Willem Botha vier Kersfees op die plaas

Willem Botha.

Willem Botha bieg prontuit dat hy elke jaar sommer vroeg-vroeg die Kersfeesgees vang deur op die eerste dag van November reeds sy huis in uitspattige Kersversierings te tooi en dat hy geen probleem met Kersmusiek het wat luid in al wat ʼn winkelsentrum is speel nie.

Die veelsydige televisiepersoonlikheid, sanger, aanbieder en fotograaf vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dit is weens sy propvol dagboek die afgelope 15 jaar dat hy nooit regtig genot kon put uit die Kersversierings in sy huis sou hy te laat wakker skrik nie.

Tog ruim hy elke jaar tyd in vir familietyd saam met sy gesin op hul perdeplaas naby Riversdal in die Suid-Kaap. Pa Theuns, voormalige DA-politikus, en ma Sarie se nuwe huis op die plaas, wat tydens die inperking klaar gebou is, is vanjaar die milieu waarin die Bothas se Kersfees sal plaasvind.

“Die huis kyk uit oor die kloof en word absoluut vervolmaak deur sy uitsig. Ek dink dit gaan baie spesiaal wees om ons eerste Kersfees in die nuwe huis saam te vier,” sê Willem (33).

Willem se ouers Theuns en Sarie.

Sy broer Louis (36) en sy Australiese vrou Jaimee, asook hulle twee spruite Jaque (10) en Juan (7), sal by Willem en sy ouers aansluit vir Kersfees.

“My ma hou daarvan om ʼn groot Kerstafel te dek en begin weke voor die tyd al beplan aan ʼn spyskaart met skaapboud, hoender, ʼn verskeidenheid slaaie en nageregte. Ons eet omtrent oor die feestyd een stryk deur.”

Hy vertel dat hulle nie graag duur Kersgeskenke uitruil nie, maar dat hulle dit vir die kinders so laf en uitspattig as moontlik probeer maak. “Hierdie jaar is daar watergewere op die seuns se wenslysie. Die tweetjies is so slim om skermskote te maak op Ouma se foon van die geskenke wat hulle wil hê en dit namens haar vir my aan te stuur,” lag hy.

Perdry is in dié familie se bloed. Willem vertel hy en die seuns is ongelooflik geheg aan mekaar en hulle geniet dit om saam op die plaas perd te ry.

“Vir plaaskinders wat nie na shows toe gaan nie, is dit so lekker om te sien hoe ondersteunend hulle vir my is. Hulle moet elke televisieprogram waarop ek verskyn kyk en al my toerusting hê. Ons maak Kersfees vir hulle so spesiaal as moontlik, want ek en my broer het self soveel mooi herinneringe aan die Kerstyd as kinders.”

Willem en sy pa Theuns.

Hy benadruk dat sy familie vir hom uiters belangrik is. “Hulle is die mense wat daar was vir my toe ek die seerste gehad het en wat saam met my groot gebeurtenisse in my lewe vier. Ek en my broer het baie vry grootgeword en my ouers het ons die vryheid gegee om enige droom, maak nie saak hoe groot of klein nie, na te jaag. Ek dink daarom is ek altyd gemaklik met wie ek is en vreesloos as ek my drome aanpak.”

Hy het sy gesin maar min gesien dié jaar, sê hy. “Ek was ongelooflik geseënd met werksgeleenthede hierdie jaar. Ek het egter my ouers net een keer hierdie jaar vir ʼn paar weke gesien en kan nie beskryf hoe baie ek hulle mis nie. Die kwaliteittyd wat ons nou saam kan deurbring deur saam ʼn glasie wyn te drink en Katan te speel tot in die oggendure is kosbaar.”

Hoewel Willem ook noodgedwonge ʼn paar maande nie kon werk nie weens die inperking as gevolg van die Covid-19-pandemie, het hy middel vanjaar weer begin woeker as aanbieder van die kykNET-joernaalprogram Kwêla.

Tussendeur het hy aanlyn vertonings aangebied en sy fotografie-onderneming het van krag tot krag gegaan, met onder meer die Mej. Suid-Afrika 2020-finaliste, die aktrise Mandi du Plooy-Baard met haar kaalgeskeerde kop vir die sepie Getroud met rugby, en die sangeres Demi Lee Moore wat vanjaar voor sy gesogte lens gepryk het.

Willem doen al sy modelle se hare en grimering ook self. Hy het onlangs sy eie grimeerpalet getiteld Willem Botha – The Chosen Collection in samewerking met MUD Make-up uitgebring.

Die palet is onlangs tydens sy eerste grimeermeestersklas in Bloemfontein bekendgestel. “Die palet is ʼn samestelling van my gunstelingkleure waarmee ek die meeste van my looks skep. Ek kan nie beskryf hoe onwerklik die bekendstelling vir my was nie: Ek, ʼn plaasseun van ʼn landbouseunskool voor ʼn uitverkoopte saal vol vroue wat wil hê ek moet hulle wys hoe ek make-up doen. Malligheid!”

Mej. Suid-Afrika. Shudufhadzo Musida. Foto: Willem Botha

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.