E-konsertgids: Monique Steyn, Jakkie Louw sing dié naweek aanlyn

Monique Steyn. (Foto: Verskaf.)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Die Staatsteater bied van Maandag 20 Julie tot Sondag 9 Augustus die klugkomedie-toneelstuk Koekeloer aan op YouTube. Die veteraanakteur Gavin van den Bergh vertolk die rol van ds. Voëltjie de Groot. Ook in die rolverdeling is Ben Pienaar, Roché van Blerk, Tiaan Slabbert, Emil Haarhoff en Juanita de Villiers.

Die produksie is geskryf en vervaardig deur Braam van der Vyver. Die vertoning is elke aand gratis te sien om 19:00 en het ʼn ouderdomsbeperking van 13.

Vrydag 24 Julie

Monique Steyn is een van ons land se beste vrouekunstenaars. Uiteindelik is dit tyd vir haar eie intieme INbly-konsert waarin kykers kan uitsien na ʼn mosaïek van ʼn konsert – belaai met van haar grootste treffers, soos “Die boom”, asook treffers wat sy van haar gunsteling-kunstenaars vertolk.

Hierdie INbly-konsert het ook vir die eerste keer ʼn klein gehoor wat die ervaring werklik gesellig maak. Steyn dra hierdie konsert op aan al die musikante op die verhoog asook die mense wat agter die skerms werk.

Kaartjies kos R70 en is hier beskikbaar.

Jakkie Louw (Foto: Facebook)

Jakkie Louw bied op 24 Julie ʼn spesiale virtuele konsert, Jakkie Louw sing vir Pierneef, aan ten bate van die Laerskool Pierneef in Pretoria. Kom beleef Louw in jou sitkamer, by jou braaivleisvuur of enige plek ter wêreld en kuier ’n “Rambo uit ’n bos uit” terwyl hy sy bekendste treffers sing en sy stories vertel.

As ʼn ekstra bonus gaan Louw die verhoog deel met Johan Scheppel, ʼn man wat met sy viool kan toor.

Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Vrydag span vyf vryskutmusikante saam om ʼn produksie getiteld Mezzanine Sessions aanmekaar te sit. Ashley Hilton, baskitaarspeler vir Jan Blohm, sal vir die eerste keer as voorsanger en kitaarspeler ʼn groep lei. Basson Laubscher op kitaar, Mark Ellis op baskitaar, Luke Smith op klawerbord en Jean Marais op tromme sal saam met Hilton sy oorspronklike komposisies opvoer. Die konsert word deur Tunes Studio aangebied.

ʼn Gedeelte van die inkomste gaan aan gaan na die Stellenbosch Nagskuiling. Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Sondag 26 Julie

André die skreeusnaakse hipnotiseur tree al die afgelope twee dekades reg oor Suid-Afrika op, en vermaak gehore steeds met sy skaterlag-vertonings landwyd. Sondag is hy om 17:00 regstreeks aanlyn te sien as een van Lefra se Kelderkonserte.

Is hipnose nie gevaarlik nie? “ʼn Mens onder hipnose verloor nooit beheer oor wat hy doen nie, en hy onthou presies wat hy gedoen het. ʼn Vrywilliger sal hom byvoorbeeld nie kaal uittrek tensy hy iemand is wat in elk geval by elke partytjie so iets sou doen nie,” sê André.

Kaartjies kos R70 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.