Zsa Zsa Gabor-boedel, insluitend pilhouertjies, onder die hamer

Die foto van Gabor is in 1955 geneem. Foto: AP Photo

Byna 1 000 items van die boedel van die aktrise en sosiale vlinder Zsa Zsa Gabor het Saterdag onder die hamer gekom, sestien maande ná haar afsterwe.

ʼn Skildery van Gabor deur die Amerikaanse kunstenaar Margaret Keane is vir $45 000 (ongeveer R543 000) verkoop en ʼn Steinway-vleuelklavier, wat uit 1927 dateer en Gabor saam met haar derde man George Sanders gekoop het, is vir $24 000 (ongeveer R290 000) verkoop.

Van die goedkoper aandenkings vir aanhangers was ʼn botteltjie vir voorskrifmedikasie met haar naam daarop, wat vir $1 000 (ongeveer R12 000) verkoop is.

ʼn Diamant-halsnoer met Gabor se bekende “Dah-ling”-slagspreuk daarop, is vir $20 000 (ongeveer R241 000) verkoop. ʼn Vollengte wit pelsjas het $6 000 (ongeveer R72 000) gehaal.

ʼn Paspoort van die jaar 1961, waarin sy ʼn verkeerde geboortedatum aangedui het, is vir $4 250 (meer as R50 000) verkoop.

Heritage Auctions in Los Angeles het ook juwele, skilderye, meubels en ontwerpersrokke verkoop.

Gabor se Duitse wewenaar, Frederic Prinz von Anhalt, het vantevore die produkte uitgestal by hul huis in Bel Air, waar die aktrise gewoon het tot sy in Desember 2016 in die ouderdom van 99 oorlede is.

Klik hier om al die produkte te sien wat te koop aangebied was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.