Covid-19: Só word kunstefeeste geraak

Mense staan in rye om Aardklop se feesterrein in te kom (Foto: Verskaf)

Toe streeksrade vir die kunste destyds afgelas is, het kunstefeeste ontstaan in ʼn poging om dié leemte te vul. Feesgeleenthede het sedertdien ʼn groot hoogtepunt op Suid-Afrikaners se kultuurkalenders geword.

Van die grootste feeste sluit in Aardklop Nasionale Kunstefees, Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Standard Bank Innibos Kunstefees, Vrystaat Kunstefees, Nasionale Kunstefees, Toyota US Woordfees en die Suidoosterfees.

Sedert die uitbreking van die koronavirus (Covid-19) is die aanbieding en voortbestaan van talle kunstefeeste in gedrang. Maroela Media het met feesorganiseerders gesels oor die uitwerking wat die virus op feeste en kunstenaars het, asook hul toekomsvooruitsigte en hantering van die krisis.

Organiseerders beraadslaag oor feeste

Die Woordfees het die tydperk van afsondering net-net vrygespring en kon suksesvol van 6 tot 15 Maart voortgaan. Ander feeste was egter nie so gelukkig nie.

‘n Toneel uit ‘Koningin Lear’. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

Die KKNK wat 23 tot 29 Maart sou plaasvind, moes noodgedwonge die fees kanselleer.

“Dit is in die openbare belang van almal wat by die fees betrokke is dat ons dié moeilike besluit geneem het,” het Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees, gesê. Dié besluit is reeds geneem voor pres. Cyril Ramaphosa ʼn nasionale tydperk van afsondering aangekondig het.

“Intussen word verskeie moontlikhede oorweeg,” bevestig Naude van der Merwe, media-en-bemarkingsbestuurder van KKNK. Hy sê die finale besluit word bepaal deur riglyne van die nasionale regering, en die mate waartoe die Covid-19-pandemie internasionaal ontwikkel.

“Alle belanghebbendes uit die verskillende sektore wat deur hierdie besluit geraak word, sal so gou moontlik in kennis gestel word. Dit sluit in kunstenaars, feesgangers wat reeds kaartjies gekoop het, diensverskaffers en ander vennote,” sê Van der Merwe.

Intussen het twee ander feeste, hoewel dit nie gedurende die afsonderingstydperk sou plaasvind nie, besluit om te herskeduleer.

Die Suidoosterfees, wat van 27 April tot 3 Mei in Kaapstad sou plaasvind, het bevestig dat die fees onbepaald uitgestel is.

“Ons is gelukkig dat die fees uitgestel en nie afgestel is nie,” vertel Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees. Sy voeg by dat feesgangers, kunstenaars en borge se ondersteuning geweldig positief is.

“Gehore verstaan dat produksies en feestelike samehorigheid later sal plaasvind sodat ons nou die pandemie in Suid-Afrika met die nodige maatreëls kan hokslaan.”

Die Vrystaat Kunstefees word op die Universiteit van die Vrystaat se hoofkampus in Bloemfontein aangebied (Foto: Vrystaat Kunstefees/Facbook)

Die Vrystaat Kunstefees wat van 29 Junie tot 5 Julie in Bloemfontein aangebied sou word, is óók uitgestel.

“Ons verantwoordelikheid teenoor die publiek en hul gesondheid is vir ons ʼn top-prioriteit,” verduidelik Ricardo Peach, direkteur van die fees.

Peach sê die besluit is ook in ʼn mate namens hulle geneem toe die Universiteit van die Vrystaat, ʼn sleutelvennoot van die fees, ʼn verbod op alle internasionale reise vir personeel en studente tot 30 Junie geplaas het.

Hy verduidelik dat die fees wel in die tweede helfte van die jaar sal plaasvind en dat alternatiewe datums eers bevestig kan word sodra die regering se nasionale gesondheidsplan saamgestel en die afsonderingstyd gelig is.

