Eldaleen Hugo skep en verf tot iets ‘word’

Edaleen Hugo is deesdae ook ‘n kunstenaar in eie reg. (Foto: Verskaf)

Eldaleen Hugo, dalk meer onder lesers as Vrouekeur se redakteur bekend, is ʼn kunstenaar in eie reg. Sy het met Yolanda Wessels oor haar belangstellings, kuns en toekomsplanne gesels.

Eldaleen en haar geliefde woon tans in Johannesburg. Sy het in Stellenbosch gestudeer met ʼn fokus op geskiedenis en tale (haar twee groot belangstellings) en daarna wye draaie in die wêreld geloop. Sy het allerlei verskillende werke gedoen en vir agt jaar in Europa gewoon. Tot en met die sluiting van Caxton-tydskrifte verlede jaar was haar laaste betaalde werk as redakteur van Vrouekeur. Sy vertel juis dat haar huidige werk en passie ontstaan het toe sy redakteur by Vrouekeur was.

Sy het ʼn groot liefde vir kuns, en in haar geval het die begrip “kuns” meer met die idee te make om iets met haar hande te maak. “Ek hou van die skeppingsproses. In dieselfde asem is ek versigtig om myself as ʼn kunstenaar te beskou as ek aan my kinderjare terugdink waar ek en my oudste broer op die vloer met Lego’s gesit en speel het. My eenverdiepinghuisies was reghoekig met simmetriese vensters weerskante van die voordeur (die enigste deur) met ʼn plat dak, want ʼn staandak was bo my vuurmaakplek. My broer, aan die ander kant, se skeppings was ingewikkelde meerverdiepinggeboue met wenteltrappe en allerlei interessante hoekies. Hy het die argitek geword.”

Sy vertel dat sy self glad nie ʼn argitek kon word nie, maar wat sy wel van kleins af kón doen, was om kleure en vorms bymekaar te laat kom en potensiaal in dinge te sien wat sy opgetel en bymekaargemaak het om in haar eie skeppings te hergebruik. “As dit kuns is, is dit wat ek doen. As ek ʼn groot woord moet gebruik, sou ek sê dit wat ek doen is om dekonstruktief te werk te gaan. Ek neig meer na bont en detail, maar van eenvoud en neutrale kleure skram ek nie weg nie. Ek het jare gelede tydens ʼn lang verblyf in Duitsland klasse in syverf geneem nadat ʼn vriendin wat die klasse aangebied het my aangespoor het. Ek dink die gogga het my daar gebyt om met kleur te speel. Dit was vir my mooi en bevredigend om te sien hoe iets ‘word’.”

Sy het dit vir ʼn paar jaar gedoen, maar later opgehou omdat werk en kinders die grootste deel van haar lewe behels het en 24 uur per dag was net te min. “Ek dink in elk geval dis hoe die lewe werk; ʼn mens het verskillende hoofstukke wat deel vorm van dit wat jy jou storie sou kon noem. Die nuwe hoofstuk in my lewe het in my tyd by Vrouekeur ontstaan en dit het geboorte aan ʼn hele nuwe hoofstuk, persoonlik en professioneel, in my lewe gegee.”

Eldaleen is ʼn paar jaar tevore geskei, haar kinders was uit die huis en haar geliefde het haar die tyd en ruimte gegun om te doen waarvan sy hou. As deel van die dekorblaaie wou sy ʼn krytverf (chalk paint)-kenner betrek om aan lesers te wys hoe om iets nuuts vanuit iets ouds te maak. “Ek het ʼn dagkursus by so ʼn kenner saam met my dogter bygewoon en gedink dit is nogal iets waarvan ek hou. Soos dikwels in die tydskrifbedryf moet spanlede self inspring om blaaie gedoen te kry, dikwels omdat die hoofmanne oor honderd daarop aandring dat daar op elke manier denkbaar geld gespaar moet word. Nadat die kenner so ʼn paar keer werk gelewer het, het ek gesien dit gaan nie vir my werk nie. Ek het besef die kalf is nou in die put en dat ek self sal moet verf om daardie blaaie vol te maak. Dit was die begin en so het ek algaande meer geleer.” Sy is daaroor eens dat YouTube jou vriend is. Hierdie kunsvorm is baie groot en internasionaal is daar heelwat uitstekende kunstenaars by wie sy leer. So het sy uiteraard mettertyd haar eie styl ontwikkel. Enige mens is met sommige tegnieke beter as ander, en gevolglik verkies Eldaleen ook sekere tegnieke bo ander.

