E-konsertgids: Pieter Koen, Marion Holm, Leah die naweek te sien

Pieter Koen. (Foto: Verskaf)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Pieter Koen hou vandeesweek tuiskonsert in samewerking met Dapper Media. “Uiteindelik kan ek ook nou my naam voeg by die tientalle kunstenaars wat in die inperkingstyd aanlyn vertonings aanbied. Ek is super opgewonde en wil jou uitnooi om saam met my te kom kuier,” sê Koen.

“Dit gaan baie spesiaal wees, amper soos ’n maskerbal sonder die maskers. Die rede is eenvoudig, ek het besluit om van my meer bekende liedjies in ʼn baie eenvoudiger formaat met julle te deel. Dis rou, eerlik en uit die hart en vir ʼn slag gaan die aanslag heeltemal rustiger wees as hoe jy my op die verhoog ken.”

Die konsert is vanaf 17 tot 22 Junie eksklusief op Dapper Media se webwerf beskikbaar teen slegs R69 per kaartjie. Wanneer jy jou kaartjie gekoop het, kan jy die konsert enige tyd en soveel kere as wat jy wil op enige slimtoestel geniet.

Donderdag 18 Junie

Backstage met Marion. (Foto: Verskaf.)

Die bekende Afrikaanse aktrise Marion Holm is vandeesweek aanlyn te sien in Backstage met Marion, ʼn vertoning wat by Die Boer-teater in Durbanville opgeneem is.

“In plaas daarvan om ʼn vertoning te doen waar ek optree asof daar ʼn gehoor is, het ek besluit om te maak asof ek deur die gehoor stap ná afloop van ʼn show en met die mense gesels,” verduidelik Holm die konsep van die konsert.

Backstage met Marion vorm deel van Die Boer se reeks aanlyn konserte wat onlangs op die splinternuwe digitale platform Die Boer by die Huis afgeskop het.

Die konsert is Donderdag 18 Junie om 18:00 te sien. Die vertoning is beskikbaar vir kaartjiehouers tot Dinsdag 23 Junie. Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Jennifer Zamudio, die gewilde Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer, hou Donderdag om 20:00 ʼn gratis tuiskonsert op haar Facebook-blad. Bankbesonderhede vir donasies sal beskikbaar gemaak word.

Vrydag 19 Junie

Ruhan du Toit. (Foto: Facebook)

Ruhan du Toit is Vrydag te sien in sy tweede INbly-konsert, waar gehore die kans sal kry om die man agter die stem ʼn bietjie beter te leer ken.

Saam met sy orkes deel hy ook een van sy nuwe liedjies, “Lewe Red”, wat eersdaags op sy debuutalbum sal verskyn. “Lewe Red” sal ook van Vrydag af op alle digitale platforms beskikbaar wees.

Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos R80 en is hier beskikbaar.

Die musikante Stef Kruger en Petronel Baard is Vrydag te sien in die vertoning Verdubbel die Geluk. Eerlike, oorspronklike Afrikaanse liedjies, musiek en liriek met kerslig atmosfeer is ideaal vir ’n wintersaand.

Verdubbel die Geluk is om 19:00 te sien. Kaartjies kos R60 en is hier beskikbaar.

Die derde aflewering van die #helpthoseonthefrontline-liefdadigheidskonserte is ook Vrydag om 19:00 te sien. Dié gospelkonsertreeks is ten bate van die Smile Foundation se poging om geld in te samel vir diegene in nood tydens die Covid-19-pandemie.

Kunstenaars soos Alette en Heinz Winckler, Bacchus Nel en sy Bra’s, Brendan Peyper, Dawie de Jager, Elandré, Gian Groen, Jakkie Louw, Janie Bay, Kurt Darren, Martin Bester & Band en Reynardt Hugo sal te sien wees.

Kaartjies kos R67 en is hier beskikbaar.

Saterdag 20 Junie

Leah. (Foto: Willem Botha)

Die blondekop sangeres Leah sing Saterdag regstreeks vanuit haar sitkamer op die kykNET-program Kom ons jol. Die program word deur Hamilton Wessels en Leandie du Randt aangebied.

Leah sal om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien wees.

Sondag 21 Junie

Lefra Produksies se Kelderkonsertreeks bied Sondag ʼn Vadersdagvertoning My Pa, met akteur Cobus Venter in die rol van Gert Struwig, aan.

Hy is beslis nie metroman nie. Naas die Bybel, is rugby sy grootste aanwyser. Maar dan tree die werklikheid in en Gert se bestaan word dramaties verander met sy eie vraag: “Is ek my kind se held?”

ʼn Eg Suid-Afrikaanse man! Skaterlagtye en ʼn komiese kykie na die Suid-Afrikaanse familie. Die konsert begin om 17:00. Kaartjies kos R70 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.