E-konsertgids: Anna Davel, ‘Grotman’ dié naweek te sien

Anna Davel. (Foto: Marilie Loubser)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Anna Davel bied met haar KKNK Mothership-sessie van vandag (10 September) tot Sondag 20 September ’n heerlike, ryk vertoning. Dit bestaan uit ’n paar oorspronklike liedjies, asook haar gunsteling jazz- en swing-liedjies.

Kykers kan uitsien na liedjies soos “Can’t Take that Away from Me”, “Gypsy”, “Beyond the Sea”, “Dra my saam” en “Those Were the Days”. Saam met Davel op die verhoog is die fenomenale pianis Matthys Maree asook Donveno Prins op saxofoon.

Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar.

Saterdag 12 September

Die bekende musikant Jason Oosthuizen skep die naweek bewusmaking oor plaasmoorde en geslagsgeweld in Suid-Afrika met ʼn gratis konsert op sy Facebook-blad.

Lucas J. van der Merwe en Kerry-Anne Allerston is ook te sien in die vertoning. Die konsert vorm deel van die Play it forward-inisiatief vir Tattooers Unite SA en #feedourcrew.

Die konsert sal ook op YouTube te sien wees. Die program sal ʼn regstreekse vertoning van die Oooth Acoustic-albumbekendstelling asook ʼn gesprek met ʼn verteenwoordiger van SA Women Fight Back insluit.

Donasies vir die konsert word aangemoedig.

Sondag 13 September

Wynand van Vollenstee in ‘Groet die Grotman 2’.

Lefra se Kelderkonsert bied Sondag Groet die Grotman: 2 aan. Dit is 20 jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud… of is hulle?  Die kinders is tieners met hulle eie uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, e-posse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlyn konserte.

Die skreeusnaakse Wynand van Vollenstee is te sien in die rol van Grotman 2. Frans Swart het die teks geskryf en behartig die regie.

Kaartjies kos R120 en is by hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.