Video: Robbie Wessels sing ʼn ode aan die Voortrekkermonument

Robbie Wessels en Pascal Pienaar in ‘Voortrekkermonument’. (Foto: Verskaf)

Robbie Wessels se splinternuwe enkelsnit “Voortrekkermonument” is pas uitgereik saam met ʼn pragtige musiekvideo wat by die monument in die hartjie van Pretoria geskiet is.

Wessels vertel die liedjie het ontstaan toe hy deur ʼn vrouekunstenaar genader is om ʼn liedjie vir haar oor dié monument te skryf.

“Ek het dadelik ingestem, want ek was opgewonde daaroor om iets oor die monument te skryf. Uiteindelik het sy besluit om nie die liedjie te gebruik nie, maar sy het my vrye teuels gegee om die liedjie te gebruik. Ek het toe besluit om dit self te sing en op te neem en is baie gelukkig met die eindproduk,” sê Wessels, wat in April ʼn nuwe album getiteld Sluise van die hemel uitgereik het.

Hy moes baie navorsing doen oor die monument tydens die skryf van die liedjie, sê hy. “Dit was so interessant om weer die geskiedenis oor die monument op te lees. Wat my eintlik die meeste bygebly het, is die ongelooflike argitektuur van die monument. Die koepel in die dak waar die son elke jaar op 16 Desember perfek op die klipsteen val, is verbysterende handewerk.”

Volgens Wessels is die boodskap van die lied dat ons ook ʼn lewe moet lei wat ʼn monument werd kan wees.

Robbie Wessels. (Foto: Verskaf)

“Dink net as iemand 30 of 40 jaar van nou, uit trots ʼn monument kan bou vir ons mense wat vandag leef,” sê hy.

Die musiekvideo is by die Voortrekkermonument opgeneem. Die voormalige Binnelanders-aktrise Pascal Pienaar is saam met Mila Nieman, Waldo Greeff, Juanru Henderson en Mia van Heerden in die video te sien.

Die regie en verfilming is deur Luther van der Watt van Yellow Lemon Media behartig. “Ek en hy werk al die afgelope paar jaar saam aan my musiekvideo’s. Luther is baie kreatief en het ook grotendeels met die konsep vir dié video vorendag gekom. My liedjies vertel mos maar altyd ʼn storie en dit is wat ons ook met die video wou uitbeeld.”

Wessels vertel dit was ʼn voorreg om die video in die monument te kon skiet. “Ons is dankbaar dat ons die toestemming kon kry om in die magiese monument te skiet. Gewoonlik is daar so ʼn stil atmosfeer in die monument en dit was ʼn wonderlike ervaring om in daai groot spasie te kon staan en van daar bo af te kyk op die klipsteen terwyl ek die lied sing,” sê hy.

“Voortrekkermonument” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Toergids ·

Baie dankie vir die mooi lied en merkwaardige musiek video. Dis altyd ‘n lekker voorreg om mense van oral oor die wêreld heen die Monument te wys, en vir hulle te vertel van ons merkwaardige geskiedenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.