‘William magsbehep, Kate gee valse beeld’ skryf koninklike kenner

Prins William en prinses Catherine, die prins en prinses van Wallis tydens vanjaar se Ascot-perdewedren. (Henry Nicholls/AFP)

ʼn Nuwe boek deur die sogenaamde koninklike kenner, Omid Scobie, tref Dinsdag boekrakke wêreldwyd en beloof leesstof vol plofbare onthullings oor die Britse monargie, gegrond op “indringende navorsing eerder as skinderpraatjies”.

Dié boek, getiteld Endgame, word deur uitgewer Harper Collins as ʼn ondersoek na die huidige stand van die Britse monargie bestempel.

“ʼn Ongewilde koning, ʼn koningin wat bereid is om gevaarlike stappe te neem om haar beeld te bewaar, ʼn magsbehepte troonopvolger en ʼn prins wat gedwing word om ʼn nuwe lewe te begin nadat hy deur sy eie familie verraai is,” lui die boek se beskrywing.

Verder beloof die Amerikaner se “unieke insig en dieper toegang” tot die Britse koninklikes verskeie eksklusiewe onthullings.

Scobie, wat glo na aan prins Harry en Meghan Markle is, het bekendgeraak ná die publikasie van die koninklike paartjie se nie-amptelike biografie, Finding Freedom, waarvan hy ʼn medeskrywer was.

Hy het sedertdien ʼn gunstelingkommentator oor die koninklikes onder veral die Amerikaanse media geword, en tree gereeld as korrespondent vir ABC News en Good Morning America op.

“Na al die snert wat deur mense wat nie die boek gelees het nie, geskryf is, sien ek uit daarna dat almal dit uiteindelik self kan lees,” het Scobie op die vooraand van die boek se bekendstelling in ʼn Instagram-plasing geskryf.

 

Endgame takel onderwerpe soos prins William en koning Charles III se beweerde botsende aanslae teenoor die modernisering van die monargie, die rasseherrie rondom prins Harry en Meghan se seun, prins Archie, se velkleur, en die koning se besorgdheid oor sy jonger broer, prins Andrew, se geestesgesondheid.

Kritiek op Catherine, die prinses van Wallis, blyk ook ʼn tema van sy boek te wees, met aantygings dat sy graag in fotogeleenthede verskyn, maar min wesenlike projekte aanpak, en ongemaklik is met sommige openbare koninklike geleenthede.

Met “verwysing na verskeie bronne”, beweer Scobie verder dat Kate nooit ʼn aanhanger van haar aktrise-skoonsus was nie en “gebewe het as Meghan se naam opduik”. Hy sê dat die toekomstige koningin verder spraaklesse gehad het en haar uitspraak gevolglik nou “meer deftig as haar man sʼn is”.

Die skrywer het ook Dinsdag in ʼn onderhoud aan Good Morning America gesê dat die hertog en hertogin van Sussex “niks met hierdie publikasie te doen het nie”.

Vir Britse koninklike liefhebbers sal 2023 heel moontlik as die jaar van onthullings onthou word.

Eers die naloop van prins Harry en Meghan Markle, die hertog en hertogin van Sussex se Desember 2022 Netflix-dokumentêr, eenvoudig getiteld Harry & Meghan. Toe die prins se onthullende memoires, Sparewaarin openhartig oor sy voortslepende vete met lede van die koninklike familie gesels word.

Sean Coughlan, die BBC se koninklike korrespondent, sê egter dat onlangse tekens van verbeterde verhoudings tussen prins Harry en sy familie die tydsberekening van Scobie se boek “ongemaklik” maak en selfs “ou wonde weer oopkrap”.

Maroela Media het vroeër berig dat die prins na bewering ʼn verjaardagtelefoonoproep na sy pa gemaak het vir die koning se 75ste verjaarsdag.

Bronne: BBC, ABC News, Independant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jax ·

Ag regtig. n Boek gebaseer op inligting, heel moontlik, van die twee spoiled brats in die VSA. Ek kan nie dink dat mens hulle kosbare tyd wil gebruik om die snert te lees nie! Nog n probeerslag van die twee bedorwe brokkies om aandag op hulle te kry.
Waarom is dit in ons nuuskanale? Dit het niks met ons te doen nie.

Racheltjie Debeer ·

Wat se insig kan n Amerikaner nou in die Britse Koningshuis hê? Natuurlik net inligting van Harry en Meghan wat hul eie beeld probeer poets.

Tokkel ·

Kan sien hy is vriende met Harry en Meghan. Sekerlik sy informasie van hulle gekry.
Ek luv William, Kate en kinders. Regte koningsgesin!

Niklaas ·

Neewat , ek gaan myself nie beseer in my haas om die boek te koop , of selfs te gaan leen nie. Dit gaan seker propvol snert en verdigsels wees in die poging van die skrywer om bietjie geld te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.