Die twaalfde seisoen van die bekende Afrikaanse werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou het verlede week afgeskop en volgens sangeresaanbieder Leah is dié groep boere die oulikste groep nóg.
“Die seisoen is ekstra spesiaal vir my. Ek dink daar is nuwe dinge, en ek dink mense gaan rêrig ʼn bietjie ekstra waardering hê vir die boere vanjaar. Ek het laas jaar gesê ek dink ek het die oulikste groep boere gekry, maar vanjaar is hulle nóg ouliker,” vertel Leah aan Maroela Media.
“Daar was net ʼn ekstra verbintenis met vanjaar se boere gewees. Hulle is regtig nederige, ongelooflik maklike mense om mee oor die weg te kom. Elkeen van hulle het ʼn spesiale storie, so dis lekker om deel daarvan te kan wees.”
Leah is vanjaar vir die tweede keer die aanbieder van Boer soek ʼn vrou, en volg in die voetspore van mense soos Angelique Gerber, Nadia Beukes, Elma Postma en Minki van der Westhuizen.
Sy vertel dat dit makliker was om dit vir ʼn tweede keer te doen omdat sy reeds geweet het wat om te verwag. Dit het gesorg dat sy meer op haar gemak voor die kamera en met die boere is.
“Jy gaan maar met min verwagting in so ʼn soort ding in omdat jy weet dit gaan ʼn uitdaging wees. En daar wás uitdagings, maar daar was ook ongelooflike oomblikke,” sê sy.
Hoewel Leah ʼn stadsmeisie is, het die plaaslewe baie vinnig in haar hart ingekruip nadat sy Boer soek ʼn vrou begin aanbied het.
“Ek geniet dit op die plaas, in my hart is ek nou ʼn plaasmeisie. Ek het vir my man ná ʼn paar maande, met my eerste keer op Boer soek ʼn vrou, gesê ek dink ek sal op ʼn plaas kan gaan bly, dit was vir my so ongelooflik.
“Die boere se trots op dit wat hulle doen, is vir my net ongelooflik. En dit is lekker vir my om hulle te leer ken; as hulle dan liefde vind, is dit ʼn bonus, en dan weet jy jy het so ʼn klein deeltjie daarin gehad.”
Leah sê sy het dié seisoen probeer om genoeg tyd saam met die boere weg van die kamera af deur te bring sodat hulle op hul gemak kan wees voor die kamera.
“Ek weet dit is intimiderend om voor die kamera te wees; as daar ʼn oomblik is, probeer ek dus tyd saam met hulle deurbring en ʼn bietjie oor hulself uitvra. Ek wou hê die boere moet honderd persent hulself wees.”
Leah is ook nie bang om haar hande vuil te maak wanneer sy op die plase kom nie. Sy vertel dat sy dikwels in groot masjinerie inklim en nie dink sy sal dit kan bestuur nie, maar dat die boere dan mooi en geduldig vir haar verduidelik totdat sy dit regkry.
Die Boer soek ʼn vrou-span het vanjaar reg rondom Suid-Afrika gery om by al die boere se plase uit te kom. “ʼn Mens kan letterlik ʼn sirkel oor die landkaart trek van waar ons oral gery het, en dan net ʼn paar inhamme byvoeg,” sê Leah.
En flaters, vertel Leah, is volop wanneer daar op ʼn plaas verfilm word. “Ons het eenkeer amper ons hommeltuig verloor, dikwels oor goed op die grond geval, daar was diere wat die kameras wou omstamp en eenkeer, net wanneer al die kameras opgestel is, toe gaan die sproeiers aan,” lag sy.
Sy vertel ook van ʼn keer dat sy op ʼn plaas deur ʼn draadhekkie moes stap en dit ʼn klos van haar hare uitgepluk het. “Toe ek omdraai, toe wapper my haartjies so in die draad. Ek weet nie hoekom ʼn mens sulke goed doen nie, dit was seker ʼn blonde oomblik,” skerts sy.
Leah is n pragtige mens van binne en buite!!! n fantastiese persoonlikheid inkluis. WELL DONE!!!
Liewe heksie kon vertel het van die groep oulike boere dit bly steeds wereldklas snert.
Jou naam is darem maar uiters gepas, Buffel.
Dries jy kan deelneem niemand stop jou nie.
Ou Buffel, jy is ‘n regte ou SUURKNOL!!
Leah het beslis nuwe lewe in BOER SOEK ‘N VROU GEBLAAS. Sy is pragtig en borrelend en plat op die aarde.
Elke jaar hoor ons dieselfde stories. Boere met sterk persoonlikhede wat weet wat hulle wil he. Intussen sit hulle sonder n vrou en doen alles wat pappie en mammie beveel. Swak!
Pietsnot dis presies so. En na die episodes trou dalk een van hulle res bly onder Pa en Ma se regering en bestuur die plaas. Het geen se of besluitneming in hul eie lewens nie.
Kan net nie sing nie.
Leser, Ek hoop regtig nie jy praat van Leah nie. Sy sing pragtig! Oooo, nee nou verstaan ek. Jy het seker van jouself gepraat. Want volgens jou naam lees jy eerder as sing.
In die begin was dit aangenaam, maar dit raak nou regtig flou
die meisies wil net n ryk boer uitslaan
min van hulle is n ware boervrou
kom ons maak die hierdie reeks klaar en laat dan boer soek n vrou bietjie gaan rus
die aanbieder is nie sleg nie,en sang is so 6/10
Ek bekomer my nie eintlik oor die boere wat sit sonder ‘n vrou of man Leah. Jy is self ietsie vir die oog! Pasop dat ‘n boer jou nie gaan soek nie.
Die lekkerste ding om te doen…….is om die kanaal te verander as BS’nV begin!