[Video] SA akteur stort hart uit: ‘Ek word beter, nie bitter’

Pietie Beyers (Foto: Facebook)

Pietie Beyers, die Afrikaanse akteur wat veral bekendheid verwerf het vir sy rolle in Lien se lankstaanskoene en Binnelanders, het vandeesweek in ʼn video op Facebook sy hart uitgestort oor die pad vol duwweltjies wat hy die laaste jaar moes aandurf en die lesse wat hy op dié pad geleer het.

Beyers het gesê hy het besluit om dié video te maak en sy storie te deel omdat “dit terapeuties” is, maar ook omdat hy ander mense wat met dieselfde uitdagings moontlik kan help.

Beyers sê dit het alles begin toe hy verlede jaar in die hospitaal opgeneem is.

“Ek het in September verlede jaar hepatitis opgedoen en was vir twee weke in die hospitaal opgeneem en ʼn rukkie daarna nog bedlêend. Ek het in dié tyd besluit om op te hou rook en drink – nie omdat ek moes nie, maar omdat ek wou. Ek het kort daarna ook my werk verloor en toe die obsessief-kompulsiewe steuring ontwikkel.”

Dié laaste paar maande was in ʼn sekere sin die beste nege maande van my lewe, vertel hy.

“In die hospitaal, met die niksheid en stilte, het iets verander. Ek het byvoorbeeld ongelooflik uitgesien na die maaltye, en wanneer die maaltyd gekom het, het ek elke happie waardeer en geniet. Ek het stadig begin besef die lewe gaan nie oor ʼn gevoel jaag of dat jy nou al moet wees wie jy oor tien jaar gaan wees nie. Die lewe is hier, vandag, op hierdie oomblik. Dit gaan daaroor om elke oomblik en elke ervaring te geniet, en ek het daarvoor dankbaar geword.

“Dit is hoegenaamd nie ʼn preek vir enigiemand nie. Rook en drank werk net nie goed met my nie, of ek is net nie goed daarmee nie. Sedert ek ophou rook en drink het, voel my denke helderder. Ek weet meer wie ek wil wees. Ek het nou wel die obsessief-kompulsiewe steuring, maar ek weet meer oor wie ek wil wees,” sê hy.

Beyers sê hy was baie teleurgesteld oor die einde van sy rol in Binnelanders. Hy het die rol van dr. Deon Visser vertolk.

“Aan die begin van die jaar het die vervaardigers my laat weet dat Deon se paadjie vir eers tot ʼn einde kom. Dit was ʼn teleurstelling, want ek het dit onsettend geniet om deel te wees van die span. Sy storielyn het aan die einde ʼn bietjie opgetel en ek kon bietjie wys waartoe ek in staat is, en ek het dit ongelooflik baie geniet.

“Dinge het vir ʼn kort rukkie erger geword. In my geval is die obsessief-kompulsiewe steuring konstante negatiewe gedagtes wat soos ʼn treintjie op ʼn spoor oor en oor deur my gedagtes ry. Dieselfde gedagte kom tien, 20, 30, 40 keer in my gedagtes op tot ek paniekerig raak daaroor. Dit klink maklik om te sê jy moet bloot nie daaroor dink nie, maar as jy eers in die strik beland, het die steuring jou beet.”

Hy sê die pad wat hy agter die rug het, het hom ʼn paar lewenslesse geleer. Hy sê die Facebook-video is om vir ander met soortgelyke vrese te wys dat môre oukei gaan wees en dat ʼn mens liewer elke oomblik behoort aan te gryp.

“Ek het in die hospitaal besef hoe dankbaar ek is vir klein dingetjies. Toe ek ophou drink en rook het, het ek besef wie ek wil wees. Toe ek my werk verloor het, het ek besef ek kan ʼn les leer daaruit. Ek kan leer en verbeter – ek gaan nie bitter word nie, ek gaan beter word. Met die obsessief-kompulsiewe steuring het ek besef ek kan nie die lewe beheer nie. Die lewe gaan in elk geval gebeur: Of ek die ‘toaster’ tien keer of vier keer afsit, dit bly dieselfde ding. Ek moet die oomblik vertrou en die res laat gaan.

“My grootste uitdagings het my grooste krag en seëninge geword. My siel is gesonder as ooit. Dalk is dit omdat ek die uitdagings met braafheid en eerlikheid aangedurf het. Ek wil beter word en ek wil groei. Ek wil nie preek nie omdat ek nie weet wat in enigeen se lewe aangaan nie, maar as daar uitdagings is, kyk hulle in die oë en vat hulle aan. Jy wil beter word en jy kan beter word, en as jy dit glo, gaan jy. Wees eerlik, wees braaf en gaan daarvoor.”

Ons almal het ons uitdagings.Share gerus as hierdie iets vir iemand kan beteken.

Posted by Pietie Beyers on Sunday, August 20, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stefan ·

Nog altyd gedink dis “dubbeltjies”… So leer mens elke dag.

Elize ·

Ai, ons is darem maar n kritiese, bitter ou klompie bymekaar. Ek moes die deel waar hy sê hy het homself gediagnoseer, misgelees het. Of neem ons nou maar net aan omdat hy nie n terapeut noem nie, dat dit die geval is?

Yollipit ·

Mens kry verskillende soorte OCD. daar is nie net een spesifieke soort nie

louise viviers ·

Mooi om positief te dink en die bul by die horings te pak. So moeg vir al die negatiewe nuus elke dag. Hoop ons sien jou gou weer op Binnelanders

Thea ·

Pietie ek mis jou karakter in binnelanders vreeslik! Ek nogal gedink hier vang Naomie ook nou n man!!!
Binnelanders bring hom terug GROOT asb!!
Dis tyd dat Bronwyn (wat nooit haar kop kan stilhou nie) waai en vat haar simpel dogter ook saam hulle is to much!!

HK ·

Dankie Pietie. Jou opregte woorde en wense dat ons kan beter word, as ons WIL beter word, is waar. Leef in die oomblik, geniet die oomblik nou, more is nie n gegewe nie. Sterkte, hoop om nog motiveringsboodskappe van jou te ontvang. Blogg n bietjie, mens loop hierdie paaie nie sonder n rede nie, jy kan ander help.

AUCS ·

Prys die Here vir wat gebeur het Pietie. Jy het wonderlike insig verkry uit dit wat met jou gebeur het en swaarkry is soms ‘n groot seen in mens se lewe. In dit wat jy skryf is daar nog net te veel van “ek het dit en ek het dat en ek wil sus en ek wil so” maar voordat daar nie minder ek en meer Jesus in ons lewens is nie, is alles tevergeefs. Mag dit met jou baie goed en voorspoedig gaan vorentoe met jou hand in Jesus s’n.

E ·

Ha ha Thea, geniet ek nou jou kommentaar oor Bronnie en die swaaiende koppie. Dog ek was die enigste vir wie daai irriteer. Mens raak amper seesiek om vir haar te kyk! Moet eerlik wees, ek is ook al moeg vir “Keeping up with the Abrahamse” wat Binnelanders se storielyn deesdae is. Vir n geruime tyd al, en wens self Lex wil eerder maar in die Kaap gaan studier, dan sien ons dalk minder van haar. Om op Pietie Beyers kommentaar te lewer – ek persoonlik dink dat hy in sy tyd in Binnelanders werklik baie gegroei het as akteur. Ek mis hom nogal. Binnelanders kan hom eerder van tyd tot tyd terugbring as Herman du Preez wat kronies sy verskyning maak.

Maria ·

Baie baie dankie vir jou storie en boodskap wat jy met ons deel Dit skep my meer moed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.