Vurige Lydia Winchester inspireer nuwe jenewergeur

Lydia Winchester het ʼn nuwe mango-gegeurde jenewer geïnspireer. (Foto: Verskaf)

Die alombekende publisiteitsagent en skakelbeampte Lydia Winchester se borrelende persoonlikheid het ʼn nuwe mango-gegeurde jenewer genaamd Sunstone Gin geïnspireer.

Volgens Charl van der Merwe, mede-eienaar van Black Crow Handcrafted Gin – wat dié nuwe jenewer vervaardig – verpersoonlik die Sunstone alles wat Lydia is. “Die oranje is vir haar borrelgompersoonlikheid en die veselagtige sappige mango kon maklik Lydia se ‘vrugte‑alter ego’ wees,” verduidelik hy.

Van der Merwe en sy broer David Divaad het Black Crow gestig kort voordat die Covid-19‑pandemie die wêreld getref het. Die streng inperking en drankverbod het menige mens na die pynappel- en aartappelskille laat gryp, maar die broers het besluit dat hul jenewer gaan stook en kort voor lank het twaalf verskillende glinsterende Black Crow-geure op die rakke van drankwinkels landswyd gepryk.

Divaad vertel dat die idee van Sunstone Gin op Lydia se kuierstoep gebore is. “Ek en my broer het tydens een van ons besoeke aan Lydia gesien (en geruik) hoe sy een van haar spoggeregte aanmekaar slaan.”

Ons het ons ook verluister aan die manier waarop sy die resep aan ons verduidelik het. Die hoofbestanddeel van dié gereg was mango’s. Ons het ook later uitgevind dat oranje haar gunstelingkleur is. Op pad terug Limpopo toe het ons besluit om ’n jenewer, waarin ’n mens Lydia se persoonlikheid kan proe, te ontwikkel,” sê Divaad.

Sunstone Gin is op Lydia se kuierstoep gebore. (Foto: Verskaf)

In tipiese Lydia-styl het sy ook haar eie persoonlike handtekening, “Love Lyds”, agterop die bottel aangebring. Die bottel en etiket is ook volgens Lydia se unieke eienskappe ontwikkel; die bottel is kort en slank en die etiket skree sommer “have you ever” (ʼn gunsteling‑sêding van haar) as jy daarna kyk.

Maroela Media het vroeër berig oor die vurige rooikop se lang loopbaan in die musiekbedryf, waartydens sy met ikoniese kunstenaars soos Min Shaw, Gé Korsten, Annelie van Rooyen en Johan Stemmet gewerk het. Sy het ook al talle nuwelinge soos Jakkie Louw, Jan Blohm, Jennifer Zamudio en Rudi Muller onder haar vlerk geneem.

“Natuurlik loop musiek en jenewer hand aan hand,” knipoog Winchester. “Ek werk al ’n rukkie saam met David en daar is ’n sekere sinergie tussen ons. Ons werk lekker saam en albei van ons sien daarna uit om by die jenewerprojek betrokke te raak.”

Winchester se naam is egter nie enigste wat op ʼn bottel Black Crow pronk nie. Die blonde treffermaker Irene-Louise van Wyk het verlede jaar ʼn sagte pienk spookasem-gegeurde jenewer deur dié distilleerdery bekendgestel.

Die Sunstone Gin is nou aanlyn beskikbaar en kan ook by uitgesoekte drankwinkels gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.