Wat jy nié van die koningin se kroning geweet het nie

Koningin Elizabeth II is op 2 Junie 1953 by Westminster-abdy gekroon. Foto: The Royal Family via Twitter

Dié feestelikheid in Brittanje het nog nie eens bedaar ná die onlangse skouspelagtige koninklike troue nie en die land het reeds weer rede om fees te vier.

Vandag word die 65ste herdenking van die kroning van koningin Elizabeth II gevier. Die koningin is op dié dag in 1953 in die Westminster-abdy gekroon. Die vierjarige prins Charles was destyds aanwesig toe sy ma gekroon is. Die klein prinsie het sy eie spesiaal ontwerpte uitnodiging na die kroningsgeleentheid ontvang.

In 1937 het die 11-jarige prinses Elizabeth ook toegekyk hoe haar pa, koning George VI, gekroon word en 16 jaar later, op 2 Junie 1953, het haar eie kroning plaasgevind.

Britse kroningsgeleenthede vind al die afgelope 900 jaar in die Westminster-abdy plaas en die kroning van Elizabeth II was die eerste kroning wat regstreeks op televisie uitgesaai is. Net in die Verenigde Koninkryk het meer as 27 miljoen mense na die kroning gekyk.

Koningin Elizabeth II is op 2 Junie 1953 by Westminster-abdy gekroon. Foto: The Royal Family via Twitter

Ter viering van die geleentheid het Clarence House Saterdag op sy amptelike webtuiste ʼn paar interessante feite oor hierdie geskiedkundige dag gedeel:

  1. Koningin Elizabeth II is die sesde koningin wat in die Westminster-abdy gekroon is. Die eerste was koningin Mary I wat op 1 Oktober 1553 gekroon is.
  2. Die koningin se ouma, koningin Mary (81), vrou van George V, sou die eerste koningin in die geskiedenis gewees het wat gesien het hoe haar kleinkind die troon bestyg. Sy is egter dood voor die kroning kon plaasvind.
  3. Die koningin se kroningsrok, ontwerp deur die Britse ontwerper Norman Hartnell, is gemaak uit wit satyn en borduur met die embleme van die Verenigde Koninkryk en die Statebond in goud en silwer garing.
  4. Sedert die kroningsgeleentheid het die koningin haar kroningsrok nog ses keer gedra insluitend tydens die opening van die parlement van Nieu-Seeland en Australië in 1954.
  5. Die koningin se kroningsdiens het om 11:15 begin en het drie uur lank geduur.
  6. Op pad na die kroningsdiens het Elizabeth die George IV-staatskroon gedra – dit is die kroon wat op Britse seëls verskyn. Die kroon is in 1820 gemaak en bestaan uit uitbeeldings van rose, klawers en distels met 1 333 diamante en 169 pêrels.
  7. Tydens die kroning is die St. Edward-kroon op Elizabeth II se kop geplaas. Dié kroon dateer van 1661, is gemaak van soliede goud en weeg net minder as 2 kg.
  8. Altesaam 8 251 gaste het koningin Elizabeth II se kroning in die Westminster-abdy bygewoon.
  9. Vir sommige van die gaste was dit die vierde keer wat hul ʼn kroningsdiens bygewoon het. Prinses Marie Louise (koningin Victoria se kleindogter) het ook die kroningsdienste van koning Edward VII (1902), koning George V (1911) en koning George VI (1937) bygewoon.
  10. Die kroningsring, bekend as The Wedding Ring of England, is in ooreenstemming met tradisie op die koningin se ringvinger aan haar regterhand geplaas. Die kroningsring is gemaak vir die kroning van koning William IV in 1831 en is sedertdien nog by elke kroningsdiens gedra, behalwe vir die kroning van koningin Victoria, wie se vingers so smal was dat die ring nie klein genoeg gemaak kon word nie.
  11. Daar was meer as 2 000 joernaliste en 500 fotograwe van 92 lande langs die kroningsroete. Onder die buitelandse joernaliste was Jacqueline Bouvier van die Washington Times-Herald – sy het later die presidentsvrou van die VSA geword toe sy met John F Kennedy getroud is.
  12. Die bekende gereg Coronation Chicken is uitgedink vir die buitelandse gaste wat op die kroningsdag onthaal is. Die kos moes vooruit gemaak geword het en die bloemis Constance Spry het ʼn resep voorgestel van koue hoender in ʼn kerrieroomsous met ʼn slaai van rys, ertjies en gemengde kruie. Spry se resep is goedgekeur en die gereg staan sedertdien as Coronation Chicken bekend.

Lees hier vir meer inligting oor die kroning van koningin Elizabeth II.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

LHS ·

Die meeste nie geweet nie en stel ook nie belang om dit te weet nie, wat ek wel weet is hoeveel Boere, vrouens en kinders gedurende die Anglo boere oorlog gesterf het.

Paul ·

Weet jy ook dat koningin Elizabeth II in 1902 presies minus 24 jaar oud was? So hoe het sy enigiets daarmee te doen gehad? Tydmasjien?

Piet Snot ·

Sy verteenwoordig, Paul, Groot Brittanje, Engeland, selfs Australië en al die ander ongenooide gaste wat kom fees hou het op die lyke van Afrikanerkinders en boervroue.
In daardie hoedanigheid staan sy dus in vir die sondes van haar vaders.
En, mind you, die ou girl het nog nie sover gekom om in daardie of enige ander hoedanigheid verskoning te vra vir wat haar mense aan ons mense gedoen het nie.
So LHS is 100% in die kol.

JJ ·

so jy wil he hulle moet onverskoning vra? maar julle wil niks se oor iets wat nou maar eers 24jaar verby is nie? tiepies.

John ·

Ja, dis ook al wat Brittanje het… ‘n groot show en baie titels om so die aandag van die wereld te behou. Een feit is verswyg nl dat die huidige koningshuis nooit daar sou wees as die oom nie verhoed is om koning te word nie. Diana het ook van meer adelike bloed afgestam as haar mankoliekerige eggenoot, Charles.

Jo-Anne ·

Ag asseblief. As julle dan nie belang stel nie, Hoekom kliek julle in die eerste plek op die berig en lees dit en tweedens, hoekom lewer julle kommentaar? Regtig waar, julle tyd so mors op dinge waarin julle nie belangstel nie.

M ·

Ek stem 100% saam met jou. Hoekom lees mense artikels oor onderwerpe wat hulle verpes? Kyk eerder na die haglike omstandighede in ons land voor julle gal braak oor ander.

Gertruida ·

“Die kos moes vooruit gemaak geword het” – vreemde Afrikaans wat jul gebruik!

Gertruida ·

“Die kos moes vooruit gemaak geword het” – vreemde Afrikaans wat jul gebruik! Unieke feite.

Dorothea ·

Net om te dink haar geslag sal nooit honger wees nie. Wat ‘n lekker lewe!

Steven ·

Aan LHS & Piet Snot: so julle hou nie vd kos op die spyskaart, maar bestel dit dan en neul en kla daarna….Red ‘n nasie met sulkes!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.