Video: Prins Harry en Meghan praat intiem oor hul verhouding

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Xinhua)

Prins Harry en die Amerikaanse aktrise Meghan Markle het tydens hul eerste onderhoud ná vandeesweek se aankondiging van hul verlowing gesê hulle het tydens ʼn “tipiese en gewone aand” verloof geraak.

Die paartjie het Maandag, ná etlike maande van bespiegeling in die poniepers, hul verlowing bekend gemaak. Clarence House het in ʼn verklaring bevestig dat die paartjie vroeër vandeesmaand in Londen verloof geraak het.

Markle het tydens hul eerste onderhoud wat by die Kensington-paleis gedoen is, gesê dit was ʼn “ongelooflike verrassing” toe Harry haar die jawoord gevra het.

“Dit was ʼn gesellige aand. Ons het sommer net hoender gebraai,” vertel sy. “Of probeer braai,” val Harry haar in die rede. “Dit was so mooi en natuurlik en baie romanties. Hy het op sy een knie gegaan. Ek kon hom nie eers klaar laat praat nie, ek het gesê: ‘Kan ek nou ja sê?’”

Harry en Meghan is al vir sowat een en ʼn half jaar lank in ʼn verhouding. Hulle het gesê hulle het deur ʼn gemeenskaplike vriendin tydens ʼn toe-oë-afspraak ontmoet en sowat drie weke later ʼn verhouding aangeknoop toe sy by hom in Botswana aangesluit het.

“Toe my vriendin die afspraak vir ons gereël het, het ek haar net een ding gevra: ‘Is hy goedhartig?’ As hy nie goedhartig was nie, sou die afspraak nie sin maak nie. Ons het een drankie gedrink, en toe baie vinnig planne vir die volgende dag gemaak. Ons was maar op twee afsprake toe ons saam met vakansie in Botswana was. Met ons besige skedules moes ons van die begin af besluit om dit te laat werk. Dit was nie altyd baie maklik nie en dit het baie reis ingesluit – maar ons het dit laat werk en nou is ons hier.”

Harry het ook tydens die onderhoud gesê hy het niks van Markle geweet voor dié toe-oë-afspraak nie. “Ek het nog nooit vantevore van haar gehoor nie. Ek het nog nooit Suits gekyk nie. Ek was baie verras toe ek haar daar sien sit.”

“Dit was vir ons albei verfrissend [dat ons nie die persoon geken het nie],” het Markle gesê. “Alles wat ek van hom leer ken het, was deur middel van hom. Wat ek geleer het oor sy familie, is ook deur die dinge wat hy met my gedeel het. En dit geld andersom ook. Dit was ʼn outentieke manier om mekaar te leer ken.”

Markle het gesê sy sou hul verlowing nié as ʼn “warrelwindverlowing” beskryf nie. “Ons het vyf of ses maande lank ons verhouding baie privaat gehou – wat wonderlik was. Ons het baie tyd gehad net om by mekaar te wees. Ons het mekaar nooit vir langer as twee weke nié gesien nie. Maar ek sal dit nie as ʼn warrelwind beskryf nie.”

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: ‘n Skermskoot uit die video)

Sy het gesê sy het nooit besef watter impak dit op haar lewe sou hê om in ʼn koninklike familie in te trou nie. “Ek het haar soveel as moontlik probeer waarsku. Maar ons albei was baie verras deur die enorme reaksie toe ons aanvanklik ons verhouding openbaar gemaak het,” het Harry gesê. “Jy kan soveel gesprekke as moontlik hê en soveel moontlik voorbereiding doen – maar ons was heeltemal onvoorbereid.”

“Daar het ʼn wanopvatting bestaan dat ek dit [haar verhouding met ʼn koninklike] sal verstaan omdat ek in die vermaakbedryf werk,” het Markle gesê. “Ek dink aan die begin was daar veral baie onwaarhede versprei, so ek het besluit ek gaan niks lees nie, hetsy dit positief of negatief was. Ek wou net fokus op ons verhouding.”

