‘Wonderwerkie’ op pad vir glanspaar

Adriaan Bergh en Melinda Bam, albei voormalige Mnr. en Mej. Suid-Afrika, word volgende jaar ʼn pienkvoet ryker. (Foto: Mandy Stander/Verskaf)

Adriaan Bergh en Melinda Bam, albei voormalige Mnr. en Mej. Suid-Afrika, word volgende jaar ʼn pienkvoet ryker.

Die egpaar het dié aankondiging onlangs op sosiale media gemaak met ʼn reeks pragfoto’s waarin hulle met hul kleinding se sonarfoto’s spog.

“Dit is ons hartsbegeerte om ouers te word, so ons wil bars van opgewondenheid én dankbaarheid. Dit is so opwindend dat dit nou uiteindelik vir ons ʼn werklikheid word,” vertel die blondekop-skoonheid aan Maroela Media.

Die paartjie het in 2019 besluit om hul gesin uit te brei, maar het kort daarna ʼn terugslag beleef en ʼn miskraam op nege en ʼn half weke gehad. Hulle het sedertdien verskeie struikelblokke op hul swangerskapreis gehad, maar Melinda vertel dat ʼn fertiliteitspesialis se sagte en sorgsame benadering dinge vir die egpaar omgekeer het.

“Ons dokter het nie dadelik ‘ekstreme’ behandelings aanbeveel nie en ons met soveel genade hanteer. Hy het selfs gesê daar’s net soveel wat hy kan doen, die Here sorg vir die res, want net Hy kan lewe gee. Om omring te word met mense en kenners wat só sterk staan in hul geloof het die ervaring nog meer spesiaal gemaak.”

“Pappabeer”, soos Melinda na Adriaan verwys, is kinderlik opgewonde om hul nuweling te verwelkom. “Ek maak soms of ek soggens nog slaap wanneer hy wakker is, dan hoor ek hoe bid hy en hy vra ook hoe het ‘julle tweetjies’ geslaap. Die hele proses het my net van voor af op hom verlief gemaak.”

Hoewel sy aan haar pragtige glimlag en positiewe benadering geken word, erken Melinda dat sy en Adriaan gereeld moes stry teen die angs wat met die trauma van ʼn miskraam gepaardgaan.

“Dit voel vir my jy kan soms baie hard werk om met jou gees en emosies ʼn trauma te verwerk, maar jou liggaam kan tog onthou waardeur jy gegaan het.”

Die egpaar het dié aankondiging onlangs op sosiale media gemaak met ʼn reeks pragfoto’s. (Foto: Mandy Stander/Verskaf)

Die paartjie het daarom die opwindende nuus van die toevoeging tot hul gesin vir die eerste drie maande net met hul naastes en pastoor gedeel.

“Dit was moeilik, maar tog so ʼn kosbare tyd, want dit het ons geleer hoe om oorlogvoering in gebed te voer teen die vrees wat die vyand by mens wil bring. Mens wil heeltyd dink ‘wat as dit weer gebeur’, maar ons kon dit bestry op ʼn goeie en standvastige manier.”

Sy vertel skertsend dat haar en Adriaan se susterskinders vir hulle tans meer as genoeg oefening vir hul eie ‘wonderwerkie’ bied en dat hy of sy baie maatjies gaan hê om mee te speel.

Die egpaar het ook reeds ʼn naam in gedagte wat vir hulle betekenis dra, maar Melinda erken dat sy en Adriaan wel van effens onkonvensionele name hou.

“Ek belowe wel ons gaan nie iets vreemds doen en ons kind na ʼn vrug of iets vernoem soos die Amerikaanse celebs maak nie,” terg sy.

Die glanspaartjie is ook mal oor reis en beplan om ʼn sogenaamde babymoon in die Maldive-eilandreeks te hou.

Volgens Melinda wil hulle dié liefde vir reis ook sommer vroeg-vroeg by hul kleinding kweek. “Ek besef dit gaan ʼn ander soort uitdaging wees om met ʼn babatjie te toer, maar ons het saam met Jo-Ann Strauss (ook voormalige Mej. SA) gaan ski een jaar toe sy nog ʼn pap babatjie gehad het, so ek hoop ons sal daardie kuns ook kan bemeester,” lag sy.

Die egpaar reis graag en wil dié liefde by hul kleinding kweek. Foto: Melinda Bam/Instagram)

Tot dusver is sy geseënd met ʼn gesonde swangerskap en het selfs oggendnaarheid vrygespring. “My swangerskap het wel my souttand nou baie erger gemaak!”

Melinda vertel dat sy ook nie onnodige druk op haarself rakende haar voorkoms plaas nie.

“Dit is wonderlik om te sien hoe mens se liggaam verander en dis ʼn absolute voorreg om ʼn klein liggaampie in die wêreld te bring. Daar is weer tyd om hard te oefen, maar vir nou wil ek net dié seisoen geniet en ʼn gesonde babatjie dra.”

Haar raad aan vroue wat op dieselfde reis as sy is of was, is om nie bang te wees om daaroor te gesels nie.

“Sedert ek my verhaal gedeel het, het daar ʼn hele gemeenskap van vroue hul verhale openhartig weer met my gedeel en dit dikwels afgesluit met ‘boetie of sussie is nou al drie of vier jaar oud’. Dit is bemoedigend om jou hartseer of vrese te deel, want dit maak jou hart ligter en herinner ander dat hulle nie alleen is nie. Vir my het daardie gesprekke genesing help bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.