E-konsertgids: ‘Nonna’-sanger, Touch of Class, ‘Grotman’ dié naweek aanlyn te sien

Irene-Louise van Wyk.

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Vrydag 5 Junie

Vrydag om 12:00 sing Irene-Louise van Wyk regstreeks in haar sitkamer al die snitte in haar jongste album, Ek voel soos Oee, wat onlangs uitgereik is. Die konsert is deel van Speakers Profile se Sitkamersessies. Sy sing ook gewilde treffers in haar vorige albums.

Die vertoning is gratis, maar daar is ʼn opsie om ʼn donasie te gee. Kliek hier om te bespreek. Die bespreking is geldig tot 7 Junie om middernag.

Die Pierneefteater bied Vrydag om 19:00 ʼn huiskonsert, Stuur my jou woorde, met musikant en komponis Lizanne Barnard en Adam Helberg aan.

Barnard het ʼn manier gevind om die inperkingstyd vir haarself nie net draaglik te maak nie, maar ook sinvol. Op die ingewing van die oomblik het sy besluit om ʼn uitnodiging te rig aan bekendes, onbekendes of bloot gewilliges wat lus is om hul woorde met haar te deel.

Lizanne Barnard en haar seun, Adam Helberg.

Uit die oorvloed gedigte wat sy van wyd en syd ontvang het, het sy nege gekies waaruit sy liedjies geskep het en hierdie liedjies vorm die materiaal vir die huiskonsert wat sy saam met haar seun, Adam Helberg, bekend as Pyjama Shark, en haar man, Wayne Raath, geskep het.

Pyjama Shark is ʼn musiekvervaardiger, musikant en sanger in eie reg. “Ek speel nie saam met Adam omdat hy my seun is nie, ek speel saam met hom omdat hy ʼn baie unieke en fyn musikant is”, sê Barnard.

Die intimiteit van die konsert met Lizanne agter die klavier en Adam op kitaar en stem trek jou onmiddellik in tot reg by hulle in die sitkamer.

Die bekende sangeres en goeie vriendin van Lizanne, Anna Davel, het vir elke gedig wat getoonset is ʼn kunswerk geskep wat deel vorm van die aanbieding.

Kaartjies vir die vertoning kos R75 en is hier beskikbaar.

Saterdag 6 Junie

Appel hou Saterdag ‘n tuiskonsert.

Saterdag is die gewilde liedjieskrywer en sanger Appel aan die beurt met sy Tuiskonsert, aangebied deur Dapper Media.

“Dit is meer as net musiek. Kom geniet saam met my die stories en emosies agter die liedjies,” sê Appel.

“Ek bevoorreg genoeg om saam met Danny Smoke en Rochelle Rautenbach te sit waar ons die ongeslypte weergawes van my jongste liedjies vir julle speel. Gryp solank ʼn bier, ʼn bottel brandewyn en ʼn pak snesies vir dié wat emosioneel gaan raak. Vanaand is ʼn bietjie meer as net ʼn partytjieaand. Dit is ʼn aand om ʼn bietjie rustig te raak en te reflekteer.”

Kaartjies kos R99 en is hier beskikbaar.

Touch of Class se INbly-konsert is vol opwinding met oorspronklike snitte en immergroen bekendes wat deur Deon van der Merwe en Dusty Dixon aangebied word.

Die konsert het komiese elemente, afgewissel met melancholiese elemente wat Deon se kitaar en Dusty se warm stem laat skitter. Daar is ook ʼn verrassing aan die einde van die konsert: “Dueling Banjo’s” deur Dusty en Deon.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Zip Zap Circus.

Die Zip Zap Circus bied ook hul familievriendelike produksie The Caretaker Saterdag om 16:00 aan. Dié sirkusproduksie is in 2009 vir die eerste keer aangebied.

Adele Blank van die Free Flight Dance Company is die choreograaf en regisseur van The Caretaker, ʼn produksie waarin teater, dans en sirkus gekombineer word. Die verhaal speel af in ʼn klein woonstelblok en vertel die verhaal van die verskeidenheid mense wat daar woon.

Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Sondag 7 Junie

Wynand van Vollenstee in ‘Groet die Grotman 2’.

Groet die Grotman 2 is Lefra se derde Kelderkonsert en word op Sondag om 17:00 as regstreekse aanlyn digitale produksie uitgesaai.

Dit is 20 jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, e-posse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen mans en vroue is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vroue van Venus. Die skreeusnaakse Wynand van Vollenstee is te sien in die rol van Grotman, en Frans Swart het die teks geskryf en is ook die regisseur.

Kaartjies kos slegs R120 en is hier beskikbaar. Die skakel aktiveer eers om 16:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.