Vin Diesel begelei Paul Walker se dogter na die kansel

Vin Diesel begelei vir Meadow Walker na die kansel op haar troue. (Foto: Instagram/Meadow Walker)

Meadow Walker, dogter van die ontslape akteur Paul Walker, is vroeër vandeesmaand getroud met die akteur Louis Thornton-Allan.

Vin Diesel (54), Paul se jare lange vriend en medester in die The Fast and the Furious-flieks, waarin hy voor sy dood verskyn het, het vir Meadow na die kansel begelei.

Vin is ook Meadow se peetpa. Die oomblik is vasgevang in ʼn foto wat Meadow op Instagram gedeel het. In dié foto dra hy ʼn ligblou pak en ʼn sonbril.

Die paartjie is in die Dominikaanse Republiek getroud en het met die tydskrif Vogue oor hulle troue gepraat.

“Ons kon ons nie ʼn meer perfekte en persoonlike dag indink nie. En dit was eerlikwaar net maklik en eenvoudig. Ek en Louis het van die begin af presies geweet wat ons wou hê. Dit was ʼn baie intieme viering,” het Meadow (22) gesê.

Meadow-en-Paul-Walker-

Meadow en Paul Walker voor sy dood in 2013. (Foto: Facebook)

“Ons was almal kaalvoet en het in die sand gedans. Om die aand af te sluit was daar ʼn wonderlike vuurwerkvertoning en ons het lanterns aangesteek wat in die prentjiemooi naglug opgestuur is.”

Paul (40) was in November 2013 die passasier in ʼn 2005 Porsche Carrera GT toe hulle ʼn lamppaal getref en die motor aan die brand geslaan het.

Die bestuurder, Roger Rodas, het beheer oor die motor verloor, waarna hy ʼn betontelefoonpaal en twee bome getref het teen ʼn snelheid van tussen 125 en 150 km/h.

Paul het ʼn liefdadigheidsgeleentheid vir tifoonslagoffers in Valencia, Kalifornië, verlaat toe die ongeluk plaasgevind het.

Ná sy dood het Vin en Meadow na aan mekaar gebly. Hy het in Junie vanjaar in ʼn onderhoud met Extra gesê Meadow “kyk mooi na hom”.

“Sy is die eerste persoon wat my ʼn gelukkige Vadersdag toewens. Om haar saam met my eie kinders te sien is een van die mooiste goed. Daar is tye wanneer ek haar sien speel met my sesjarige dogter, Pauline, en dit tref my diep, want ek kan net dink wat my broer [Paul] sou dink as hy dit kon gesien het,” het Vin gesê.

“Ek voel baie beskermend teenoor haar.”

Jordana Brewster, die aktrise wat ook in The Fast and the Furious-franchise te sien is, het ook die troue bygewoon.

Bronne: CNN, People.com

https://www.instagram.com/p/CVWUs1Np-4X/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.