Ander feeste het besluit om ondanks die onsekerheid voort te gaan.

Innibos word voorlopig van 24 tot 27 Junie in Nelspruit aangebied en Aardklop sal van 22 tot 27 September in Potchefstroom plaasvind.

“Omdat dit verreikende implikasies vir kunstenaars, verblyfinstansies en talle diensverskaffers het, wil ons nie die fees voortydig af- of uitstel nie,” sê Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos.

Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos. Die fees is vanjaar vir ‘n vyfde keer by kykNET se Fiësta-toekennings as fees van jaar aangewys (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Ons neem beslis nie die situasie ligtelik op nie,” voeg dr. Mathews Phosa, voorsitter van die feesdireksie, by. Innibos se bestuurspan monitor voortdurend die situasie en sal die besluit heroorweeg indien die nasionale noodtoestand en verbod op openbare geleenthede ná 16 April verleng word.

Alexa Strachan, hoof- uitvoerende beampte van Aardklop, meen dis noodsaaklik dat Aardklop voortgaan.

“Die kunste speel ʼn rol in mense se emosionele en psigiese welstand. Dit was nog altyd so, en sal so bly,” verduidelik sy. “Daarom gaan ons volstoom voort om Aardklop 2020 te beplan.”

Strachan voeg by dat hulle ook die situasie noukeurig dophou en bereid is om alternatiewe reëlings te tref indien nodig.

“Ons sal natuurlik aanpas soos wat dit nodig en moontlik is. Maar tans is ons boodskap aan feesgangers dat alle paaie einde September na Potchefstroom toe lei.”

Die Nasionale Kunstefees wat jaarliks in Grahamstad aangebied word, gaan ook voort. Dié fees het egter met ʼn byderwetse plan vorendag gekom.

“Ná etlike besprekings, argumentering en bepeinsings het ons besluit om die fees van 25 Junie tot 5 Julie virtueel aan te bied,” het Sascha Polkey, kommunikasiebeampte van die fees, bevestig.

“Dié aanbieding beteken dat die fees steeds sy kunstenaars en hul werk kan ondersteun deur dit in ‘n digitale ruimte aan feesgangers te bied,” verduidelik sy.

Met minder as 100 dae voor die fees plaasvind, is dit die verantwoordelike ding om te doen, meen Polkey.

“Ons kan nie van ons ondersteuners verwag om reis- en verblyfreëlings te tref as daar ʼn moontlikheid is dat die fees nie gaan plaasvind nie,” sê sy.

Polkey bevestig dat die bestuur in verbinding is met borge en ander betrokke partye oor die digitale aanbieding van hul fees. Dit sluit onder meer die Departement van Kuns en Kultuur, Standard Bank en MultiChoice in. Feesgangers word aangemoedig om die fees se sosiale media dop te hou vir meer inligting oor die program en aanbieding daarvan.

Kommer oor die invloed van Covid-19 en behoud van feeste

“Natuurlik is ons bekommerd, want ons weet nie in watter rigting die pandemie beweeg nie,” vertel Peach. Hy meen die onvoorspelbaarheid van die virus maak dit geweldig moeilik om reëlings te tref. Boonop plaas die regering se tyd van afsondering en streng voorsorgmaatreëls ook ʼn demper op hul beplanning.

Sandra Prinsloo in die produksie “Kamphoer”. (Foto: Verskaf)

Peach verduidelik dat kunstefeeste ʼn ekosisteem is wat kunstenaars, tegnici en entrepreneurs aan die gang hou. Hy voorsien dat mense al hoe gemakliker van die huis af gaan werk, tegnologie toenemend ʼn groter rol in die aanbieding van feeste sal speel en dat kunstenaars nuwe vaardighede gaan ontwikkel om in ʼn groep saam te werk.

