Video: Sanger vra jawoord op verhoog

Maryke Steyn was duidelik verras toe Herman Kleinhans op een knie neersak om die jawoord te vra. (Foto: Skermgreep uit video)

Die sanger en liedjieskrywer Herman Kleinhans het die naweek op die verhoog op sy knie gesak om Maryke Steyn die jawoord te vra.

Steyn was tydens die jaarlikse Gifbergspookfees in Vanrhynsdorp, waartydens sy die klavier gespeel het, uit die veld geslaan toe Kleinhans skielik in die middel van die liedjie “Vliegtuig” ʼn ringboksie uit sy broeksak pluk en op sy knie gaan.

“Vliegtuig” vertel die verhaal van sy ontmoeting met Steyn op die maatsoek-app Tinder. Kleinhans en Steyn het albei in Port Elizabeth grootgeword en die titel van die liedjie kom van hul droom om eendag saam ʼn vliegtuig te besit.

Kleinhans vertel aan Maroela Media dat hy ʼn legio idees gehad het om vir Steyn te vra om sy vrou te word, maar dat hy besluit het om dié liedjie deel van sy planne te maak.

Herman Kleinhans en Maryke Steyn. (Foto: Facebook)

“Dit was die perfekte geleentheid om almal bymekaar te kry en haar ouers en beste vriendin kon ook daar wees. Dit is belangrik om dit te vier saam met mense vir wie jy lief is. Alles het uiteindelik mooi uitgewerk. Maryke speel deesdae saam met my op konserte, so ek het gevoel die verhoog is ook die regte plek om dit te doen.”

Steyn was duidelik verras oor die groot vraag. Volgens Kleinhans is dit presies hoe hy dit wou gehad het.

“Ek het regtig my bes gedoen om dit ʼn verrassing vir haar te hou. Dit was amper die moeilikste gedeelte, want daar was ʼn bietjie logistiek wat in plek moes val. Ek moes ook ʼn paar keer vir haar jok, waaroor ek sleg voel,” sê hy.

ʼn Juweliersvriend het die ring gemaak en hy kon haar ringgrootte kry deur ʼn storie op te maak dat dié vriend ʼn ring gratis vir haar gaan maak.

“Toe ons gisteraand by die huis kom ná die naweek en weer oudergewoonte ʼn vuurtjie aansteek en braai, het dit werklik eers by ons ingesink. Ons is ongelooflik gelukkig om die minste te sê.”

Kyk hier na ʼn video van die groot oomblik:

"Jy weet eendag sal ek jou my vrou maak…"Ek het nie gejok nie en sy het ja gesê.Lief vir jou en dankie Maryke Steyn. Daar's vrede en vreugde in my hart.

Posted by Herman Kleinhans on Tuesday, March 30, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Excalibur ·

Sing Herman Sing! Jou lied wat Liefde Bring!! Wat ‘n opregte en pragtige, dog oorspronlike romanse.
Mag Jesus Liefde en jul rein harte in musiek die weg vind na die ewige paradys…Baie Geluk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.