Die aktrise het verlede jaar behoorlik onder skerp kritiek deurgeloop wat veral gemik was op haar verbrokkelde huwelik en haar herkoms. Haar pa is wit en haar ma is swart. “Dis teleurstellend en ʼn jammerte dat die wêreld so baie op ras fokus. Op die einde van die dag is ek trots op wie ek is. In my verhouding het ons nog nooit daarop gefokus nie – ons fokus eerder op wie ons as ʼn paartjie is.”

Harry het gesê hy weet nie of sy huwelik met Markle noodwendig ʼn nuwe era vir die Britse koningshuis sal inlui nie. Dié huwelik sal die eerste veelrassige Britse koninklike huwelik in die geskiedenis wees.

“Sy is nog ʼn spanspeler in die familie. Ons is ʼn wonderlike span – ons weet ons is. Ons wil net ʼn impak maak op die dinge wat saak maak en ek weet dat sy uitstekend sal wees met die werk-aspek daarvan [om ʼn hertogin] te wees, maar al wat ons wil doen is om ʼn voorbeeld te wees, veral vir die jonger generasies.”

Markle het gesê sy glo nie sy “gee iets prys” deur na Engeland te verhuis en waarskynlik haar akteursloopbaan prys te gee nie. “Ek sien dit nie so nie – ek sien dit eerder as ʼn nuwe uitdaging en verandering in my lewe. Ek werk al sewe jaar lank op Suits en ons is baie bevoorreg om só lank al op die lug te wees. Maar die oomblik toe ons die 100ste episode opgeneem het, was ek trots op die werk wat ek daar gedoen het en ek het gevoel ek het nou gedoen wat ek moes. Nou gaan ek saam met hom [Harry] werk.”

Harry het in reaksie op dié antwoord gesê hy stry al sedert sy ontmoeting met die aktrise oor wat sy sou moet prysgee indien hulle wel sou trou. “Toe ek besef het ek is verlief op haar, het die verantwoordelikheid op my neergedaal. Ek moes haar bewus maak en voorberei waarvoor sy haarself inlaat. Dis nie sommer vir enigiemand nie en daar is baie verantwoordelikhede. Maar aan die einde van die dag het sy my gekies en ek het haar gekies. Op stuk van sake sal ons die stryd saam aansê. In dié stadium kom ons verhouding eerste.”

Sy het haar ontmoeting met koningin Elizabeth as “ongelooflik” beskryf. “Dit was wonderlik om haar te ontmoet deur Harry se oë – as die een vir wie hy hoog ag as die koningin en ook as die een vir wie hy lief is as sy ouma. Dit was vir my belangrik om hierdie verskillende dele van die koningin te sien. Sy is ʼn wonderlike vrou en ek het ongelooflike respek vir haar.”

Harry het gesê dit was “wonderlik” om haar ook aan ander lede van die familie voor te stel. “William en Kate wou haar baie graag ontmoet. Hulle is wonderlik en bied ons baie ondersteuning. Dieselfde geld vir my pa en my grootouers – die familie is baie ondersteunend.”

Markle se ring is saamgestel uit ʼn steentjie wat uit Botswana kom en diamante uit die ontslape prinses Diana se juweleversameling. Die paartjie het gesê hulle beplan ʼn gesin in die toekoms, maar wou nie verder uitbrei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MCS ·

Ek is so bly vir hulle, groot Harry fan en ook ‘n Suits kyker en het nog altyd van Megan gehou. Hulle pas uitstekend bymekaar. Hul is duidelik mal oor mekaar. Dieselfde liefde en respek word weerspieël vir mekaar as William en Kate. Hoe hul na mekaar kyk en mekaar aanvul se alles. Die koningshuis kan werklik trots wees op Megan.

koos ·

Harry praat van baie verantwoordelikhede. Ek het nie geweet on nie-verdiende geld uit te leef is ‘n verantwoordelikheid nie….

Petra ·

En die arme |Di het swaar gekry omdat sy met Dodi uitgegaan het. Woner net wa trek mens die streep??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.