E-konsertgids: André Schwartz, Leah, Rina Hugo aanlyn te sien

Laudo Liebenberg. (Foto: Marilie Loubser)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Donderdag 24 September

EET KREEF! HERLEEF! is Donderdag om 20:00 te sien in ʼn KKNK Mothership-sessie. Dit is ’n produksie wat nuwe lewe gee aan die ikoniese album wat in 1989 uitgereik is deur Johannes Kerkorrel en Die Gereformeerde Blues Band. In die hedendaagse weergawe laat die musiek die kranse antwoord gee in ’n moderne herinterpretasie van hierdie satiriese dog salwende musikale meesterstuk.

Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar. Dié vertoning sal vanaf tot Sondag 4 Oktober beskikbaar wees.

Stellenbosch on Stage is ʼn sterbelaaide Universiteit Stellenbosch-alumnikonsert, met bekendes soos Laurika Rauch, Stuart Taylor, Sunday Kelechi, Jan Braai en die Stellenbosse Universiteitskoor, wat op Erfenisdag aanlyn aangebied word.

Kykers kan uitsien na ʼn keurspel van gewilde treffers en eersteklasvermaak waarvoor hierdie Suid-Afrikaanse kunstenaars wêreldwyd bekendheid verwerf het. Die geleentheid word aangebied in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.

Kaartjies kos R130 en is hier beskikbaar.

Sondag 27 September

Leah. (Foto: Willem Botha)

Wanneer André Schwartz en Leah se stemme een word in hul aanlyn produksie Magical Musicals, sal kykers meegesleur word na die fantasiewêreld van die grootste musiekblyspele soos hul bekroonde treffers vertolk.

“Toe ek en André hierdie vertoning beplan het, het ek sommer nostalgies geraak oor al die wonderlike oomblikke wat musiekblyspele al gelewer het. Dit plaas mens sommer in ’n ander wêreld en laat jou so bietjie vergeet van tyd,” vertel Leah.

Tydens dié vertoning maak hul liedjies uit musiekblyspele soos Mamma Mia!, Chicago, Phantom of the Opera, Aladdin, Moulin Rouge, Les Misérables, Wizard of Oz en vele meer hul eie.

Magical Musicals word om 17:00 aanlyn aangebied en is ongeveer ’n uur lank. Kaartjies kos R65 en is hier beskikbaar.

Rina Hugo se aanlyn vertoning getiteld Hartsliedere is Sondag om 15:00 te sien. Die vertoning is ten bate van die Christelike Seemansorganisasie (CSO), met wie Hugo ʼn jarelange verbintenis het.

Sy het reeds meer as 400 kerk- en seniorburgeroptredes reg oor Suid-Afrika gedoen, waartydens die doelstellings en werksaamhede van die CSO verduidelik en bevorder is. Toe hierdie optredes en ook die aktiewe sendingwerk in ons hawens skielik gestop is deur die Covid-19-pandemie het Hugo besluit om ʼn aanlyn musiekprogram ten bate van die CSO aan te bied.

Die konsert is tot Sondag 4 Oktober te sien. Kaartjies kos R120 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.