Die pandemie deur ’n kunstenaar se lens

(Foto: Anna Kolosyuk/Unsplash.)

Deur Maretha Botes

Jy hoef maar net na die kuns van ‘n samelewing te kyk om te weet wat in sy kern aan die gebeur is. Deur al die eeue heen was kuns ‘n spieël en dagboek van gemeenskappe. Die afgelope ses maande het Suid-Afrikaners voor verskeie uitdagings te staan gebring. Dit is veral die chaos, onsekerheid en soms woede, wat in baie kunstenaars se werke te sien is. Drie beeldende kunstenaars vertel wat die impak van die pandemie op hul werk was en hoe hulle die uitdagings oorkom het.

Roslynne van Belkum, Kaapstad

Roslynne van Belkum. (Foto: Verskaf.)

Daar is ‘n omstrede debat in die kunswêreld oor die doel van kuns. Sommiges sê dit gaan nie daaroor om kuns te produseer nie, maar om denke te produseer. Kuns behoort ‘n aktiewe en ewig ontwikkelende proses te wees wat óf die buite- óf binnewêreld van die kunstenaar reflekteer – ‘n tipe metaforiese spieël.

Persoonlik het ek verskeie redes om kuns te produseer, van om ‘n ekstra inkomste te genereer deur meer kommersiële kuns, tot om kuns ter wille van kuns te skep, want ek voel geïnspireer deur ‘n pragtige blom, landskap of interessante persoon. Soms skep ek uitdagende en surrealistiese kuns.

Gedurende die inperking het ek ‘n kopskuif beleef wat die proses van kunsskepping betref. Ek het ‘n intense behoefte gehad om my artistieke innerlike kind in introspeksie en bepeinsing te verdiep. Ek kon eenvoudig nie meer ‘n mooi blom verf nie. Ek het nodig gehad om my angstigheid, onsekerheid en absolute vrees vir Covid uit te beeld. Om in ‘n huis met familie ingeperk te wees, het aanvanklik soos ‘n seën gevoel, maar dit het later ontaard in paniek, frustrasie en meer angstigheid soos die inperking onbepaald verleng is.

As ‘n ma was dit nie slegs my eie onsekerheid en emosies waarmee ek te doen gehad het nie. My kuns het “lelik” geword en nie noodwendig esteties aangenaam soos sommige van my pre-inperking kuns nie. Ek het eksklusief begin fokus op hoe ek gevoel het en nie noodwendig op die proses nie. Sommige kunswerke is buite op die grasperk geskep waar ek verf daarop gegooi het. ‘n Dag of twee later sou ek dit opskeur en van voor af begin omdat dit is hoe ek gevoel het: doen, begin oor, probeer weer, herontdek myself, kalmeer myself in die hoop dat ek beter sou voel ná die tyd. Ek het ook helder kleure begin gebruik teenoor die sagter skakerings in my ander kunswerke om die intensiteit van die emosies wat ek beleef het, uit te beeld.

‘n Geweldige frustrasie was dat ek nie kunsmateriaal kon koop nie. Aanvanklik het ek genoeg gehad vir drie weke, maar soos die inperking verleng is, het my verf, doeke en terpentyn opgeraak. ‘n Vae paniekerigheid het in ‘n geweldige angstigheid verander, want kuns was my manier om van my frustrasie en emosie ontslae te raak. Ek het ou terpentyn hergebruik en die laaste druppels verf uit die buisies gedruk.

‘n Ander probleem vir my was die skuldgevoelens wat ek beleef het omdat ek kunsbenodighede wou koop in ‘n tyd wat ons fondse laag was en daar soveel ekonomiese onsekerheid was. Ek het elitisties en selfsugtig gevoel. Beslis ‘n Catch 22-situasie. Die behoefte om my emosies te skilder, was dringend en terapeuties, maar dit het beteken ek moet werk skep wat nie noodwendig sal verkoop nie, en steeds was dit die werklikheid, my waarheid.

Soos wat die tyd verbygegaan het en ons uiteindelik by vlak een staan, is my bui besig om te lig en ek voel reeds gereed om weer meer lighartige kuns te maak wat nie soveel woede uitbeeld nie. Lente en al die skoonheid herinner my dat moeilike tye tydelik is en vreugde wisselend. Dit is belangrik om dít te kies wat vir jou rustigheid gee deur al die lelikheid deur.

Annemie Odendaal, Witbank

Annemie Odendaal. (Foto: Verskaf.)

Inperking het twee goed vir my beteken: Ek het as gevolg van die isolasie ononderbroke gewerk, ek kon baie meer fokus en meer ure op ‘n slag insit, dus ek was besonders produktief wat lekker was. Tweedens het dit my aanlyn verkope ‘n groot hupstoot gegee, aangesien mense meer ontvanklik was om sulke alternatiewe te probeer.

