Dié kunstenaars deel van Optog!

Optog! is die grootste enkele konserttoer deur plaaslike sangers, akteurs en musikante en vind tussen Februarie en Desember 2019 plaas op verskeie dorpe oor die hele Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig dat Nataniël een van die kunstenaars is van hierdie “fees op wiele”. Hy het ingestem om deel te word van hierdie nuwe inisiatief omdat hy nie van feeste of feeskultuur hou nie.

“Ek wil die eertydse glorie van goeie teaters en werkende teaters herstel. Ek het grootgeword op ʼn klein dorpie, maar in ʼn tyd toe toneelstukke en musiekkonserte deur rondreisende geselskappe aangebied is,” het hy gesê.

Altesaam 20 produksies, wat musiek tot teaterproduksies insluit, sal aangebied word in bestaande teaters, skoolsale en by ’n paar uitgesoekte verrassingsvenues in 42 dorpe en stede oor Suid-Afrika en Namibië.

Foto: Facebook

Optog! spog met ’n uiteenlopende produksie-aanbod wat iets vir elke smaak bied

  • Jo Black: Hy sal gedurende Mei, Junie en Augustus 27 konserte aanbied. Afgesien van die meeste van die groter sentra, kan jy gerus uitkyk vir hom in die Strand, Durbanville, Worcester, Beaufort-Wes, Keetmanshoop, Otjiwarongo, Gobabis en Hoedspruit.
  • Stef Bos: Hy sal gedurende Julie en Augustus vermaak bied in onder meer Colesberg, Parys, Tzaneen, Hoedspruit, Malmesbury en Oudtshoorn.
  • Karen Zoid: Sy sal ook deel wees van Optog! maar geen verdere inligting, behalwe dat sy deel is van ʼn baie spesiale projek, word verklap nie.
  • Nataniël (Foto: Verskaf)

    Nataniël: As gesig en ambassadeur van die projek, het hy van Februarie tot vroeg in April 13 optredes en maak ’n draai in Rustenburg, Polokwane, Kroonstad, Oudtshoorn, Hermanus, Malmesbury, Welkom, Durban, Upington, Oos-Londen, Port Elizabeth, Bloemfontein en Kimberley. Hy sluit dan ook die jaar af met ’n Kersproduksie by die Atterbury Teater vroeg in Desember.

  • Laurika Rauch: Laurika toer gedurende Maart, Julie, September en Oktober 2019 as deel van Optog!. Daar is tans 21 optredes geskeduleer in onder meer Stellenbosch, Pretoria, Rustenburg, Polokwane, Welkom, Sasolburg, Kroonstad, Bloemfontein, Kimberley, Durbanville, Port Elizabeth, Oos-Londen, Potchefstroom, Durban, Windhoek en Swakopmund.
  • Coenie de Villiers & Deon Meyer: Musiek en woordkuns deur twee meesters in hulle uitmuntende aanbieding, Karoo Suite. Nege vertonings is deur die hele jaar versprei en Stellenbosch, Sasolburg, Windhoek, Roodepoort, Nelspruit, Potchefstroom, Port Elizabeth en Oos-Londen is op hulle roete.
  • Drie van die Bestes – Mathys Roets, Danie Niehaus & Kevin Leo: Elkeen van hierdie manne is lank reeds bekend vir hulle uitmuntende en uiteenlopende sangtalente. Die trio sal 20 konserte aanbied gedurende April, Julie, September en November en ʼn uitgebreide toer deur Namibië vorm deel van hulle skedule.

Optog! bied ook oorspronklike produksies aan wat uniek is aan Optog! en self vervaardig word:

  • my Folk! – met Koos Kombuis, Herman Kleinhans, Bottomless Coffee & Johrné van Huyssteen. Vyf vertonings word beplan in Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein, Stellenbosch en Potchefstroom.
  • Staan Op! – ʼn Fees van komedie met Schalk Bezuidenhout, Tracey-Lee Olivier en vriende. Vyf vertonings word beplan.
  • Elvis BlueStories. Hy skop die jaar se program af met ʼn vertoning op 14 Februarie in Durbanville, waarna hy nege ander konserte aanbied gedurende Mei en Augustus. Polokwane, Rustenburg, Kimberley, Upington, Bloemfontein en Windhoek is onder meer op die lys van bestemmings.
  • Kombi-Nasie – met Pietman Geldenhuys en Wicus van der Merwe. Hierdie twee beloof uithaler-vermaak en gaan toer dat dit klap in Maart, April en Mei. Daar is 18 vertonings, waaronder ’n wye draai in Namibië. Bestemmings sluit Walvisbaai, Otjiwarongo, Windhoek en Mariental in.
  • Op Pad – met Vicky Sampson & Corlea Botha. Hierdie baie spesiale produksie word onder die bekwame leiding van Matthys Maree vervaardig en vyf vertonings word by vyf baie spesiale venues aangebied.
  • Romanz – Hierdie uiters gewilde sanggroep word volgende jaar herenig vir vyf vertonings tussen Februarie en April.

Sandra Prinsloo. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

Optog! hoop om geleentheid te bied vir mense wat nie by feeste kan uitkom om steeds die gesogte drama- en komedie-produksies te kan sien.

  • Nêrens Noord-Kaap – deur Nico Scheepers en met De Klerk Oelofse, Albert Pretorius en Geon Nel in die rolverdeling, was die afgelope jaar ʼn lokettreffer by verskeie van ons land se feeste. Volgende jaar toer hierdie produksie gedurende April en Oktober vir nege vertonings na onder meer Beaufort-Wes, Kimberley, Upington, Roodepoort, Sasolburg, Welkom en Pretoria.
  • Drie Susters – met Lizz Meiring, Nicole Holm en Margit Meyer-Rödenbeck. Hierdie uiters suksesvolle komedie is tans vir nege vertonings geskeduleer en bestemmings sluit onder meer Malmesbury, George, Port Elizabeth, Witbank, Sasolburg en Welkom in.
  • Moedertaal – met Sandra Prinsloo. Sy is waarskynlik een van ons mees geliefde aktrises en het met hierdie eenvroustuk weereens lof ingepalm. Agt vertonings is geskeduleer vir April, Mei en September in onder meer Oos-Londen, Port Elizabeth, George en Nelspruit.

Jak de Priester, Refentse en Joshua na die Reën is ook intussen by die program gevoeg en sal elk minstens vyf konserte aanbied.

Die volledige program, konsertdatums en venues sal in die komende weke beskikbaar wees op www.optog.co.za. Kaartjies is vanaf 1 November 2018 te koop op www.itickets.co.za, asook by van die konsertvenues se bestaande kaartjiekantore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dell ·

Dit gaan verseker die moeite werd wees. Ek hoop om darem ‘n paar van die kunstenaars te siene te kry. Natuurlik is Nataniel altyd bo-aan my lys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.