E-konsertgids: Pop-, rock- en country-legendes dié naweek aanlyn te sien

Jo Black. (Foto: Verskaf)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Jo Black en Dapper Media bederf aanhangers hierdie naweek met sy tuiskonsert, Jo Black: Die storie agter die stories.

Hierdie intieme akoestiese vertoning bied ʼn geleentheid om die man en die stories agter die liedjies ʼn bietjie beter te leer ken en te hoor hoe die liedjies aanvanklik geklink het toe dit maar nog net ʼn paar minute oud was.

Die konsert is vanaf 10-15 Junie eksklusief op Dapper Media se webwerf beskikbaar teen slegs R99 per kaartjie. Wanneer jy jou kaartjie gekoop het, kan jy die konsert enige tyd en soveel kere as wat jy wil op enige slimtoestel geniet.

Vrydag 12 Junie

Die musiekpaar bekend as Coffee Snobs in samewerking met die bekroonde skrywer en digter Riana Scheepers neem die gehoor op ’n liriese reis van uitsonderlike digvorme.

Donkernagpantoen – Die reis van vers na liriek wys op ’n opwindende manier hoe tradisionele digvorms deur musikale verwerking nuwe dimensies van skoonheid, ontroering en verwondering verkry.

Die genres wat getoonset en gesing word, is onder meer die enigmatiese pantoen, ʼn meesleurende wiegelied en ʼn broeiende villanelle, en vir afwisseling ʼn tranetrekkende smartlap en ʼn outentieke Kaapse moppie. Ander digvorms wat ook gehoor kan word, is ʼn ode, ʼn ballade, ʼn parodie en ʼn lament.

Die program word om 19:00 aangebied deur die Pierneefteater. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Die tweede aflewering van die #helpthoseonthefrontline-liefdadigheidskonserte is ook Vrydag om 19:00 te sien. Dié gospelkonsertreeks is ten bate van die Smile Foundation se pogings om geld in te samel vir diegene in nood tydens die Covid-19-pandemie.

Kunstenaars soos Alette en Heinz Winckler, Carindé, Franna Benadé, Hannes van der Walt, Onbeskaamd, Providence, Retief Burger en die Soweto Gospel-koor sal te sien wees.

Karlien van Jaarsveld is Vrydag te sien in haar aanlyn konsert ‘Dekade’. (Foto: Instagram/Karlien van Jaarsveld)

Kaartjies kos R67 en is hier beskikbaar.

Die gewilde Afrikaanse popsangeres en liedjieskrywer Karlien van Jaarsveld is ook Vrydag aan die beurt met haar INbly-konsert: Karlien van Jaarsveld Dekade.

Met ou en nuwe liedjies, soos wat dit nog nie voorheen gehoor is nie, deel Karlien ʼn musiek van ʼn dekade met haar aanhangers. “ʼn Dekade is ʼn lang tyd. Baie dinge gebeur, mense kan kom en gaan. Vele hoogtepunte, maar ook vele uitdagings. Ek is geseënd met vier pragtige kinders, ʼn wonderlike man, ek is versot op Fokofpolisiekar en ek leef met ongekende dankbaarheid,” sê sy.

Kaartjies kos R80 en is hier beskikbaar.

Saterdag 13 Junie

Francois van Coke.

Kurt Darren is Saterdag om 19:00 aanlyn met sy INbly-konsert: Kurt Darren Non Stop Party wat jou voete sal laat jeuk. Kom ons dans op die tafel en sokkie kaalvoet saam met Kurt en die internetsensasie Afrikaans Wil Dans.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Rockmusiekliefhebbers kan Saterdag om 20:00 inskakel vir Francois van Coke se aanlyn produksie Stories agter die tunes regstreeks uit die Van Coke-ateljee in Kaapstad.

Van Coke sal saam met Jedd Kossew en Richard Onraet treffers soos “Toe vind ek jou”, “Komma”, “Ek skyn(heilig)” en “Tot die son uitkom” sing terwyl hy die stories agter die treffers vertel. Van Coke is die laaste 17 jaar in die musiekbedryf bekend as voorsanger vir Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel en as solokunstenaar.

Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar.

Sondag 14 Junie

Country Legends en die Rodeo Girls.

Lefra se eerste Country-legendes-konsert is op 5 Augustus 2006 in die Big Top Arena van Carnival City aangebied. Die koninklikes van Suid-Afrikaanse countrymusiek het geskitter in een van die grootste country-konserte nog.  Bobby Angel, Barbara Ray, Sally Vaughn, Clive Bruce, Tommy Dell, Jody Wayne, Lee Magnum en Billy Forest het saam met Lance James die verhoog gedeel. Die Rodeo Girls het die danspassies verskaf.  Die konsert is opgeneem en word hierdie Sondag om 17:00 uitgesaai as een van Lefra se Kelderkonserte.

Kaartjies kos R70 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.