Video: Laurika verklap haar gunstelingliedjie van alle tye

Laurika Rauch (Foto: Skermgreep uit die video)

Die Afrikaanse sangeres en legende Laurika Rauch vier vanjaar 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf.

Maroela Media het by haar gaan aanklop om die vrae te beantwoord waaroor ons nog altyd wonder.

Rauch verklap in dié video wie haar gunsteling- hedendaagse kunstenaar is, dat sy die Bosveld bo die see verkies én wat haar eie gunstelingliedjie van alle tye is.

Om haar 40 jaar in die bedryf te vier het sy ʼn versamelstel, Laurika Rauch – 40 jaar, van 14 albums wat sy glo haar loopbaan die beste verteenwoordig vir die publiek beskikbaar gestel.

Die versamelstel bevat ook ʼn 15de album, ʼn Versameling, wat spesiaal saamgestel is om liedjies wat nie op die ander 14 albums is nie, ook in te sluit.

“Elke boksie bevat ook ʼn boekie van 12 bladsye met foto’s van my asook drie resensies oor my werk van 1979, 1984 en 2017,” vertel Rauch trots. “Ek dink ek skyn die meeste op die verhoog, maar dit is vir my verskriklik belangrik dat daar iets nagelaat moet word en daarom is dit vir my so wonderlik dat ʼn mens albums kan maak.”

Die stel is eksklusief beskikbaar op Maroela Media se aanlyn winkel, Die Koöperasie. Daar is slegs 1 000 stelle beskikbaar en sal nie later herdruk word nie. Sowat die helfte van die versamelstelle is reeds binne die eerste vier dae uitverkoop.

Die koste beloop R1 265 per stel. Die bedrag sluit nie posgeld in nie. Die verkope van die versamelstel ondersteun ook die Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-veldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Boerboel ·

Hierdie vrou het diep spore getrap in Afrikaanse musiek, ek onthou nog haar eerste treffer- Kinders van die Wind. Waar sy ookal optree bly n’ wenner, Dankie Laurika vir 40 jaar se musiek en in Afrikaans. Hoop nie jy gaan nou aftree. Sterkte met jou loopbaan en baie geluk met jou 40 jaar in die musiek bedryf. Hoop daar kom nog baie !

Hendrik ·

Vir my is Laurika se mooiste liedjie ongetwyfeld “‘n Man stap” – die storie van die Afrikaner wat nou in Kanada bly en sy tuisdorpie in SA besoek. Vir my wat in St Louis bly, bring dit telkens trane in die oë en ‘n knop in die keel.

Ou Jong Aanhanger ·

40 jaar in die bedryf …. ek is 35! Ek het regtig groot geword met haar musiek. Ek onthou skool toe stap saam my Moeks en uit volle bors sing al was dit net ‘n versie of 2.
My kinders word ook groot gemaak op haar musiek!
Lank lewe Laurika!!

ChrisE ·

My persoonlike gunsteling van haar is Stille Waters. Die melodie bring heimwee en erge seer verlange in my op.

Johanna Botha ·

Pragtig ! Maak n mens so trots vir jou waardes, kultuur en taal !

Jax ·

Mooiste mens! Iemand om na op te kyk. Soveel waardering en deernis!

John ·

Wie het die liedjies geskryf waarmee sy so beroemd en ryk geword het?

Nadia ·

Baie van haar treffers is deur haar man Christopher Torr geskryf, insluitend Stille Waters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.