E-konserte: Bernice, Dirk en ‘Bok se Bosveldstories’ die naweek te sien

Bernice West. (Foto: Facebook)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Bernice West se tuiskonsert word aangebied in samewerking met Dapper Media. “Ek gaan so ses van my eie liedjies sing, asook ʼn paar covers,” vertel die jong krulkopsangeres.

“Ek het vir Danny Smoke op kitaar en sy suster, Rachelle, op baskitaar wat my begelei. Die liedjies is rou weergawes van liedjies wat op my album ingesluit is.”

Kaartjies kos R69 en sal van Woensdag 24 Junie tot en met Maandag 29 Junie eksklusief op Dapper Media beskikbaar wees.

Vrydag 26 Junie

Theuns Jordaan en Juanita du Plessis se Hart Vol Drome is nou in samewerking met INbly-konserte te sien. Hierdie ongelooflike produksie is by Carnival City opgeneem. Kaartjiehouers kan uitsien na Theuns en Juanita se gewildste treffers asook van hulle grootste duette soos die treffersnit “Bring jou hart”.

Die vertoning begin Vrydag om 19:00. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Dirk van der Westhuizen (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Dirk van der Westhuizen is Vrydag om 20:00 te sien in sy Dirty 30’s-konsert. Die hele gesin kan uitsien na al sy top treffers asook ʼn eksklusiewe kykie na sy splinternuwe enkelsnit #Dirty30s wat hy vir die heel eerste keer gaan sing. “Dirty 30” is die titelsnit van sy nuwe album wat September vrygestel word.

Kaartjies kos R80 en is hier beskikbaar.

 

Saterdag 27 Junie

Biggy (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Om 15:00 gaan Dozi sy splinternuwe album, Vrede, amptelik bekendstel met ʼn gratis aanlyn vertoning via sy Facebook-blad. Hierdie bekendstelling gaan plaasvind met ʼn regstreekse vertoning direk vanaf sy pragtige restaurant-teater, Smokey Sanches, op sy plaas.

“Ek gaan elke nuwe liedjie op my album vir die mense sing. Ek is baie trots op hierdie album.  Dit is die eerste album waarop ek regtig weer my eie sê in ʼn baie lang tyd gehad het,” sê Dozi.

Die kletsrymer Biggy is alombekend vir sy liedjie “Dames”. Hy is om 19:00 te sien in sy eerste aanlyn vertoning. Kaartjies kos R80 en is hier beskikbaar.

Bok van Blerk en Ricus Nel is ook om 19:00 te sien met Bosveldstories: Musiek en stories uit die hartjie van die bosveld. Die twee vriende span kragte saam om vir jou ʼn gemaklike en akoestiese INbly-konsert te bring wat om ʼn kampvuur opgeneem is.

Die konsert begin om 19:00. Kaartjies kos R120 en is hier beskikbaar.

Sondag 28 Junie

Stella maak hierdie naweek haar OPTOG! e-konsert-debuut. Sy neem jou saam op ʼn sielvolle, musikale tog. Langs die pad stop sy by die mooi, die lekker en die seer van die lewe.

Sien uit na treffers soos “Skree”, “Nuwe môre”, “Ek is ryk” en “Die berge blou”. Sy sing ook ʼn paar nuwe weergawes van ou bekendes, maar sy vertolk dit met ʼn oorspronklike aanslag. Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.