E-konserte: Akoestiese, klassieke en geestelike musiek dié naweek aanlyn te sien

Sandra Prinsloo in ‘Oskar en die pienk tannie’.

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Sandra Prinsloo is te sien in Oskar en die pienk tannie op die aanlyn teaterplatform Die Boer by die Huis.

In dié veelbekroonde toneelstuk vertolk sy die rol van ʼn tienjarige seuntjie wat terminaal siek is, dié van ʼn ouma en ʼn paar ander karaktertjies in die kindersaal. Sy vervel naatloos en gee lyf aan ’n reeks karakters wat ʼn mens bybly. Op die verhoog is ʼn enkele tafel: die sterwende Oskar se hospitaalbed.

Wees gewaarsku: dis sneesdoekie-gebied. ʼn Mens se wange word vroeg al nat.

Die aanbieding is van Donderdag 2 tot Dinsdag 7 Julie te sien. Kaartjies kos R120 en is hier beskikbaar.

Vrydag 3 Julie

Deon Meiring.

Die Pierneefteater bied Vrydag om 19:00 Deon Meiring se aanlyn konsert aan. Meiring se loopbaan as liedjieskrywer en musikant het begin met sy groep Glaskas. Later het hy ook Dans Dans Lisa saam met Bouwer Bosch op die been gebring.

Vir sy solowerk skryf hy liedjies in ʼn styl wat die lirieke meer op die voorgrond plaas as van sy ander projekte. In 2016 is van sy gedigte gepubliseer in die bundel Sterkykers, uitgegee deur Lapa Uitgewers.

In Meiring se konsert speel hy sy oorspronklike musiek asook hier en daar gestroopte weergawes van sy liedjies wat mense deur Glaskas en Dans Dans Lisa leer ken het. Daarmee saam kleur hy die vertoning in met die stories, gedagtes en die belewenisse waaruit sy liedjies ontstaan het.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Saterdag 4 Julie

Trio Klassiek.

Saterdag is Olive Sandilands (klavier), Miroslav Chakaryan (viool) en Susan Mouton (tjello) te sien in Trio Klassiek, in samewerking met die Pierneefteater.

Van Handel tot Piazzolla, met ʼn stukkie Paganini, Sarasate en Saint-Saëns ook bygevoeg. Só lyk die program:

1)    Massenet: Meditasie uit Thaïs
2)    Handel-Halvorsen: Passacaglia
3)    Sarasate: Zigeunerweisen
4)    Glinka: Klavier trio
5)    Saint-Saëns: Allegro appassionato
6)    Paganini: Cantabile
7)    Piazzolla: Inverno porteno (Winter)

Die uitvoering begin om 19:00. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Sondag 5 Julie

Lewensasem.

Sondag is die sangers Rina Hugo, Mathys Roets, Jannie du Toit, Helena Hettema, Willie en Natasha Joubert en Hannes van der Walt saam met Bernice en Kayla Borman te sien in die Lewensasem-aanlyn konsert.

Die konsert word aangebied deur die Pierneefteater en is op die planke gebring deur die span van die In sy spore-bedieningsgroep wat sedert 2016 besig is met ʼn sosialemediabediening.

Lewensasem bied kyker die geleentheid om “in die gerief van sy en haar eie woning stil te word voor Hom wat jou gevorm het en geïnspireer te word om voluit die lewensuitdagings aan te gryp”.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar. Die konsert word aangebied ten bate van bejaardesorg.

Gregg Pettigrew is ook Sondag te sien in Lefra Produksies se Kelderkonsert, Shades of Broadway, ʼn dramatiese huldeblyk aan die Broadway-grotes en bied die gehoor ʼn insiggewende blik op die musiekteaterverhoog, soos gesien uit die kunstenaar se perspektief.

Van die treffers sluit in van die grootste Broadway-musiekspele en strek van Cabaret tot Jesus Christ Superstar asook Joseph, Evita en vele meer.  Dit word gekoppel aan persoonlike verhale en staaltjies uit die ervarings van die kunstenaars op die verhoog en die emosies wat hulle ervaar tydens so ʼn produksie.

Kaartjies kos R70 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.