E-konsertgids: Elvis Blue, ‘Afrikaans Gaan Global’, Rocco de Villiers dié naweek te sien

Elvis Blue. (Foto: Marilie Loubser)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Die KKNK Mothership-sessies bied aan Elvis Blue is Donderdag 3 September aanlyn te sien. Hy is saam met Thinus Odendaal (tromme) en Mathys Maree (klavier) in hierdie aanlyn konsert te sien. Kykers kan verwag om van Elvis se grootste treffers te hoor, asook ’n paar van sy vertolkings van ou gunstelinge.

Dié vertoning sal vanaf Donderdag om 20:00 vir 72 uur beskikbaar wees om te kyk. Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar.

Vrydag 4 September

Emile Minnie.

Emile Minnie kom kuier op die Pierneefteater se kuberverhoog met ’n splinternuwe Afrikaanse produksie, My ruk in Rio.

“Ek was in 2019 op ’n sabbatsreis van ses maande in Rio de Janeiro. Daar het ek Portugees leer praat by ’n taalskool, wonderlike nuwe vriende gemaak en vir ’n maer tannie met ’n hengse wit bolla klavier gespeel. Tydens die inperking – terug in Suid-Afrika – het ek my swaer se kamera geleen en myself geleer hoe om musiekvideo’s te maak. Toe sit ek in my sitkamer ’n vertoning aanmekaar vir ’n virtuele gehoor. Ek vertel wat ek in alles in Rio beleef het en sing liedjies wat ek geskryf het terwyl ek daar was.”

Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Sonja Heroldt is weer Vrydag aanlyn te sien in die konsert Familiar Favourites met Theo Klassen op kitaar.

Herholdt sing van haar bekendste liedjies in hierdie akoestiese tweetalige konsert van 60 minute wat spesiaal saamgestel en opgeneem is as ʼn aanlyn konsert.

Klassen begelei Heroldt op akoestiese bas-, nylon- en staalsnaarkitare terwyl Heroldt klawerbord speel.  Dit is Heroldt en Klassen se debuut saam en hulle vorm ʼn musikale kombinasie wat unieke akoestiese uiting gee aan die nostalgiese en intieme aard van die program.

Die konsert première Vrydag om 20:00 en is beskikbaar om enige tyd te kyk tot Sondag 6 September. Kaartjies kos R123,50 en is hier beskikbaar.

Saterdag 5 September

(Grafika: Verskaf.)

Afrikaans Gaan Global sal op Saterdag 5 September 12 ure se ononderbroke topgehalte vermaak verskaf met 26 van die land se grootste kunstenaars, onder meer Kurt Darren, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld, Elandré, Jay, Refentse, Robbie Wessels, Ricus Nel, Dirk van der Westhuizen, Brendan Peyper en Christia Visser.

Hierdie regstreekse konsert sal deur aanlyn gehore oor die wêreld heen geniet kan word en aanhangers in Australië, Nieu-Seeland, Europa, Engeland, Kanada, die VSA en natuurlik almal van reg oor Suid-Afrika en Namibië gaan inskakel om in dié aanlyn megafees te deel.

Kaartjies vir Afrikaans Gaan Global kos R120 en is hier beskikbaar.

Die pianis Rocco de Villiers en sy orkes van kitaar en konsertina toor met die gewilde keurspel van Jim Muller in Rocco speel Jim Muller in samewerking met die Pierneefteater.

Immergroen treffers van Nico Carstens, soos “Die Klokkiewals” en “Zambesi”, “Warm Snare” van wyle Hansie Roodt snr., Hendrik Susan, Ollie Viljoen en Taffie Kikillus word afgestof, blink gepoets en kry ʼn nuwe huppel in die stap vir die 21ste eeu.

Hierdie konsert is ʼn huldeblyk, ʼn reis van nostalgie en ʼn kykie in die toekoms sonder om die verlede te vergeet. Voeg daarby ʼn uitgevatte orkes, Rocco se sin vir humor en die voete begin te jeuk. Met Hansie Roodt op kitare en Regardt de Bruin op konsertina.

Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos R120 en is hier beskikbaar.

Sondag 6 September

Ruiter Piet.

Ruiter Piet is die soloprojek van musikant Pieter de Jager. Hy en sy nuwe orkes, “Die Partytjie”, wat bestaan uit Jaco Mans (hoofkitaar) André van Coller (saksofoon) Jason Hinch (tromme) en Duard Musk (baskitaar) is Sondag aanlyn te sien in samewerking met Tuis-bly Sessies.

Ruiter Piet en Die Partytjie speel goed-voel folk rock met lirieke wat handel oor gewone mense se dinge, gevoelens en gebeurtenisse.

Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Die country-legende Billy Forrest en jong country-ster Jason Bradley is te sien in Lefra se Kelderkonsert Twee Generasies Country.

Forrest is ʼn gesoute en geliefde Suid-Afrikaanse country-sanger wat in 1940 gebore is as William Charles Boardman. Bradley is sedert 2007 ʼn bekende naam in die country-wêreld.

Kaartjies kos R115 en is hier beskikbaar.

Die Hier Staan Ons– aanlyn konsertreeks sluit op Sondag 13 September met Jannie Moolman as gaskunstenaar af.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het hande gevat met die sanger en aanbieder Jak de Priester om ʼn konsertreeks aan te bied wat ʼn hulpprogram vir Afrikanermonumente sal ondersteun.

Die konsert begin om 19:00. Kaartjies kos R60 en sal vir 48 uur beskikbaar wees om te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.