WEF vereer bekendes vir filantropie

elton john

Elton John word vereer. (Foto: Wêreld Ekonomiese Forum/Benedikt von Loebell/ANA)

Die Oscar-bekroonde aktrise Cate Blanchett en die musiekster Elton John is Maandagaand in Davos-Klosters, Switserland, deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) vir hul filantropiese werk vereer.

Blanchett en John het saam met die Bollywood-akteur Shah Rukh Khan tydens die WEF se openingsaand die Crystal-toekennings ontvang.

Die Crystal-toekennings, wat tans in sy 24ste bestaansjaar is, vier die prestasies van voorste kunstenaars wat “brugbouers en rolmodelle vir alle leiers van die gemeenskap is”.

Hilde Schwab, voorsitter en medestigter van die Wêreld Kunste Forum het gesê die toekennings staan vir leierskap, visie en deernis. “Persoonlikhede word vereer, nie net vir hul kuns nie, maar ook vir hul waardes.”

Blanchett, wat aangewys is as die internasionale welwillendheidsambassadeur van die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap, is vereer vir haar leierskap in die bewusmaking van die wêreldwye vlugtelingkrisis.

“Ek is diep dankbaar vir die erkenning wat die Crystal-toekenning verleen aan die erns van die wêreldwye vlugtelingkrisis, én die erkenning dat ons almal ʼn aandeel daarin het om oplossings te identifiseer en deur te voer,” het sy gesê.

Cate Blanchett

Cate Blanchett (Foto: Facebook)

“Ek voel as ek my posisie, en enige platform waartoe ek toegang het, kan gebruik om die soeklig terug te plaas op die individuele menslike stories van vlugtelinge, dan is dit my plig om dit te doen,” het Blanchett bygevoeg. Sy het ook deelnemers aan die WEF gevra om deur ʼn versterkte morele kompas gelei te word.

John, een van die suksesvolste musikante van alle tye, is vereer vir sy leierskap in die stryd teen MIV/vigs.

Die Elton John-vigsstigting het reeds meer as $400 miljoen ingesamel in ʼn poging om honderde MIV/vigs-voorkoming-, diens- en voorspraakprogramme reg oor die wêreld te ondersteun.

“Daar is vandag 20 miljoen mense ter wêreld wat lewensreddende MIV-behandeling ontvang. Ons het al soveel vooruitgang gemaak dat dit ʼn werklike moontlikheid raak om vigs teen 2030 uit te roei,” het John gesê.

“Die versuim om mense met gelyke respek te hanteer is wat vigs aangevuur het,” het hy gesê. “Die oomblik toe ons begin respekteer en die skande verjaag het, was die oomblik toe ons begin terugbaklei het.”

Die Indiese superster Shah Rukh Khan het ʼn Crystal-toekenning ontvang vir sy leierskap in die voorspraak vir vroue- en kinderregte in Indië, asook die hulpverlening aan vroueslagoffers van suuraanvalle en vroue met erge brandbeserings.

WEF

Shah Rukh Khan word vereer. (Foto: Wêreld Ekonomiese Forum/Benedikt von Loebell/ANA)

“Om ʼn vrou te vermink deur suur in haar gesig te gooi is een van die kruuste dade van onderwerping denkbaar. Aan die hart daarvan lê die siening dat vroue nie die reg het om hul eie keuse te laat geld nie,” het hy aan die gehoor in Davos-Klosters gesê.

Prof. Klaus Schwab, stigter en uitvoerende voorsitter van die WEF, het vroeër deelnemers verwelkom by die 48ste jaarlikse vergadering in Davos-Klosters. Hy het die WEF as die voorste multi-aandeelhouersgemeenskap ter wêreld beskryf. “Geen aandeelhouersgroep kan egter alleen die komplekse wêreldwye agenda op ʼn konstruktiewe wyse aandurf nie,” het Schwab gesê.

Die WEF se jaarlikse vergadering bring regerings, internasionale organisasies, sakelui, die burgery, kulturele leiers, die media, kenners en jong leiers van reg oor die wêreld byeen. Vanjaar se tema is “Creating a Shared Future in a Fractured World” en het die oogmerk om hernude toewyding tot internasionale samewerking te bevorder as ʼn wyse om kritiese wêreldwye uitdagings die hoof te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.