E-konsertgids: Roan Ash, Charl du Plessis, Hannes Brümmer dié naweek te sien

Roan Ash. (Foto: Marilie Loubser)

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Donderdag 17 September

Die eerste aanlyn Klein Karoo Klassique-vertoning skop vandeesweek af met die Charl du Plessis-trio. Du Plessis (pianis), Werner Spies (bas) en Hugo Radyn (tromme) is een van Suid-Afrika se mees suksesvolle ensembles.

Die vertoning is opgeneem in 2017 by die pragtige St. George-katedraal tydens die Musikorf-fees in Ernen, Switserland. Die konsert sluit in JS Bach se Concerto vir twee viole sowel as ʼn suite wat musiek deur Bach met jazz-gunstelinge meng.

Die konsert is tot Vrydag 25 September te sien. Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Die KKNK Mothership Sessions-musiekreeks stel vandeesweek Roan Ash bekend. Ash is een van Suid-Afrika se mees suksesvolle country-blues-kunstenaars en sy musiek het reeds meer as 30 miljoen trefslae op digitale platforms.

Ash se album Whiskey to my Soul wat in 2018 uitgereik is, het die weg vir sy musiekloopbaan suksesvol gebaan. Sy musiek vertel stories wat gehore diep raak.

“My inspirasie kom hoofsaaklik van persoonlike ervarings af, maar ek skryf ook soms oor fiktiewe karakters en stories. My musiek is ’n uitbeelding van waarna ek graag self wil luister.”

Ash tree op saam met Dawie de Jager op baskitaar, Matthys Maree op klavier en Riaan Diedericks speel die tromme.

Die musieksessie is tot Sondag 27 September beskikbaar. Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar.

Vrydag 18 September

Mathys Roets se Reën is Lefra se eerste Applous-konsert om 19:00 in Carnival City se Applause-arena. Met die onlangse verslapping van die nasionale inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie is dit nou weer moontlik om produksies aan te bied, hoewel daar ʼn beperking is op die aantal mense wat vertonings mag bywoon.

In tipiese Mathys Roets-styl is elke liedjie in Reën met diepte en warmte gevul. Wat hierdie vertoning so spesiaal maak, is die samevloei van die digkuns en musikale vernuf. Roets deel sy digterlike versamelstukke van die afgelope paar jare op ʼn intieme wyse met die gehoor. Hy het oor die afgelope paar jaar ’n verskeidenheid van gedigte en musiek versamel en hy voel nou, na nege jaar, dat die tyd ryp is om dit te deel.

Kaartjies kos R190 en is hier beskikbaar.

Sondag 20 September

Lefra se Kelderkonsert Amper Oud, met die Afrikaanse komediant, Hannes Brümmer. Die vertoning word Sondag om 17:00 regstreeks uitgesaai.

Daar word gereeld vir Hannes Brümmer gevra of hy hiperaktief is, maar die man sit nooit lank genoeg stil om uit te vind nie! Sy komiese styl is uiters energiek en fisiek, en sy tong bars feitlik deur sy wang. Hy hou daarvan om eerlik te praat oor sy Afrikaanse erfenis, die invloed van die media op die samelewing en die ingewikkelde stryd tussen die geslagte.

Kaartjies kos R120 en is hier beskikbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.