My temas was in dié tyd beslis anders, maar dit is waarskynlik omdat my kuns baie persoonlik is, en as’t ware soos ‘n dagboek van my lewe kan lees. Ek wou nie soos almal spesifiek koronakuns maak nie (ek wil die tydperk onthou en dokumenteer, maar vanuit ‘n menslike belang-oogpunt).

Dit was vir my baie interessant hoe so ‘n uitdaging in geleenthede omskep kan word, en hoe ons basiese waardes weer sterk na vore gekom het. Dit was soos ‘n universele pouse, ‘n geleentheid wat ons nog nooit vantevore gehad het nie. Jy was gedwing om stil te gaan staan en jou lewe in heroorweging te bring. Is dit die lewe/verhouding/loopbaan wat ek regtig wil hê?

Die aanvanklike “ruskans” het vinnig verander in ‘n ongemaklike isolasie, wat weer ander vrae na vore gebring het, en weer eens gewys het hoe groot ons behoefte aan sosiale samesyn werklik is vir ons fisieke- en geestesgesondheid.

Die twee temas waaraan ek spesifiek gedurende inperking gewerk het, was Intertwined (hier ondersoek ek die mens se ingewikkelde verhouding met homself, die natuur en ons plek in die heelal), en Far from the shallow (‘n metaforiese onderwaterreeks van die uitwerking wat die stilte onder die water en die isolasie wat dit meebring, op die mens se psige het).

Ek het laas jaar ‘n aanlyn kunsplatform begin waar kunstenaars self hul werk aanlyn kan verkoop (onlineart.gallery), en ekself verkoop ook byna eksklusief net aanlyn. Gedurende die inperking was mense amper gedwonge om hul tone in die aanlyn winkels se water te druk, en dit het baie vinnig baie gewild geraak, en mense het ook baie gemakliker met die idee geraak. Dit het tot gevolg gehad dat mense (veral wat kuns betref) nuwe uitlaatoorde gevind het, en nie net tradisionele metodes kon gebruik nie.

Ek voel elke seisoen behoort gedokumenteer te word, en elke gebeurtenis gee vorm aan die volgende seisoen. Alle seisoene is ewe belangrik vir groei, rus en nabetragting.

Robyn Penn, Johannesburg

Robyn Penn. (Foto: Verskaf.)

Kuns en kunstenaars was nog altyd ‘n kritiese deel van die samelewing en kultuur. Hulle is rekordhouers, skeppers van skoonheid, waarheidontdekkers en empatiese visioenêre. Soos almal is ons (kunstenaars) ook in ‘n groot mate deur die chaos weens Covid-19, geaffekteer. Baie kunstenaars het alles verloor.

Wat vinnig vir my duidelik geword het, is hoe gewoond ek en my kunstenaarman (Richard Penn) aan afsondering is. Die aanvanklike inperking was verrassend bevrydend in dié sin dat dit ons toegelaat het om met meer intensiteit te werk, want daar was niks anders om te doen nie. Gedurende die week sou ons elkeen in ons eie tuisateljees aan ons eie werke werk. Oor naweke sou ons oorskuif na ons eetkamertafel en as ons samewerkende personae, Artu Peatoo, aan ons sketse werk. Hierdie werk het tot twintig oorspronklike Artu Peatoo-sketse gelei wat ons op Instagram verkoop het. Ons het die werke laat fotografeer en ‘n beperkte uitgawe van twintig kunstenaars, argiefboeke gemaak van die stel van twintig sketse om die Suid-Afrikaanse inperking te herdenk.

My werk handel onder normale omstandighede oor ‘n verdieping in die natuur, die majestueuse, die chaos en entropie. Dus, die pandemie het meer geloofwaardigheid aan hierdie temas gegee wat alreeds sigbaar in my werke was. Dit is die menslike effek op die omgewing in die vorm van klimaatverandering en ‘n nostalgie vir ‘n eenvoudiger lewe pre-vryemarkkapitalisme en ‘n beheptheid met die karakter van tyd.

Ek is deur William Kentridge se Centre for the Less Good Idea uitgenooi om te reageer op die The Long Minute-projek. Ek het ‘n 52 sekonde-rolprent gemaak wat op Instagram vertoon is deur ‘n tydsverloop van ‘n wolkgevulde hemel te maak. Ek het die internasionaal bekende violis Waldo Luc Alexander gevra om die musiek hiervoor te maak. Die werk, Floating World, is spookagtig mooi en gepas vir die tyd waarin ons onsself nou bevind.

Die uitdaging is maar om kop bo water te hou in ‘n tyd wat kuns ‘n luukse en, in baie gevalle, die laaste ding is wat mense in swaarkrytye koop. Ons moes Artu Peatoo teen winskopiepryse verkoop om onsself aan die lewe te hou in ‘n potensieel droë tydperk. Ons sien dat mense wel meer inskiklik is om kuns aanlyn te koop. Hopelik maak dit die Suid-Afrikaanse kunsmark oop vir ‘n groter gehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.