Watwou kitskos, Alvin is nou koning van dieetkos!

Alvin se resultate na drie weke (Foto: Facebook)

Oor die jare het hy al hoe meer gewig aangesit. Hoekom weet hy nie … dalk is dit stres, dalk die ouderdom, of dalk bloot sy soettand? Maar die Covid-19-pandemie het Alvin Bruinders laat besef hoe belangrik ʼn gesonde, lang lewe is.

Alvin vertel aan Maroela Media dat hy sowat ses weke gelede begin het om ʼn gesonder leefstyl na te streef, en al is hy nog net aan die begin, voel hy reeds beter.

“Ek is eintlik ʼn gewone, 46-jarige, nierokende man. Ek het nie hoë bloeddruk of suikersiekte nie. Ek sukkel net met my gewig – en dit is wat ek moet uitsorteer.

“Ek het vir myself gesê ek kan as ʼn ongesonde mens vir sowat 60 jaar lewe of ek kan as ʼn gesonde mens vir 80 jaar of langer lewe. Ek wou nie myself beroof van daardie 20 jaar nie,” sê hy.

Alvin sê hy het vantevore baie meer aandag aan sy werk en sy sakeonderneming as aan sy gesondheid gegee, en hy dink dit het ʼn negatiewe uitwerking op sy gewig gehad.

Alvin saam met sy gesin (Foto: Facebook)

Toe sy onderneming tot ʼn stilstand kom weens die Covid-19-pandemie, het hy wel besef dat sy werk nie alles vir hom kan wees nie. “Dit help nie jy skeep jouself af nie, want dan kan die onderneming in elk geval nie werk nie.”

Alvin het in die afgelope ses weke, met die ondersteuning van sy vrou, Anrika, ʼn gesonder maar volhoubare leefstyl probeer kweek. Sy maak vir hom gesonde kos, hy oefen gereeld en hy probeer genoeg water drink.

“Ek haat ʼn skaal, so ons meet die vordering in sentimeters. Ek het nou al oraloor 37 cm verloor. Maar vir my voel dit of ek nog niks bereik het nie. Dit is nog net die begin en dit is ʼn kopding. Elke dag is ʼn stryd.”

Alvin probeer deesdae drie maal per week oefeninge doen (Foto: Facebook)

Anrika ondersteun hom geweldig baie en Bruinders sê dit maak alles makliker. Hy vertel dat hy soms  sukkel om genoeg water te drink, maar dat Anrika dan sommer iemand by sy kantoor sal bel om vir hom water aan te dra en seker te maak hy drink dit.

Alvin is deel van twee kosprogramme op televisie, Konings van kitskos, saam met Gerhard Steyn, en ook  Laat die potte prut op VIA. Hy was ook die sjarmante Sheridan in die televisieprogram Vetkoekpaleis. Hy sê sy werk maak dit nie aldag maklik om by sy nuwe gesonde gewoontes te hou nie – elke dag is ʼn uitdaging.

“Ek en Anrika praat baie daaroor dat ons net die dae aanmekaar moet stik, soos met ʼn naald en gare. Ons vat een dag op ʼn slag. Een dag word twee dae en dan ʼn week, en as jy net aanhou stik, raak die dae later weke aaneen.”

Alvin sê hy het nie ʼn teikengewig of ʼn sekere aantal sentimeters wat hy wil verloor nie. Hy wil dié nuwe manier van lewe absoluut as sy nuwe leefstyl aanneem.

Alvin en Gerhard in Konings van Kitskos (Foto: Facebook)

Tydens die streng inperkingsvlakke vroeër vanjaar het Bruinders gesien hoe mense sukkel met gesondheid en selfs hoe mense hul lewe verloor het.

“Ek het net ʼn bietjie stil gesit en myself afgevra waaroor dit eintlik gaan,” sê hy. “ʼn Ryk lewe het te doen met ʼn lang lewe, om die maksimum uit die lewe te kry en om daar te wees vir jou geliefdes.

“Ek het ook besef ek is nogal ʼn ou wat daarvan hou om myself uit te daag en om te gaan vir iets as ek dit wil hê. Ek doen dit in my werk, so hoekom kan ek dit nie hiermee doen nie? Ek het vir myself gesê: Daar is niks wat jy nie kan doen nie. Get a grip, man.

Alvin doen allerhande oefeninge om gesonde te bly (Foto: Facebook)

Hy het meer aktief begin word, en doen nou minstens drie keer per week een uur lank oefeninge.

“Ek het dit vir myself uitgewerk – daar is 168 uur in ʼn week, iewers kan ʼn mens drie uur kry om oefeninge te doen. Drie uur uit 168 uur is nie te veel gevra nie; selfs al is een van daardie ure dan op ʼn trapfiets voor die televisie terwyl jy rugby kyk, is dit ook reg,” sê hy.

Alvin sê hy voel reeds beter en hy voel die resultate aan sy lyf, al is dit nog net die begin. Hy is vasberade om dié leefstyl te handhaaf sodat hy ʼn gesonder en langer lewe saam met sy geliefdes kan hê.

“Jy kan nie ʼn klomp jare se ongesonde gewoontes in ʼn paar maande regmaak nie. Dit is ʼn kopding en ek moet net aanhou en uithou. En as ʼn mens dit regkry, raak dit jou as mens, jou hele menswees en jou selfvertroue.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Blikkantien ·

Sterkte en welgedaan! Jy het darem nou al die eerste tree gegee.

Lynette ·

Alvin, Baie geluk en Baie sterkte met n Baie Groot stap. Ek sit self waar jy is en het besef ek skuld myself n ligter en gesonde lewe. Ek stap saam met jou.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Aanhouer wen! “He who dares, wins.” (Ou Rhodesiese weermag motto.)

Regterbal ·

Alvin ek is nog steeds ‘n dikgat…..wat van ek en jy hê ‘n gewigs verloor kompetisie? Miskien sal dit my ook motiveer soos vir jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.