“Dis ʼn skok vir almal, maar ek dink ons gaan oorleef,” sê Peach. “Suid-Afrikaners het amazing skills – nie net om te oorleef nie, maar ook om agterna te kan vlieg.”

Hattingh deel Peach se kommer oor die gevolge wat Covid-19 kan inhou. Sy verduidelik dat hulle veral bekommerd is oor die uitwerking wat dit op die ekonomie het.

“Wat dikwels buite berekening gelaat word, is die groot bydrae wat die vermaakbedryf tot die ekonomie lewer,” sê Hattingh. Sy beskryf feeste as ʼn verwikkelde sisteem wat uit ʼn verskeidenheid rolspelers bestaan en dat kunstenaars nie die enigste partye is wat daaronder ly nie.

“Plaaslike toerisme, entrepreneurs en vele ander word ook geraak. Die koste van teateraanbiedings is hoog, en om produksies vir klein gehore aan te bied, is bloot nie finansieel haalbaar nie.”

Hattingh sê dat hulle ʼn span is wat hard werk om met innoverende oplossings vorendag te kom.

“Feesorganiseerders is planmakers, nou meer as ooit tevore,” vertel sy. “Ons is in die bevoorregte posisie dat daar ʼn legio nuwe moontlikhede bestaan en innoverende oplossings gevind kan word.”

Die span na wie Hattingh verwys, staan as die Feesteforum bekend en sluit onder meer die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), Woordfees, KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees en Aardklop in.

Die Grahamstadse Nasionale Kunstefees se besluit om die fees op ʼn digitale platform aan te bied is ʼn byderwetse poging om oorlewing.

“Kunstenaars is afhanklik van feeste om ʼn inkomste deur kaartjieverkope te genereer en hul werk met feesgangers te deel,” sê Polkey. “In plaas daarvan om die fees te kanselleer, wil ons ʼn nuwe geleentheid vir kunstenaars en gehore skep om die kunste te vier.”

Polkey voeg by dat Makhanda, oftewel Grahamstad, ook staatmaak op die jaarlikse inkomste wat die fees genereer.

“Ons weet hoeveel ons feeste bydra tot die infrastruktuur en ekonomie van Makhanda. Daarom bly ons toegewyd aan die stad en sal voortgaan om ons rol as goeie korporatiewe burgers te speel.”

Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop. (Foto: Aardklop)

Strachan bevestig dat Aardklop se besluit om voort te gaan ʼn wye spektrum rolspelers in ag neem.

“Kunstenaars, tegnici, diensverskaffers, stalletjiehouers en ander betrokke partye se finansiële oorlewing is almal hier ter sprake,” verduidelik sy. Strachan beklemtoon ook dat sy en haar span begrip het vir Jan Alleman se stryd om oorlewing.

“Ons besef dat letterlik elke ander mens en bedryf buite die kunste ook geraak en bedreig word. Dis nie nét die vermaakbedryf wat swaarkry nie,” sê sy. “Ons harte gaan uit na alle Suid-Afrikaners. Elke organisasie, persoon en maatskappy het tans ’n plig om na die mense in hul onmiddellike omgewing te probeer omsien,” voeg Strachan by.

Die feeslandskap was tot dusver ʼn teelaarde vir kreatiewe opbrengs, vermaak en samesyn. Dit bied ʼn platform vir kunstenaars om hul kuns ten toon te stel en vir entrepreneurs en tegnici is dit ʼn geleentheid om brood en botter op die tafel te sit. Kunsliefhebbers en feesgangers kan hulle telkens verlustig in allerlei kos- en feesstalletjies, terwyl feesprogramme uiteenlopende produksies en vermaak bied.

Weens die korona-pandemie wat mense wêreldwyd kluisenaar hou, word feesorganiseerders genoodsaak om te herbesin oor aanbiedings en die behoud van feeste. Hoewel die toekoms duister is, is die veggees onder kunstenaars en organiseerders opmerklik.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae