel, wat bykans 12 000 aanhangers sterk is, kry jy ʼn blik op die lewe van dié 25-jarige se besige, kleurryke lewe as aktrise in Johannesburg.

Dit vat egter nie lank om agter te kom dat daar soveel meer in haar steek as net die prettige kwinkslae wat sy op sosiale media én as Malanie in die uiters gewilde mokumentêre kykNET-reeks Hotel kwytraak nie. Stroopsoet en onvoorspelbaar soos die bruintjie in die bordjie voor haar.

“ʼn Mens hoef nie altyd te huil om diep emosie te wys nie,” sê sy nadenkend oor ʼn koppie rooibostee. Sy is nie regtig ʼn koffiedrinker nie.

“Ek het altyd net geglo ek is ʼn drama-aktrise en dat ek nooit komedie sou doen nie, maar vandat ek met Hotel begin het, is ek mal daaroor. Komedie is ʼn baie moeilike genre omdat jy nie rondspeel nie en regtig net in die oomblik moet wees.”

Dis die meer dramatiese rolle wat haar laat vóél. “Ek kan in my binneste voel waar ek iets gedoen het of nie gedoen het nie. Met komedie weet jy nie of dit wat jy gedoen het, gaan snaaks wees vir mense nie, maar met drama kan jy byvoorbeeld weet jy kan ʼn kyker emosioneel laat raak, want jy het self daardie gevoelens beleef. Ek weet dan, ek het gedoen wat ek moes doen. Met komedie is ek altyd onseker, want ek weet nie of mense gaan lag nie.”

Mila het einde verlede jaar in die hoofrol van Nonnie in die gesinsfliek Liewe Kersfeesvader uitgeblink. Sy speel ook die rol van Bruid in die Johan Cronjé-fliek Wonderlus, wat handel oor pragmatiese en romantiese liefde en wat anders as Liewe Kersfeesvader eerder geskik is vir ʼn meer volwasse gehoor.

Nonnie en Bruid verskil hemelsbreed van mekaar, maar sy het geen teatrale rituele wat haar karaktervoorbereiding betref nie en sy laat haar eerder lei deur die teks en regisseur. Sy beduie met haar hele lyf: “Dit voel partykeer asof ek as aktrise op iets uitmis, want ek sit nie soos ander akteurs en raak intens oor hulle karakters nie.” ʼn Uitbundige lag ontsnap haar keel. “Ek het darem intussen besef elke akteur se proses is anders.”

mila guy

Mila Guy. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Vir haar gaan die proses oor hoe sy voel op die dag. “Dit is vir my baie belangriker om eerder te luister en te reageer as om vooraf ʼn idee te vorm van hoe my karakter veronderstel is om te reageer. Ek plaas eerder myself met my eie emosies in daardie situasies. Hoe sou ek gevoel het as dít nou met my gebeur het?”

Om die wêreld plat te reis help ook vir karakerontwikkeling. “Vir jouself as mens en as akteur. Jy leer ken jouself soveel beter, want jy word in situasies geplaas waar jy op jouself moet staatmaak. Jy leer hoe ander mense dinge doen en dit laat jou wonder oor hoe jy self dinge doen. Dit maak dit makliker om stories te vertel en om empatie te hê – om empatie te hê met ʼn karakter is op die ou end waaroor toneelspel gaan.”

Sy het onlangs New York gaan verken en die liggies in haar oë skyn net so helder soos die ligte in die strate van dié bekoorlike wêreldstad. Wil sy nou ook Amerika toe om ʼn Oscar te wen? Sy lag weer uitbundig en knik.

“Ek sê altyd dit is nie noodwendig om dit daar te gaan máák nie, maar ek wil nie eendag spyt wees dat ek dit nie probeer het nie.”

ʼn Meisie wat ʼn oudisieteks gelees het langs haar in die moltrein het haar weer herinner aan hoe dankbaar sy moet wees vir haar loopbaan in Suid-Afrika. “My oë het daar oopgegaan oor soveel dinge. Ek het net weer onthou hoe bevoorreg ek is om te kan doen waarvoor ek lief is in my eie land.”

Sy ril omtrent van lekkerkry toe die onderwerp verander na die toekoms. “Ek wil net besig wees en groei. Wanneer ek gaan vir oudisies sit ek alles in en los dit dan in die Here se hande. Ek glo in manifestasie – dit wat jy daar buite doen en insit, kom weer terug na jou toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JJ ·

Pragtige dame, great actress! Sal alles met haar in kyk en ondersteun. Geniet haar vreeslik baie

Yankee ·

Pragtig. Vele kliente van my op die rooi “mat” laas week hier in Los Angeles. Gaan hierdie berig met hul deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.