Elke hond kry sy dag

Foto: Phillip Bruwer

Wie’s baas of wie’s die hond? Dié vraag sal eersdaags in Pretoria beantwoord word wanneer brakke met hul eienaars kan spog, en andersom. Die Groot Brag Hondepiekniek is ʼn eerste en enigste van sy soort en vind op 7 Oktober in Irene plaas.

“Alle fokus val dié dag op ons vierbeenvriende wanneer spanne honde en hul mense-ondersteuners mekaar die stryd aansê in verskeie beklek en stertswaai uitdagings en kompetisies,” het Sabine Lehmacher, een van die organiseerders, gesê.

Die dag skop af met ʼn pronkparade by die Irene Village Mall waar toeskouers hulle kan regmaak vir ʼn roesemoes van hondespanne, elk met hul eie voertuig, chauffeur, butler en hanteerder – almal uitgevat vir die geleentheid. Die spanne word daar beoordeel en aan die toeskouers voorgestel deur ʼn hondeparade.

Die pret word daarna by die Smutshuis-museum hervat waar die honde getrakteer gaan word met ʼn hondepiekniek; steeds in kompetisie om die beste piekniek vir die vierbeenvriende  voor te sit. Daar gaan ook ander kompetisies wees soos Wie het sy Brakkie se Bakkies? waar Maroela Media die hond en baas gaan kroon wat die meeste na mekaar lyk. Daar is ook ʼn hondekoek kompetisie wat deur die honde self beoordeel gaan word.

“Elke span moet iets of iemand verteenwoordig: ʼn idee, instansie, organisasie of onderneming. Dit kan, maar hoef nie noodwendig hond-verwant te wees nie. Die publiek is ook welkom om, met of sonder hul honde, die geleentheid by te woon,” het Lehmacher bygevoeg.

Belangstellendes wat ʼn span wil inskryf, kan Lehmacher skakel by 082-927-4732 of ʼn epos stuur aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.