E-konsertgids: Klassieke musiek, digkuns die naweek te hoor

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Donderdag 1 Oktober

Die Klassique Baroque-fees vind vanjaar vir die eerste keer plaas en is ’n samewerking van twee van Suid-Afrika se klassieke musiekfeeste: Klein Karoo Klassique, wat jaarliks in Oudtshoorn plaasvind, en die Kaapstad Barokfees, wat jaarliks in Kaapstad aangebied word.

Die konserte is spesiaal vir dié aanlyn fees, met die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting, opgeneem. Ian Burgess-Simpson Pianos het ’n Fazioli-klavier gratis vir die konserte beskikbaar gestel.

Lynelle Kenned (sopraan), Ralitza Macheva (barokviool), Refiloe Olifant (barokviool) en Erik Dippenaar (klavesimbel) begin die program met Misshapen Pearls.

Met Haydn in London voer lede van Camerata Tinta Barocca [Liesl Stoltz (dwarsfluit), Refiloe Olifant (eerste viool), Bonolo Kgaile (tweede viool), Lynn Rudolph (altviool), Cheryl de Havilland (tjello), Mariechen Meyer (kontrabas) en Erik Dippenaar (klavesimbel)] Joseph Haydn se geliefde Surprise Symphony uit.

Janel Speelman (sopraan) en Esthea Kruger (klavier) bied in 1840 ’n program van liedere en musiek vir solo-klavier deur Robert Schumann aan.

Die hoogaangeskrewe Zomari Duo [Bridget Rennie-Salonen (dwarsfluit) en James Grace (kitaar)] sluit die Klassique Baroque-fees af met Histoire du Tango, ’n uiteenlopende uitvoering van opwindende musiek vir dwarsfluit en kitaar uit Suid-Amerika.

Die eerste van hierdie konserte debuteer Donderdag 1 Oktober. Daarna word ’n nuwe uitvoering elke Donderdag vrygestel. Uitvoerings is vanaf 18:00 op die onderskeie Donderdae tot Saterdag 31 Oktober om middernag beskikbaar om na te kyk.

Kaartjies vir hierdie vier uitvoerings is tot 31 Oktober beskikbaar en kos slegs R100 per uitvoering by Quicket. ’n Beperkte aantal pakkette vir al vier uitvoerings is teen slegs R300 beskikbaar.

Vrydag 2 Oktober

Woorde III – Lizanne Barnard is ’n produksie wat uit ’n unieke situasie geskep is. Lede van die publiek is genooi om hul digkuns vir Barnard te stuur en uit meer as 200 inskrywings het sy nege gekies om te toonset.

Van die gaskunstenaars sluit in: Anna Davel, Anne-Marie van Eeden, Ian Roberts, Pyjama Shark, Emma van Heyn, Helena Hettema, Loren Ehlers en Ignatius van Heerden.

Kaartjies kos R85 en is hier beskikbaar.

Saterdag 3 Oktober

Robbie Wessels, Leah, Willem Botha, Reynardt Hugo, André Schwartz, Lee Scott, Bianca le Grange en David Johnson is te sien in die produksie Lockdown Lekkerte.

Een van die vele hoogtepunte van die produksie is ook die verwerking van die enkelsnit, “From now on”, vanuit die bekroonde rolprent The Greatest Showman, wat vroeër vanjaar tydens inperkingsvlak 5 opgeneem en vrygestel is.

“Ek sien baie uit na Lockdown Lekkerte en die kuier saam met my musiekvriende terwyl ons mense so by die huis kan vermaak,” het Robbie Wessels vertel.

Die vertoning vind om 19:00 plaas. Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.