‘Wonderwerk’-baba vir ‘Toks en tjops’-aanbieder

Janina Oberholzer het pas bekend gemaak dat sy haar eersteling verwag. (Foto: Facebook/Janina Oberholzer)

Janina Oberholzer, aanbieder van die kykNET-program Toks en Tjops, het Dinsdag aangekondig dat sy haar eersteling verwag.

Sy het die aankondiging op sosiale media gemaak met ʼn foto van ʼn babapakkie wat lees: “Worth every single shot.” Die baba is deur middel van IVF-behandeling verwek.

“Ons het bitter lank vir hierdie oomblik gebid en nou kan ons uiteindelik die nuus met almal deel. Ek wou al lank al die nuus verklap, maar het eers net hierdie hoofstuk saam met Ryno geniet,” sê Oberholzer.

“Die swangerskap is sover net wonderlik. Ek voel fantasties en is bitterlik dankbaar ek het nie oggendnaarheid ervaar nie.”

Die baba sal in Februarie volgende jaar sy of haar opwagting maak. Oberholzer sê sy en haar man, Ryno van Niekerk, is “in die wolke” oor die babanuus.

Janina Oberholzer. (Foto: Facebook/Janina Oberholzer)

Oberholzer, wat elke Vrydagaand saam met Breyten Paulse en Toks van der Linde op die kassie te sien is, het ook bevestig dat hulle swangerskap te danke aan IVF-behandeling is.

“Dit is iets waaroor mense nie altyd wil praat nie. Een uit elke agt paartjies sukkel met fertiliteit, maar baie min praat daaroor. Ons het so twee jaar terug uitgevind dat IVF ons enigste opsie vir swangerskap is, maar het eers hierdie jaar besluit dat ons ʼn rondte gaan aanpak.

“Dis nie ʼn maklike pad nie. Dis hard, lank, emosioneel en het ongelukkig geen waarborge nie. My hart gaan uit aan alle paartjies wat sukkel met fertiliteit,” sê sy.

Die egpaar, wat in Februarie 2015 getroud is, weet wat die geslag van hul baba is, maar wil dit eers geheim hou.

“Ons weet beslis! Ons weet al ʼn rukkie, maar ons sal hierdie nuus ʼn bietjie later deel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AH ·

So dankbaar saam met julle vir hierdie wonderwerk! Geniet elke oomblik van hierdie avontuur!

Chantel ·

So dankbaar names julle. Geniet elke oomblik en moet dit nie verby wens nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.