‘Deursigtige’ teaterfonds bestaan al meer as 50 jaar

Lizz Meiring. Foto: Leonie Bezuidenhout

Lizz Meiring tydens ‘n Kerssangfunksie in 2015 ten bate van die TBF. Foto: Leonie Bezuidenhout

Wanneer mense geld vir liefdadigheid skenk, wil hulle weet dat die geld korrek aangewend en betroubaar bestee word. Hulle wil weet dat die organisasie “deursigtig en eerlik” is.

Só meen Lizz Meiring, gesoute aktrise en bestuurslid van die Teaterbystandsfonds (TBF). “Die TBF ís so ʼn fonds,” vertel sy geesdriftig. “Hoewel Suid-Afrikaners aan donasie-uitputting ly, bestaan die fonds al sedert die sestigerjare. Ek glo dit is omdat die publiek kan sien ons bestuur die fonds op die regte en eerlike manier.”

Volgens Lizz is die TBF se totale bedryfskoste per jaar slegs 9%. “Die bestuurslede is almal vrywilligers, hulle ontvang geen fooie of salarisse nie en daar is geen TBF-kantoorgeboue nie,” verduidelik sy. “Dus word geld slegs deur skenkings vanaf die kunstebedryf, die publiek en soms ’n klein korporatiewe skenking ingesamel, en daarna direk aan die begunstigdes gegee.”

“As liefdadigheidsinstansie vervat die TBF alle aspekte van liefdadigheid, dit wil sê volwasse- en kindersorg, bejaardesorg, mediese sorg, afhanklikheidsorg én begrafnissorg,” sê Lizz.

Die TBF is op ʼn baie beskeie manier deur ʼn Britse akteur, Bobby Lange, begin toe hy in 1962 ʼn kabaretvertoning met ʼn ete gereël het ten bate van sy vriend en akteur, David Beattie, wat op sy sterfbed was weens kanker. David is kort ná die vertoning oorlede. Bobby het die geld wat oorgebly het van die opbrengs van die vertoning gebruik ten bate van die akteursbedryf in geheel. Die fonds is op die been gebring as die Akteursbystandsfonds (ABF).

In Desember 1964 is die ABF geregistreer as ʼn liefdadigheidsorganisasie en nadat verskeie kunstenaarsverenigings toegemaak het, het die naam later in die sewentigerjare verander na die Teaterbystandsfonds toe hulle met die Balletbystandsfonds saamgesmelt het.

Besoek gerus www.tbf-sa.co.za om ʼn skenking te maak of SMS “TBF” na 40770 tot einde Maart om R20 te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Mense, julle moet my nou maar afskiet vir harvogtig. Ek baklei my lewe lank vir my eie pensioen en aftrede. Kan kunstenaars nie dieselfde doen nie? Daar is heelwat maniere om dit te doen. Niemand maak skenkings vir my oudag nie. Jammer oor die negatiewe kommentaar, mmaar dit is hoe ek persoonlik daaroor voel! Sterkte.

Lizz Meiring ·

Dankie vir jou belangstelling Johann. Net ‘n paar regstellings :1: die fonds is vir Alle beroepe in die kunste – nie net kunstenaars nie. 2. Ons permanente begunstigdes wat oud/ siek/ bejaard/ brandarm is en geen mens het om hul te onderhou nie – het as voorbeeld R90 per maand destyds verdien , en dan R45 aan behuising afgestaan. Hul pensioen fonds waaraan hul bygedra het by die Streeksrade , se uitbetaling was
absoluut minimaal. Die TBF hou ook gereeld gratis werkswinkels om huidige mense in die Kunste in te lig oor watter opsies vir pensioen besparing beskikbaar is. Deesdae werk ons almal as vryskut werkers , ons ontvang dus geen pensioen nie en moet soos alle ander self behoewende werkers, voorsorg tref. Die bejaardes in ons bedryf kon nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.