Video: ‘Superster’-sanger se groot plan vir sy groot vraag

Anthonie en Launette op die Phi Phi-eilande (Foto: Verskaf)

Vir ʼn hele maand lank het die Afrikaanse sanger en televisieaanbieder Anthonie Bougas van Supersterre-faam beplan aan ʼn verlowing so reg uit ʼn romantiese komedie. En nou kon hy die vrugte pluk van al dié harde werk: Anthonie is “verlief én verloof” aan sy “beste vriendin”.

Hy het Sondag aan Maroela Media gesê dit was nie maklik om dié planne van sy meisie van agt maande, Launette van Niekerk, weg te steek nie. Hy wou dit ʼn verlowing maak wat haar sou oorrompel en met geen ander keuse laat as om ‘ja’ te sê nie. Daarom het hy alles wat hy die laaste paar jaar danksy romantiese flieks geleer het, sommer op een groot dag ingespan.

Anthonie en Launette het na die Phi Phi-eilande in Thailand gereis sodat hy haar die groot vraag kon vra. Hy het selfs voor die vakansie haar ouers toestemming om hul dogter se hand gevra. “Ek wou eers die seën van haar ouers hê voordat ek met enigiets anders voortgaan,” vertel ʼn opgewekte Anthonie. “Dit was net so spanningsvol soos jy jouself sal kan indink: ek, die stadsjapie, kom om die oom van die platteland se dogter te gaps! Maar hulle was bly vir ons en het hulle seën vir die verlowing gegee.

“Toe ons uiteindelik vertrek, het ek ʼn hele plan gehad: Launette was onder die indruk dat ons na die Phi Phi-eilande toe gaan om ʼn advertensie vir ʼn juweliersmaatskappy te verfilm. Min het sy geweet dat ek haar tydens die verfilming van dié kamtige advertensie sou vra om vir altyd myne te wees.”

Dit was ʼn “angswekkende” drie uur lange bootreis na die Phi Phi-eilande toe, vertel hy. “Ek het heeltyd net gedink hoe dit gaan afspeel en dan bly-opgewonde geraak vir die groot oomblik. As ʼn ou só graag die groot vraag wil vra, raak ʼn drie uur lange rit effe spanningsvol!”

Anthonie en Launette op die Phi Phi-eilande (Foto: Verskaf)

Met die verfilming van die “advertensie” op die eiland het die paartjie kamtig eers twee toetslopies gehad. Aan die einde van die video moes Launette elke keer ʼn hartvormige juweliersboksie oopmaak en dan ʼn briefie daarin lees. Die derde keer was dié briefie die groot vraag.

“Sy het onmiddellik trane in haar oë gekry,” vertel hy verder. “Toe sy sien die derde papiertjie is getik [waar die ander twee handgeskrewe was] het sy geweet iets is aan die gang. Die oomblik was so groot, ek kan amper nie eers onthou wat ek deur die hele verlowing gesê het nie. Dit was vir haar ook ʼn ongelooflike groot oomblik, maar sy het onmiddellik ja gesê. Ek is in die wolke.”

Die paartjie beplan nou om vir nog ʼn week in Thailand vakansie te hou voordat hulle na Suid-Afrika terugkeer. Hulle sal dan ʼn amptelike verlowingspartytjie saam met albei se families op die Vaalrivier hou. Daar is nog nie enige trouplanne of ʼn troudatum nie, sê hy.

“Die belangrikste is dat sy nou daardie ring dra en net myne is. En die ring is groot genoeg sodat jy 30 m ver kan sien dat sy ‘gevat’ is. Vir nou wil ek net eers ons verlowing geniet; iets wat my die gelukkigste mens op aarde maak. En dan wil ek die video van ons verlowing oor en oor kyk – want dit sal vir altyd die grootste oomblik in my lewe wees.”

Launette (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Willem ·

Mens mag daarna kyk, maar jy mag nie die tien gebooie oortree nie.

Geluk ·

Baie geluk en baie mooi maar ek het GEEN idee wie een van die twee is nie .. Hoop julle jongmense is baie gelukkig.

Driekie ·

Baie geluk julle twee. Julle is n pragtige paartjie. Mag jul lewe saam geseënd wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.