Video: Vervolgverhaal oor kernwapens beloof om te boei

v.l.n.r.a. Marius Vermaak, Stefan Vermaak, Anton Dekker.
v.l.n.r.v. Leon van Nierop, Bettie Kemp, Mari Molefe Van Heerden, Luan Jacobs, Su-an Müller-Marais. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Maroela Media se kantoor in Centurion het opnuut gewemel van toegewyde stemkunstenaars tydens die opname van die splinternuwe en aksiebelaaide radiovervolgverhaal, Operasie Umbra, vroeër vanjaar.

Hierdie drama wat in die dorpie Gansvlei afspeel, word tans uitgesaai en luisteraars kan die verhaal volg van kerngeheime, geraamtes wat uit kaste tuimel en ’n ondersoek wat handel oor Suid-Afrika se destydse kernwapenprogram.

Bettie Kemp, gesoute radiodramavervaardiger en regisseur, het weer die regisseurstoel ingeneem en vertolk boonop die rol van Francis Gerwel.

Marius Vermaak van Maroela Media het die reeks opgeneem en geredigeer.

Die stemme van Leon van Nierop, Mari Molefe Van Heerden, Su-an Müller-Marais, Anton Dekker, Stefan Vermaak en Luan Jacobs kan in die drama gehoor word.

“Ek dink dis ’n baie lekker storie wat gepas is vir die tyd waarin ons is in hierdie stadium. Dis ook ’n lekker onderwerp wat ons aanraak,” het Vermaak oor die verhaal vertel.

Su-an Müller-Marais (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Direkteur Frans Ludik van die Staatsveiligheidsagentskap word gevra om vas te stel waarom die skielike buitelandse belangstelling in Gansvlei, veral met betrekking tot agente uit Iran. Dit val saam met die skielike dood van Victor Gerwel, die polisiebevelvoerder op die dorp. Sy weduwee, Francis, het op haar dag kernfisika in Moskou studeer.

Kort voor lank is daar ʼn reeks gebeure wat die gesegde “waar daar ʼn rokie is, is daar ʼn vuurtjie” bevestig. Ludik het sy hande vol om vas te stel wat regtig destyds met die aftakeling van Suid-Afrika se kernwapenprogram gebeur het. Hy besef gou heelwat geheime uit die verlede is na die hede oorgedra. Dis of die kernsage van vroeër hom opnuut op Gansvlei afspeel. Geraamtes tuimel uit kaste. Umbra is nie verniet die donkerste deel van ʼn skaduwee nie.

“Ek geniet die idee om ʼn rol te vertolk waarin ons ʼn bietjie gewere kan uitruk en ons lywe Tom Cruise kan hou,” het Jacobs geskerts.

Hy het ook verklap dat luisteraars kan uitsien na ’n hele paar aksiebelaaide tonele wat tot ’n vliegtuigrit of twee insluit.

Anton Dekker (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Müller-Marais het vertel dat haar karakter, Matrone Bruinders, nie net ’n deel is van die ouetehuis op Gansvlei se versorgers nie, maar ook ’n geheime agent is wat allerhande duistere dinge moet ondersoek.

“Ewe skielik gons Gansvlei van agente, kernbomgeheime en uraanverrykte leë emmers wat iewers begrawe is, en almal wil weet wat die konnotasie met die werklikheid is,” het Müller-Marais uitgebrei.

Die eerste deel van die reeks is in Maart opgeneem en die tweede deel van die opname skop in Mei af.

Hierdie deel van die opname sal die sepiester Ansu Visser insluit.

  • Operasie Umbrais ʼn spanningsverhaal van 120 episodes, geskryf deur Joe Kleinhans, vervaardig deur Bettie Kemp in samewerking met Maroela Media.
  • Van Maandag 25 April is daar elke weekdag ʼn nuwe episode beskikbaar wees om na te luister. Luister na die episodes hier op Maroela Media of op een van die gemeenskapsradiostasies wat die drama uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.