E-konsertgids: Immergewilde-kunstenaars Jannie du Toit, Sonja Heroldt, Jan Blohm aanlyn te sien

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Die musikant Jannie du Toit se immergewilde musiekproduksie Bonjour Monsieur Brel is in samewerking met die Pierneefteater aanlyn te sien.

In dié produksie word Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale deur Du Toit gesing en begelei deur ’n musiekensemble van klavier (Chanie Jonker), tjello (Susan Mouton) en kitaar.

Du Toit is dekades reeds ‘n hoogsaangeskrewe Brel-vertolker en ‘n standhoudende eksponent van uitnemendheid in liedkuns, onder andere in Nederlands.

Die kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Afrikaans Gaan Global sal op Saterdag 5 September 12 ure se ononderbroke topgehalte vermaak verskaf met 26 van die land se grootste kunstenaars, onder meer Kurt Darren, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld, Elandré, Jay, Refentse, Robbie Wessels, Ricus Nel, Dirk van der Westhuizen, Brendan Peyper, Christia Visser en vele meer.

Hierdie regstreekse konsert sal deur aanlyn gehore regoor die wêreld geniet kan word en aanhangers in Australië, Nieu-Seeland, Europa, Engeland, Kanada, die VSA en natuurlik almal van regoor Suid-Afrika en Namibië gaan inskakel om in dié aanlyn megafees te deel.

Kaartjies vir Afrikaans Gaan Global kos R120 en is hier beskikbaar.

Jan Blohm. (Foto: Marilie Loubser)

Die gewilde sanger Jan Blohm span in sy spesiale  KKNK Mothership-sessie, ’n akoestiese musiekkonsert, kragte saam met die baskitaarspeler Ashley Hilton Jacobs en John Masser op tromme.

Die vertoning is vanaf Donderdag 27 Augustus om 20:00 te sien vir 72 uur. Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar.

Die Klein Karoo Klassique-konsert, Oudtshoorn se winterfees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn, word vanjaar vir die eerste keer aanlyn aangebied in ʼn digitale reeks. Dié reeks skop op Donderdag 27 Augustus af met Hugo Theart as kunsdirekteur.

Die Kaapse Filharmoniese Orkes (CPO) vorm ʼn integrale deel van dié aanlyn fees wat dié maand en volgende maand beskikbaar is. Die Charl du Plessis-trio is ook deel van die fees, met die Suid-Afrikaanse première van verwerkings van Bach, komposisies van Du Plessis en ander wat in 2017 op die Festival Musiekdorf Ernen in Switzerland opgeneem is.

Die volledige program lyk só:

  • 27 August: Beethoven-tripelkonsert
  • 3 September: Mozart-houtblaasoktette
  • 10 September: Gounod se Petite Symphonie
  • 17 September: Charl du Plessis Trio in Ernen

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Vrydag 28 Augustus

Die geliefde Afrikaanse sangeres Sonja Heroldt is Vrydag aanlyn te sien in die konsert Familiar Favourites met Theo Klassen op kitaar.

Herholdt sing van haar bekendste liedjies in hierdie akoestiese tweetalige konsert van 60 minute wat spesiaal saamgestel en opgeneem is as ‘n aanlyn konsert.

Klassen begelei Heroldt op akoestiese bas-, nylon- en staalsnaarkitare terwyl Heroldt klawerbord speel.  Hierdie is Heroldt en Klassen se debuutsamewerking en saam vorm hulle ‘n musikale kombinasie wat unieke akoestiese uiting gee aan die nostalgiese en intieme aard van die program.

Die konsert première Vrydag om 20:00 en is beskikbaar om enige tyd te kyk tot Vrydag 4 September. Kaartjies kos R123,50 en is hier beskikbaar.

‘n Kaartjie om die konsert te stroom is beskikbaar by www.tixsa.co.za teen R123.50

Koos van der Merwe gee in samewerking met die Pierneefteater ‘n dieper kyk in die storie agter liedjies soos “Houtkruis”, “Dans my na die liefde toe”, “Liefde minus zero” en “Lente my…”.

Beleef van Van der Merwe se eie musiek asook dié van Leonard Cohen, Bob Dylan, Toon Hermans en Gert Vlok Nel.

Met Van der Merwe op akoestiese kitaar en mondfluitjie, Amanda Kidson op klavier, Calvyn Steyn op viool en Hanley-Marc Jumat op elektriese kitaar.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Sondag 30 Augustus

Pieter Smith en Christo Snyman in die Groep 2-huldeblykkonsert.

Die Huldeblyk aan Groep 2-konsert met Pieter Smith en Christo Snyman is Sondag in samewerking met Lefra se Kelderkonserte te sien.

Groep 2 met Gert van Tonder en Sias Reinecke was legendaries in Suid-Afrika. Met hulle groot treffers soos “Die Oukraalliedjie”, “Die padda wou gaan opsit” en “Daar is niks soos ware liefde nie”, het Groep 2 talle rekords in die musiekbedryf laat spat.

Pieter Smith is heeltyds musikant en bekend vir snitte soos “Blomme” en “Stukkie van der Merwe”. Christo Snyman is een derde van die gewilde sanggroep Die Broers, en een helfte van die duo Christo en Cobus.

Kaartjies kos R115 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.