E-konsertgids: Schalk, Lucinda, Jannie du Toit dié naweek op die kleinskerm

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Vrydag 29 Mei

Die komediant Schalk Bezuidenhout is te sien in die tweede aflewering van sy Lockdown Laughs – Schalk reads fairytales– aanlyn vertoning.

Dit volg ná die oorweldigende positiewe terugvoer wat verlede week se vertoning ontvang het, waar Schalk vir die eerste keer feëverhale met ʼn volwasse aanslag voorlees.

Die vertoning begin om 20:15. Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Jannie du Toit.

Die Afrikaanse musiekikoon Jannie du Toit en sy twee gereelde verhoogmaats, Susan Mouton op tjello en Chanie Jonker op klavier en akkordeon, tree Vrydag aanlyn in die konsert Die eggo van jou oë op. Die vertoning word deur die Pierneefteater aangebied.

Dié vertoning sou vanjaar op die KKNK in Oudshoorn te sien gewees het, maar nou is die konsert in jou eie huis te sien.

In hierdie huiskonsert sing Jannie sy hartsmusiek. Daar is liedjies van sy onlangse albums soos Die eggo van jou oë met hoogtepunte uit sy loopbaan en Oesjaar met sy eie splinternuwe komposisies, maar ook gunstelinge uit sy jeugjare soos die pop en folk van die sestiger- en sewentigerjare.

Daarby is Jannie bekend vir sy uitsonderlike weergawes van Afrikaanse en Europese kleinkuns: Die program omvat letterlik Donovan tot by Doep, die Beatles tot by Brel. Die merkwaardige verskeidenheid van die program word ʼn sprankelende vertoonvenster vir sy ensemble van instrumentaliste uit die boonste rakke.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie is ook Vrydag aan die beurt met ʼn intieme aanlyn vertoning waarin sy die room van dié groep se talle treffers sing.

Haar medegroeplede, Jean-Marie Vlok-Korff, Jan-Adriaan Korff en Tim van der Westhuizen, woon almal in die Kaap terwyl sy in Johannesburg is, en daarom het sy die vertoning op haar eie aangepak.

“Ek wou ʼn unieke vertoning lewer en John-Henry Opperman van die groep Klopjag se maatskappy, The Media Farm, het my hiermee gehelp. Die vertoning is baie rou en intiem. Dit is net ek, ʼn kitaar en ʼn paar kerse. Ek sing ook net Melktert-liedjies, behalwe ‘Engele kom’ wat ek soms in live shows doen. Ek gaan ook stories vertel van waar die liedjies vandaan kom en waaroor dit gaan,” het Neethling aan Maroela Media oor die vertoning gesê.

“Ek sing omtrent 13 liedjies in die vertoning – alles van die ou heel eerste liedjies tot die jongste snit, ‘Irrelevant’. Die Melktert Kommissie word in September 18 jaar oud en ek wou net nie ophou speel nie. Ek wou nie hê September moet kom en dan het mense lank terug ons musiek geluister nie, so dit was vir my belangrik dat ons ʼn bietjie sing, al is dit aanlyn.”

Die vertoning is Vrydag 29 Mei om 20:00. Kaartjies kos R80 en is hier beskikbaar. Maroela Media-lesers kan R15 afslag kry deur die promosiekode Maroela te gebruik.

Saterdag 30 Mei

Die Heuwels Fantasties. (Foto: André Badenhorst)

Hierdie Saterdag stel die gewilde musiekgroep Die Heuwels Fantasties sy splinternuwe album, 2021, aanlyn bekend. Die album is onlangs uitgereik. Gaste soos Francois van Coke, Tarryn Lamb en Jack Parow sal ook tydens die vertoning te sien wees.

Die nuwe album bestaan uit 15 nuwe snitte en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch. Die groep is al langer as ʼn dekade deel van die Suid-Afrikaanse musieklandskap en Greeff sê dat hulle met elke album wat uitgereik word, hulle eie tydstip en progressie probeer vasvang.

Die vertoning begin om 20:00. Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar. Saam met elke kaartjie word die nuwe album gratis aangestuur.

Sondag 31 Mei

Alwyn Oberholster.

Goue Oues met Alwyn Oberholster word Sondag as een van Lefra Produksies se Kelderkonserte regstreeks aanlyn uitgesaai.

Op die ouderdom van ses het Alwyn sy passie vir musiek ontdek en so het sy sangloopbaan begin.  Nadat hy aan verskeie sangkompetisies deelgeneem het en die “pub scene” behoorlik gedoen het, het hy besluit om die teater te betree met sy besondere Goue Oues-produksies. Die eerste Goue Oues is tydens die Oppiwater Kunstefees in 2017 vrygestel, en daar was die produksie een van die eerstes wat uitverkoop was. Die Goue Oues-reeks is nou al ʼn instelling tydens die Oppiwater Kunstefeeste weens die gewildheid daarvan. Alwyn het ook tydens vorige Oppiwater Kunstefeeste opgetree met Beautiful Noise – A Tribute to Neil Diamond en Soen My, Druk My.

Kaartjies kos slegs R65 en is beskikbaar by www.itickets.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.