“Ek verf hoofsaaklik meubels, maar as ek lus het vir ʼn vinniger projek, hou ek daarvan om rame en houtboksies te verf. Ek werk met verskillende soorte chalk paint en meng nie net verskillende kleure nie, maar ook soms verskillende soorte verf en dikwels ook verskillende tegnieke. Ek sal selde net iets verf. Ek découpage meestal ook en daarvoor gebruik ek enigiets denkbaar: kaartjies, ou almanakke, geskenkpapier, papierservette, afdrukke van kunswerke wat nie kopiereg op het nie, spesiale découpage-papier. Eintlik enige papierding wat sal werk!” Sy gebruik dit nie noodwendig net so nie, en dit is nou waar die dekonstruksie inkom. Sy versnipper en skeur dit om te word wat sy wil hê dit moet word. Dit pla haar ook nie om oor te begin as iets nie werk nie; sy skuur maklik iets af en begin van voor af. Sy vertel dat sy nie aanvanklik ʼn klinkklare idee het van hoe die eindproduk gaan lyk nie. “Dit is ʼn skeppingsproses en daar is nie iets soos ʼn fout nie. As iets nie presies uitwerk soos ek gedink het dit gaan nie, is dit deel van die proses. Daar is natuurlik mense wat sterk voel dat jy nie houtmeubels moet verf nie, en dit is jou goeie reg om so te voel. Moet dit dan nie doen nie. Ek doen dit, want ek het nie daardie vooropgestelde idee nie.”

Hout word nie van gister af geverf nie; om met verf mooi te maak of in te kleur, bestaan al vir eeue; dink onder meer aan rococo-meubels uit die agtiende eeu. Diegene wat dink die antieke marmerstandbeelde en pilare was altyd grys of wit, misgis hulle – dit was eers van kop tot tone in allerlei kleure geverf.

Eldaleen vertel sy het ʼn klein ateljee wat baie lig kry, en daar skep sy vir ure aaneen. “Dit is vir my ontsettend lekker en voel op geen manier soos werk nie. Ek hou van die alleenheid daarvan en verloor tred met tyd en werklikheid. Dit is goed vir my welstand. Ek het al agtergekom as ek ʼn dag of drie nie verf nie, raak ek iesegrimmig en kriewelrig en die alledaagse van die lewe wil-wil my oorweldig. As ek eers my voorskoot aansit, my skoene uitskop en plat op die grond gaan sit met al my goeters om my, voel ek sommer hoe die spanning uit my lyf sypel.” Sy het altyd haar skootrekenaar byderhand en terwyl sy verf, luister en/of kyk sy so af en toe met die een oog na dokumentêre geskiedenisvideo’s. Tot haar geliefde se ontsteltenis hou sy ook van ware moord- en onverklaarbare stories wat ondersoek word. “Dit is vir my soos white noise en dra tot die atmosfeer in my ruimte by. Ek is mal oor musiek, maar luister nie daarna terwyl ek verf nie, omdat die musiek my te veel intrek en ek dan nie fokus op wat ek doen nie.”

In antwoord op die vraag of sy bestellings aanvaar, is die antwoord ja en nee. “Ja, ek sal wel in opdrag iets doen, maar dit doen ek met voorbehoud, want ek hou daarvan om te verf soos ek wil, nie soos ek moet nie. Kliënte is geneig om te sê: ‘Verf net waarvan jy hou, maar ek soek dit en dat en só groot en nie te veel dáárvan nie, en kan jy dít ook doen en hier is ʼn prentjie hoe ek eintlik wil hê dit moet lyk.’ Dan wil ek sê: ‘Verf dit self.’ Opdragwerk beteken daar is brood en botter op my tafel, maar dit kan my styl, kreatiwiteit en entoesiasme inperk.” Kliënte het meestal geen idee hoeveel ure dit neem om iets te kry soos dit uiteindelik lyk nie. As jy ʼn unieke blougeverfde kas sien, is dit nie ʼn kwessie van ʼn kwas en ʼn blik blou verf nie. Dit beteken laag op laag van verskillende kleure en tegnieke en dit is ook nie net ʼn dag se werk nie. Dit wat ʼn mens insit en dit wat jy daaruit kry, is relatief. “As ek my tyd, ervaring en die eindproduk in werklike waarde bymekaar moet tel om die verkoopprys te bereken, gaan ek bly verf en niks van die hand sit nie. Maar ek verf nie omdat ek ryk wil word nie, ek verf omdat dit vir my goed en ontsettend lekker is en as dit vir iemand anders ook mooi is en hulle bereid is om aan my onkostes te help betaal, is dit vir my goed.”

Eldaleen sê daar is ʼn paar goed in die lewe wat sy kan doen, sommige selfs goed, maar bemarking en verkope is gewis nie op daardie lys nie. Sy vertel sy kan nie eens op ʼn mark, waar dit deel van die kultuur is, oor ʼn artikel se prys kibbel nie. Sy betaal eerder te veel as om iemand af te stry. “Dit is daardie deel van my onderneming waarmee ek sukkel. Seker maar soos baie ander mense wat skep, of jy nou verf of skryf, wonder ek hoekom iemand nou dit wat ek maak sal wil koop of lees.”

Eldaleen se dogter en seun is albei getroud. Haar dogter en skoonseun woon in Pretoria en hul oorweeg om oorsee te gaan. Haar seun en skoondogter woon op ʼn eiland in Indonesië. “In hierdie stadium is ek en my geliefde in die proses om ons tentpenne uit te trek om ons op ʼn Griekse eiland te gaan vestig, as die grense nou net wil oopmaak. So, tans verf ek steeds hier aan die suidpunt van Afrika en het voorraad beskikbaar, maar eersdaags hoop ek die uitsig vanuit my ateljee is oor die blou see van ʼn eiland af.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.