Voormalige Mej. SA heet nou mevrou

Adè van Heerden en Alex Forsyth-Thompson op hulle troudag. (Foto: Megan & I Photography/Instagram/Adè van Heerden)

Adè van Heerden, die voormalige Mej. Suid-Afrika wat in 2017 dié gesogte kroon gedra het, spog nou met diamante van ʼn ander soort nadat sy op Vrydag 8 Oktober voor die kansel gestaan het.

Van Heerden (30) heet nou mevrou nadat sy en Alex Forsyth-Thompson, ʼn finansiële ontleder van Johannesburg, by die Mdluli Safari Lodge in die Krugerwildtuin, Mpumalanga, in die huwelik bevestig is.

Dié voormalige skoonheidskoningin en mediese dokter heet nou amptelik dr. Adè Forsyth-Thompson op haar Instagram-profiel. Sy het ook die afgelope naweek twee pragtige foto’s van die groot dag op dié sosialemediaplatform gedeel.

“En so begin ons avontuur,” lui die inskrywing by een van die foto’s. Op die ander foto spog sy met ʼn rits pragtige bruidmeisies, almal in roomkleurige rokke geklee.

Dit was ʼn intieme geleentheid, met slegs sowat 80 gaste wat teenwoordig was. Die gaste is vermaak deur The Kiffness en The Stinging Rogers Band.

Adè van Heerden (middel) saam met haar bruidsmeisies. (Foto: Megan & I Photography/Instagram/Adè van Heerden)

Van Heerden het in Januarie vanjaar haar verlowing aan Forsyth-Thompson aangekondig. Hulle was ʼn geruime tyd in ʼn verhouding voordat hy ʼn ring aan die langbeenskoonheid se vinger gesteek het by die Emily Moon River Lodge.

Adè, ʼn gekwalifiseerde dokter van die Wes-Kaap, is in 2017 as eerste prinses aangewys tydens die Mej. SA-kompetisie, wat daardie jaar deur Demi-Leigh Nel-Peters (nou Tebow) gewen is. Sy is egter later as Mej. SA gekroon toe Demi-Leigh as Mej. Heelal gekroon is.

Sy het Suid-Afrika in 2017 by die Mej. Wêreld-kompetisie in China verteenwoordig en die toptien gehaal, asook die “Beauty with a Purpose”-prys ingeoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AmY

Baie geluk. Alles van die mooiste vir julle.