E-konsertgids: Boerneef, Corlea, Pieter Smith dié langnaweek aanlyn te hoor

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Vandag (Donderdag 6 Augustus) is die Duo Duinenberg, wat bestaan uit die musikante Gelske van der Duin en Yolande van den Berg, aanlyn te sien in samewerking met die Pierneefteater.

ʼn Musikale reis met sang en klavier – Afrikaanse poësie in liedvorm deur twee kunstenaars uit Nederland – gedigte van onder andere Boerneef, Totius, Elrika van der Walt, Marianne Raath en Susan Smith. Die twee Boerneef-gedigte is deur Pieter de Villiers getoonset terwyl Van den Berg vir die meeste ander toonsettings verantwoordelik was. Toonsettings van een Hollandse en een Friese gedig (De hjerst hat de simmer te hôf brocht) kan ook gehoor word.

Van der Duin en Van den Berg het albei aan die Nederlandse Konservatorium as onderskeidelik pianis en klassieke sangeres afgestudeer. Dis ook hier waar hulle paaie gekruis het. Van den Berg is in Suid-Afrika gebore en van haar familie woon steeds hier. Van der Duin is in Friesland gebore en dít is waarom sy die uitspraak van die Afrikaanse gedigte kan regkry – volgens haar is daar heelwat ooreenkomste in uitspraak tussen Fries en Afrikaans.

Elsabe Aldrich. (Foto: Facebook)

As bykomende toegif tot die aanlyn konsert gaan daar ook treffende natuurfoto’s vertoon word om by die liedjies aan te sluit.

Die konsert begin om 19:00. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Die Boer by die Huis bied ʼn Vrouedagviering aan saam met pretprater Elsabé Aldrich van 6 tot 11 Augustus.

Elsabé is al langer as twee dekades ʼn bekende in die motiveringswêreld landwyd en in Namibië. Sy is in drama en onderwys opgelei en glo aan die genesende krag van lag. Daarom verkies sy om as pretprater bekend te staan. Sy lees graag en fynkam die suksesliteratuur vir wenwenke oor sprankelverhoudings en innerlike oorwinning. Sy is gebek en gesnaar om gehore te inspireer, onderrig en veral vermaak. Haar jongste boek, So sappig, is steeds ʼn topverkoper.

Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Vrydag 7 Augustus

Sterling EQ.

Die instrumentale groep Sterling EQ se eerste aanlyn konsert vind Vrydag regstreeks vanuit Milestone Studios in Kaapstad plaas. Die konsert sal ook geld insamel vir Waiting in the Wings, ʼn organisasie wat omsien na kunstenaars wat weens die Covid-19-pandemie nie meer basiese behoeftes kan bekostig nie. Die produksie sal vir sewe dae ná die regstreekse uitsending beskikbaar wees.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Saterdag 8 Augustus

Die sangeres Corlea en bekende motiveringspreker, voorkomskonsultant en ontwerper, Elzaan van der Merwe, bied Saterdag Hartklop van ’n Vrou as aanlyn vertoning aan. Dié vertoning is ten bate van die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom (AKK) wat die afgelope paar maande van landwye afsondering swaar gebuk onder die finansiële implikasies moet voortbestaan.

Corlea.

In dié inspirerende vertoning sal Corlea en Elzaan vroueharte weer nuwe moed – en krag – gee met hul wyse woorde en empatie met die alledaagse uitdagings wat vrouwees kan bied.

Een gelukkige kaartjiehouer sal ʼn gratis 60 minute lange voorkomskonsultasie, ter waarde van ongeveer R2 500, deur Elzaan kan geniet.

“Die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom lê my baie na aan die hart en dis ook hoekom ek ingestem het om een van die beskermers te wees,” het Corlea vertel.

Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Sondag 9 Augustus

Pieter-Smith

Pieter Smith. (Foto: Facebook)

Pieter Smith is een van die bekendste kunstenaars in Suid-Afrika, en aanhangers kan daarna uitsien om hom Sondag om 17:00 te sien in Lefra se Kelderkonserte. Van “Haas Das” tot “Stukkie van der Merwe”, neem Smith ons op ʼn nostalgiese reis deur sy loopbaan. Hy beloof dat die vertoning ook ʼn akoestiese afdeling gaan hê.

“Die Lefra Kelderkonserte is werklik ʼn besonderse projek om dit vir ons kunstenaars moontlik te maak om steeds konsert te kan hou. Ons bring nou die konsert na jou sitkamer toe. Dit bly natuurlik moeilik om op te tree as jy nie ʼn gehoor het nie, maar ons weet ons het nou ʼn groter gehoor hier in Suid-Afrika asook in die buiteland!”

Kaartjies kos R115 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.