Video: Stap jouself ligter

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Dit is ʼn mite dat ʼn mens ure elke week in ʼn gimnasium hoef deur te bring om ʼn beduidende hoeveelheid gewig te verloor. Al wat jy kort is ʼn paar staptekkies en die buitelug.

Deur gereeld te stap hou verskeie moontlike gesondheidsvoordele in, en gewigsverlies is net een daarvan. Stap is ook die maklikste en kostedoeltreffendste vorm van oefening wat ʼn mens kan doen.

ʼn Studie deur die Journal of Exercise Nutrition and Biochemistry dui op die positiewe gevolge wat stap op vetverbranding en die verkleining van die omtrek van die middellyf in oorgewig vroue kan hê.

Die vroue wat aan die studie deelgeneem het, het altesaam 12 weke lank drie keer per week tussen 50 en 70 minute gestap. Ná die studie is bevind dat hulle ʼn gemiddeld van 1,5% liggaamsvet en 2,54 cm rondom die middellyf afgeskud het.

Hoewel die verhoging van enige aktiwiteitsvlakke sekere voordele inhou, is daar sommige dinge wat ʼn mens kan doen om nog meer vet te verbrand terwyl jy stap. Dit sluit in om die spoed te vermeerder, opdraande te loop, te fokus op postuur en houding, en om meer treë per dag te gee.

Soos met draf, swem en ander vorme van aërobiese oefening, maak die spoed ʼn verskil. ʼn Mens verbrand meer kalorieë deur vinniger te stap in vergelyking met ʼn stadiger pas.

Dit beteken egter nie jy hoef te draf nie. Deur net ʼn vinniger stapspoed te handhaaf kan jy reeds ekstra kalorieë verbrand en sodoende die vetjies afskud.

Mik ook daarvoor om twee tot drie keer per week trappe of heuwels te klim. Dit help ook om kalorieë te verbrand.

Dit is belangrik om op jou houding en postuur te fokus wanneer jy stap. Jy behoort deurgaans voor jou te kyk aangesien dit help om jou spoed te vermeerder en jou treë langer te maak. Jy moet ook daarop fokus om jou maag- en boudspiere styf te trek terwyl jy stap. Jy kan dit heeltyd doen terwyl jy stap, of jy kan dit met kort pouses tussenin doen.

Dié tegniek help jou om krag op te bou en sorg dat jy nie beserings opdoen wat jou kan verhoed om voort te gaan met jou stapprogram nie.

Lig ook jou gemoed

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Stap bevorder nie net jou kardiovaskulêre gesondheid nie, maar is ook goed vir jou geestesgesondheid.

Volgens ʼn studie deur sielkundiges aan die Universiteit van Iowa in die VSA, kan deur slegs 12 minute per dag te stap jou gemoed lig – selfs sonder tradisionele gemoedopkikkers soos sonlig, die natuur, sosiale interaksie of ritmiese musiek.

Of jy nou in die natuur of binnenshuis op ʼn trapmeul stap, dit kan jou gemoed lig en stresvlakke verminder. Volgens ʼn studie wat in 2018 deur die Environment and Behaviour-joernaal uitgevoer is, hou dit egter meer voordele in vir jou geestesgesondheid as jy buite stap aangesien die serotonienvlakke wat jou kalm en jou gelukkiger laat voel, verhoog wanneer jy buite stap of selfs op ʼn trapmeul na beelde van die natuur kyk.

Bekendes wat stap

Rebel Wilson in 2017. (Foto: Instagram)

Die Australiese aktrise Rebel Wilson (42), onder meer bekend vir haar rol as Fat Amy in die Pitch Perfect-fliekfranchise, het die afgelope twee jaar haar aanhangers aan die gons met haar beduidende gewigsverlies.

Sy het in 2020 aangekondig dat sy “’n jaar van gesondheid” gaan aanpak en het benewens ʼn gesonde eetprogram ook gesê dat stap die oefening van haar keuse is.

“Ek weet ek is in ʼn gelukkige posisie, want ek het toegang tot ongelooflike persoonlike afrigters. Maar ek wil hê julle moet weet die meerderheid van die oefening wat ek vanjaar gedoen het, is deur net te gaan stap,” het sy gesê.

Maak nie saak waar sy haarself in die wêreld bevind het nie – sy het haar staptekkies aangetrek en in die pad geval.

Links is ‘n foto van Rebel Wilson toe sy aan die begin van 2020 aangekondig het dat sy op haar gesondheid gaan fokus. Regs is hoe sy nou lyk. (Foto’s: Instagram/Rebel Wilson)

“Stap is die beste manier vir my liggaamstipe om vet te verbrand. My wenk is dus om vir ʼn stappie te gaan. Ek geniet dit om vir ʼn uur lank te stap. As jy daartoe in staat is, doen dit. Kry jou liggaam aan die beweeg.”

Johrné van Huyssteen, die radio-omroeper en televisiepersoonlikheid wat onlangs die omroeperswese vir eers vaarwel toegeroep het om die eiendomsmark in die Vrystaat te betree, het ook tydens die inperking weens die pandemie ʼn groot hoeveelheid gewig afgeskud deur te stap, te draf en fiets te ry.

“Doen oefening waarvan jy hou, dan sal dit nie eers soos oefening voel nie,” sê Van Huyssteen.

In dié video gesels Van Huyssteen oor sy gesondheidsreis en hoe om gemotiveerd te bly om ʼn gesonde leefstyl te handhaaf:

Bykomende bronne: Medicalnewstoday.com, Prevention.com, Thehealthy.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.