E-konsertgids: Joshua na die Reën, Gé Korsten, Johny Klein dié naweek te sien

Ichnus.

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Die opkomende kunstenaar Ichnus, wat onlangs sy eerste enkelsnit “Vat vas” bekend gestel het, is die naweek te sien in sy eerste aanlyn tuiskonsert, in samewerking met Dapper Media.

“Ek wil graag vir jou, jou vriende en familie uitnooi om saam met my en twee van my goeie vriende se kitaarorkes te kom kuier met my heel eerste tuiskonsert,” sê die sanger.

“Ons gaan so bietjie ruk en skud met ʼn baie lekker rou konsert, so asof ons by julle in julle eie woning kuier, aangesien ons nog steeds nie by mekaar mag kuier nie.”

Die konsert is tot Maandag 20 Julie te sien. Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Die jaarlikse Affie-Wildsfees word vanjaar aangebied as die Affie Virtuele Wildsfees. Die produksie bied ʼn alternatief aan wildsfeesgangers, maar waar die fees in die verlede eksklusief vir Pretorianers beskore was, kan kykers wêreldwyd nou saamkuier.

Die 3-uurlange produksie sluit optredes in van Appel, Bad Peter, Elandré en Early B. Nog ʼn groot verrassing sal later aangekondig word. Hou die webwerf dop by www.affieswildsfees.co.za.

Hierdie fondsinsamelingsprojek word regstreeks uitgesaai op Saterdag 15 Augustus vanaf 17:30. Kaartjies kos R300 vir die hele gesin en is hier beskikbaar.

Jakkie Louw bied op 24 Julie ʼn spesiale virtuele konsert, Jakkie Louw sing vir Pierneef, aan ten bate van die Laerskool Pierneef in Pretoria. Kom beleef hom in jou sitkamer, by jou braaivleisvuur of enige plek in die wêreld en kuier ’n “Rambo uit ’n bos uit” terwyl hy sy bekendste treffers sing en sy stories vertel.

As ʼn ekstra bonus gaan Louw die verhoog deel met die ongelooflike vioolspeler Johan Scheppel, wat beloof om die geleentheid in ʼn unieke belewenis te omskep met die manier waarop hy met sy viool kan toor.

Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Die Bottomless Coffee Band is te sien in Die Boer by die Huis se vierde aanlyn produksie, Van alle kante.

Este en Lourens is super talent- en ewe passievol! Tussen hulle bespeel hulle 12 instrumente en lewer jaarliks sowat 150 vertonings. Op die eerste aand van die afsonderingstydperk het hulle reeds ʼn aanlyn vertoning gedoen vanuit hul sitkamer om hul nuwe liedjie “Wilderness” bekend te stel.

Nou beweeg hulle vir die eerste keer uit hul eie sitkamer na die “sitkamer” van Die Boer-teater in Durbanville in die Wes-Kaap, om die mooiste klanke en prentjies te maak.

Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Vrydag 17 Julie

Joshua na die Reën.

Joshua na die Reën is Vrydag te sien in die aanlyn konsert Ongegrendel. “Ek mis julle, ek mis my band, ek mis die oop pad deur die Karoo, en ek mis dit om musiek vir julle te maak terwyl ek julle oë kan sien,” sê die musikant.

Die konsert begin om 19:00. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Dis vanjaar 21 jaar sedert die legendariese stem van Suid-Afrika se eerste ware superster, Gé Korsten, vir altyd stil geword het. Die sanger se lewe, loopbaan en fenomenale talent word gevier in Frans Swart se huldeblykproduksie Gé Sing: Hoor my lied.

Hierdie produksie is verlede jaar voor ʼn gehoor by die Sun Arena in Pretoria opgeneem en is Vrydag, 17 Julie om 19:00 te sien. Kaartjies kos R120 en is hier beskikbaar.

Saterdag 18 Julie

Ter ere van Nelson Mandela-dag gaan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in samewerking met Psychedelic Theatre ʼn eksklusiewe fees van vlamme, vuur en natuur vir 50 gelukkige gaste aanbied.

Hoewel die monument nog vir die publiek gesluit is, sal dit spesiaal geopen word sodat die grasieuse vuurdansers en hul verskeie vlammende voorwerpe die gehoor vir 67 minute met asemrowende vuurtoertjies, musiek en choreografie kan betower.

Die vertoning sal op Saterdag om 18:30 begin. Kaartjies kos R100 per persoon. Weens die koronavirus-voorkomingsmaatreëls sal slegs 50 gaste toegelaat word en moet almal maskers dra. Belangstellendes moet vooraf bespreek en elektronies betaal deur Jeffrey Pietersen op [email protected] of 021 863 0543/872 3441 te kontak.

Die virtuele Dans van die Vlamme vind aanlyn vanaf 31 Julie 2020 van 18:30 via https://tickets.computicket.com/ plaas en kan op ʼn rekenaar, tablet of slimfoon gestroom word. Tot en met die aanvangstyd, kan kaartjies teen R50 aanlyn gekoop word en dit sal tot en met 31 Augustus vanjaar op Computicket se webtuiste beskikbaar wees

Sondag 19 Julie

Die Pomporrelkonsert word Sondag in samewerking met Lefra Produksies se Kelderkonserte aangebied.

Ferdinand Deist het die wonderlikste stories oor die Sandveld geskryf, die smal landboustreek tussen die Swartland en die Weskus. Daar waar karakters gebore word en net groter karakters word. Die akteur Johny Klein het onlangs Deist se boeke op RSG voorgelees en dit was ongelooflik gewild by die luisteraars.  Dit was dus die logiese keuse dat Die Pomporrelkonsert verhoog toe moes gaan en die produksie speel onder groot toejuiging reg oor die land. Die Pomporrelkonsert word op Sondag om 17:00 uitgesaai.

Kaartjies kos R65 en is hier beskikbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae